ONVOLTOOIDE SIMFONIE

Augustus 1, 2022 in Uncategorized

Vir die MSC Sinfonia het die Van Deventers nou al drie keer gegroet.  Dat ‘n vierde groetslag dalk kan voorlê, was ‘n vergesogte gedagte. Onverwags het so ‘n moontlikheid egter nou opgeduik.  Ons het nie te lank gewik en geweeg nie.

Pas het die bevestiging van ons bespreking gekom: Wanneer die sierlike wit skip op 16 Januarie 2023 na Walvisbaai seil, sal ek en Tokkie op die dek wees – mits die kragte hou natuurlik.

Die eerste kennismaking was amper 13 jaar gelede, op 20 November 2009, op die Sinfonia se eerste vaart in Suid-Afrikaanse waters.  Ek, Tokkie en die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens (toe vyf), was van die eerste  passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het vir die “nooiensvaart” na Durban (Foto).

In vyf seisoene en 150 vaarte vaarte het die skip diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip.  Maar in 2014 is afskeid geneem om in Palermo herbou te word. ‘n Nuwe middelstuk is ingevoeg.  Die laaste Suid-Afrikaanse vaart – ‘n “vaart na nêrens” –  sou op 15 Maart uit Kaapstad vertrek.

Om die Sinfonia op sy heel eerste vaart hier “welkom te heet” en op die laaste “tot siens te sê”  het ‘n historiese dimensie uitgestraal wat vir my aanloklik was.  Boonop was 15 Maart 2014 Tokkie se 68ste verjaardag. Omdat dit in ’n naweek sou val, kon Jacob en Thomas (toe al amper 10) op ’n reünietog saam. Christopher (5) sou sy boot-vuurdoop kry. Die ouers, Brent en Marisa, was vuur en vlam om saam te kom.

Ouma se 68ste verjaardag sou dus ’n lekker familiefees word: ’n geskenk van groot waarde vir haar om so tussen geliefdes op die oop see die dag te kan gedenk. (Foto).  Ons het nie geweifel nie.

Toe ons die Maandag voet aan wal sit, het ons die groot banier teen die kant van die loopplank bemerk: “Goodbye, Cape Town”. Uit die draradio’tjie van ’n hawebeampte het ’n trefferliedjie uit die jare 50 opgeklink: Arrivederci, Roma …It’s time for us to part. Dit was asof die speel daarvan juis op daardie oomblik so gechoreografeer was vir ’n sentimentele herinnering.

Vir my en Tokkie was dit ’n voorreg om saam met ons oudste twee kleinkinders op die eerste vaart van die Sinfonia uit Kaapstad te wees. Nou was ons weer bevoorreg om saam met die volledige Claassens-gesin die laaste mee te maak. Ons Sinfonia-simfonie was daarmee voltooi – of so het ons gedink.

Die middag het ons van ons stoep op Melkbos af die see dopgehou. Op die horison het ons ’n stippel gewaar wat al hoe groter word. Net verby Robbeneiland het ons besef: dis die Sinfonia op pad Palermo toe. Soos die seuns vroeër op die skip, kon Oupa nie verhelp nie om die hand te lig in ’n laaste tot-siens-saluut.

Salute, Sinfonia, het ek geprewel.  Arrivederci. Vaar voorspoedig, liewe skip.

In April 2019 is ek en Tokkie op die MSC Musica na Venesië.  Nostalgie het hoog geloop toe die Musica met sy aankoms in die kleurryke hawe Split reg voor die  vergrote Sinfonia  vasmeer; wat ‘n verrassing. Sinfonia-veterane op die Musica het ver teruggedink en goeie tye herroep.

Van die huidige Musica-bemanning het met breë glimlagte na die dek gestroom om hul “ou skip” van hul nuwe een af te groet. Een gryse kêrel  in uniform was ’n kelner op daardie vaart. Dalk was hy nog die ondeunde een wat die seuns so met slaptjips en roomys bederf het!

Die volgende oggend het die Sinfonia eerste gevaar. Ek en Tokkie het op die dek staan en kyk  hoe die ou kameraad al hoe kleiner word. My kamera het aanhoudend geklik. Dit sou sekerlik die laaste sien wees … (Foto)

Maar nou-ja, nou kom die Sinfonia terug vir ‘n nuwe Suid-Afrikaanse seisoen.  Toe ek die advertensie sien, was die koeël deur die kerk. Ons deposito is betaal. Ons kajuit is op dek nege in die  nuwe stuk wat in Palermo ingesweis is.  Die keer vaar ons ander kinders, Johan en Mariza van Deventer van George, saam.  Ons sien reikhalsend uit.

Ons Sinfonia-simfonie gaan voort.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.