OM HANDDOEK IN TE GOOI

Julie 14, 2022 in Uncategorized

Voor die besoek aan die kardioloog kry ek ‘n boodskap: Bring jou eie handdoek saam. Ek en Tokkie beraadslaag oor die regte grootte – nie te klein nie, nie te groot nie.

Sy bied ‘n keuse van drasakke. Ek besluit op een en gooi sommer ‘n kam ook in. As jy ‘n handdoek nodig kan kry, gaan jou weerbarstige kuif waarskynlik ook deurmekaar raak.

Daag by die arts op met my drasak in die een hand en die kierie in die ander.

Beland uiteindelik op die gevreesde trapmeul. Dit verby, is die handdoek steeds nie nodig nie. Ook nie die kam nie. Kuif is nog ramkat.

Met die groetslag merk ek op: Dokter wonder seker oor die sak. In hom is my handdoek wat ek volgens die boodskap moes saambring.

“O,” antwoord hy met ‘n vonkel in die oog: “Dis eintlik net vir die ouens wat handdoek wil ingooi. ”

Ek grinnik maar saam. In die motor vra ek vir Tokkie: “Het hy nou ‘n grap gemaak?” Sy weet ook nie, maar vind dit klaarblyklik snaaks.

Elke wakker stonde in die nag dwaal my gedagtes na die handdoek in die drasak. Was die boodskap op die selfoon ‘n stukkie spitsvondigheid waarvoor ek, digte drommel, soos ‘n sak patats geval het? Of het die kardioloog geskerts?

Vraag is: moes ek werklik die handdoek gevat het of nie? Amper lus en bel die praktyk en vra hulle. Maar hulle is besige mense en het dalk nie tyd vir so ‘n beuselagtigheid nie. Nou gooi ek maar handdoek in.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.