VRESE OOR SKATKAMERS

Julie 29, 2022 in Uncategorized

Die wêreld is ons woning nie. Daaroor is ek dit met die digter Totius roerend eens. Hy merk dit o.m. aan die son wat wyk, aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk en “in alle ding wat in die skemer my omring.”

My lysie van tekens is heelwat langer as syne. Van veranderende waardes tot fisieke agteruitgang en verval maak my mistroostig.

Vanoggend het ‘n diepe mistroostigheid my oormeester toe ek ”Volksblad” se voorblad op Netwerk24 oopmaak. “NALN staan donker en gegrendel”, is die opskrif van die hartseer-hoofberig. Skatkamers van die Afrikaanse letterkunde het net nog ‘n slagoffer geword van die skromelike onbevoegdheid van die nikswerd ANC se treurige kaders.

Die Vrystaatse regering – berug om sy miljarde wat hy op onbekookte dagdromer-projekte mors – het nie geld om die kragrekening te betaal van die karaktervolle ou provinsiale gebou daar aan die bopunt van Maitlandstraat wat NALN huisves nie. Toegang tot die hart van skeppende Afrikaans is van die baan. Ook die toekoms van die Volksbladkamer met al die koerant se waardevolle meubels en onvervangbare memorabilia hang klaarblyklik in die lug. Hopelik net tydelik.
Wat ‘n ellendige besigheid. Om my nog mistroostiger te laat voel, is ‘n beklemming in my gemoed oor wat by INEG by die Vrystaatse Universiteit aan die gang is – nie net oor ‘n eie private versameling uit my koerantdae wat daar ‘n tuiste vind nie nie, maar oor die ramp vir die totale geheue van ons eietydse geskiedenis wat dreig as dinge skeefloop.

Hoop maar instansies soos die Erfenis-stigting en die Akademia-universiteit hou verwikkelinge fyn dop en maak al planne om te red wat te redde is, as dit nodig sou raak.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.