NOMMER EEN EN NOMMER TWEE

Julie 14, 2022 in Uncategorized

Jy verkeer in die salige waan jy is nog nommer een. Skielik ontdek jy jy is nie meer nie. ‘n Mens voel of jy in jou tande geskop is.

Arme Faf de Klerk. Hy moes sy nommer 1-posisie as die Springbokke se skrumskakel aan Jaden Hendrikse afstaan. Ek weet presies hoe hy voel. Hierdie skrywe kom uit dieselfde bootjie.In my geval is rugby nie in die spel nie. Kragtie, ek is fluks op pad 82 toe en dit kan maar lol as ek haastig moet skrum skoon maak.

Nee, in my geval is dit banksake. Soos Jaden Hendrikse by Faf oorgevat het, het Tokkie van Deventer op die speelveld by die uwe verby geskuif.Faf het uit die mond van Jacques Nienaber van sy afgradering verneem. My fluitjieblaser was Lichanda Nyirenda, ons Malawiese tuinier.

Hy kom grootoog en skepties verneem wat die SMS beteken wat hy van die bank ontvang het om hom van sy jongste inbetaling te verwittig. Nog altyd is hy deur ‘n JH van Deventer betaal. En nou? Nou’s dit ‘n GS. Wat beduie dit?

Tokkie verduidelik aan Lichandfa hoe die vurk in die hef steek . Die koekieblik het nie verander nie. Net die hand wat daarin gedelf het.

Ek luister belangstellend maar deel nie Lichanda se satisfaksie met die verduideliking nie. Sedert 1958 is hierdie my rekening. Ek is g’n GS nie. Watse kaping is dit die deur ‘n inkommer? Wat de duiwel!

Ek bel die bank taamlik ontsteld – nogal ‘n uitdaging want die foon lui lank en skakel in die proses – so lei ek af – meer as een keer van een telefoon oor tot ‘n ander. Uiteindelik darem ‘n gewillige oor. Nee, hierdie is taksake. Daar trek ons Blouberg toe. Melkbos het nie meer ‘n bank nie.

Maar moenie dink jou nommer -1 posisie val sommer weer in jou skoot nie. Dis jy teen die stelsel. Die het verander, hoor jy. Omdat die app op Tokkie se foon is – my getroue ou werkesel, ‘n Blackberry, is nog te ouderwets vir sulke gedoentes – moet sy User 1 wees en ek User 2, verduidelik die dame – of iets in dier voege.

Ek maak heftig beswaar. My status gee ek nie so maklik prys nie. Eers knor ek. Toe dit moontlik kontraproduktief begin lyk, raak ek die ene stroop. Uiteindelik: ‘n boer maak ‘n plan; ‘n slim bankmeisie ook. Meneer druk hier, Mevrou, druk daar, Die saak raak reg.

So, Faf, daar’s hoop. Byt vas en baklei. Soos ek weer User 1 geword het, kan jy weer met die nommer 9 op jou rug uitdraf. Arme Tokkie, vermoed ek, is nou User 0. Wens dieselfde lot nie met kwade bedoelinge vir Jaden Hendrikse toe nie, maar wat reg is, is reg. As ‘n mens nommer een is, is jy nommer een. Allekragtie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.