TJORRE MET TITELS

Julie 21, 2022 in Uncategorized

Ter ere van die Chinese Sehol wat nou tot die mortormark toetree, deel ek graag ‘n hoofstukkie oor motorname uit my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” (Griffel, 2010). Dit is ook as e-boek by De Novo beskikbaar. Kyk onder.

Tjorre met titels

“Bankrot Maar Windgat”. So spot sekere BMW-eienaars nogal graag met hulleself. Dit is seker ’n verkiesliker verklaring vir een van die bekendste akronieme op die pad as “Blik Met Wiele” of die Engelse “Bavarian Manure Wagon” – ’n klaarblyklike variasie op die tema van die ou DKW.

Ek soek nie baklei met BMW-eienaars nie – van my beste (en rykste) vriende ry Beamers. Die windgat-etiket kom maar net by my op toe ek by ’n winkelsentrum ’n spoggerige BMW-koepee sien met die plakker: “Was eers my man s’n”.Dis nou fyn spog! Daardie vorige eienaar se egskeiding was klaarblyklik nie ’n goedkoop storie nie!

Tussen fyn spog en selfspot is soms net ’n fyn dun lyn. Nou die dag beland ek agter ’n rammelkassie met die bufferplakker: “My other car is a Porsche”. (Porsche staan glo vir: “Proof Only Rich Snobby Children Have Everything”!)

Van spot gepraat: Op Tukkies was my wiele in my laaste jare ’n piepklein Fiat 500-stasiewa. Dié Fiat is dadelik deur een seksie (spottend) die “Skoolbus” gedoop. Ander se spotnaam was die “Grassnyer”.

’n Amerikaanse webwerf het lyste en lyste van byname vir bekende fabrikate – speels en spitsvondig maar, interessant genoeg, tog hoofsaaklik onvleiend. Ekself is ’n trotse Honda-ryer en stem glad nie saam met die volgende nie: “Had One, Never Did Again!” Ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”

Die BMW se twee Duitse mededingers, die weeldemotors Mercedes Benz en Audi, kom ook nie skotvry af nie. Hoeveel trotse Benz-eienaars sal saamstem dat “My Expensive Road Car Emits Dense Exhaust Smoke – But Efficiency Near Zero?” Audi-eienaars sal seker beledig voel oor: “Always Under Diagnostic Inspection.”

Die volgende willekeurige seleksie word nie lasterlik bedoel nie en moet asseblief nie ernstig opgeneem word nie:

Chevrolet: “Cheap, Hardly Efficient, Virtually Runs On Luck Every Time”;

Fiat: “Fix It All The Time”;

Ford: “Found On Rubbish Dump”. Of agterstevoor: “Driver Returns On Foot”;

Hyundai: “Here’s Y U Never Drive An Import”;Jeep: “Just Expect Every Problem”;Kia: “Kick It’s Ass”;

Toyota: “This One You Oughta Tow Away”;VW: “Virtually Worthless”.Sekere motors het nie spottende byname nodig nie. Motorname kan in sigself rampspoedig wees – veral daardie wat in ander tale gans iets anders beteken as wat die vervaardigers in gedagte gehad het.

Die Opel Ascona beteken glo in Spaans en Portugees ’n intieme deel van ’n vrou se lyf. Die Mazda Laputa is, volgens dieselfde bron, in Spaans die Mazda Slet. Die Pajero van die Mitsubishi Pajero beteken na bewering in Spaans “wanker” (iemand wat masturbeer). Die Nova van die Chevrolet Nova beteken in dieselfde taal eenvoudig: “Dit loop nie!”I

n Japan is verskeie modelle met Engelse name wat ’n glimlag uitlok. Dit sluit in die Daihatsu Naked; Honda Life Dunk; Isuzu Mysterious Utility; Mazda Bongo; Nissan Fairlady Z; Suzuki Cappuccino; Toyota Deliboy en Volkswagen Thing.

’n Mooi Toyota-storie kom van ’n kollega wat diep wortels in die motorwêreld gehad het, wyle Fred Schnetler: Die student se meisie raak swanger en die tyd breek aan dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Hulle daag die Vrydagaand op by die pa se indrukwekkende plaas, maar hy besluit om te wag tot later, wanneer die oomblik geskik is, om die nuus oor te dra.

Die volgende oggend gaan wys die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk is, hom die plaas. Ná ’n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek staan ’n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers is netjies op ’n ry en in die skuur langsaan is twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis is ’n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ’n Corolla.

“Oom glo in die Toyota!” sê die student.

“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”Eenkant staan ’n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “Hy’t 500 000 kilometer op die klok en vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.

Dis toe die student ’n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”“Nee, hoekom vra jy?”“Ai, oom, ek het haar net so ’n ligte ou stootjie gegee toe vat sy!”

“Praat-praat in Tamatiestraat”is by De Novoboeke as e-boek beskikbaar vir net R60 – minder as ‘n goeie hamburger. Die skakel is: https://www.denovowebs.co.za/…/praat-praat-in…/

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.