KOFFERS MOET ROLSTOEL RY

Julie 5, 2022 in Uncategorized

Koffers op ’n rolstoel – wat beduie dit?  Die storie agter die foto regs is so absurd dat min mense my seker sal glo. Dit is die reine, reine waarheid.

Ek en gade Tokkie het Sondag omstreeks 14:00 op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland op Airlink-vlug  4Z652  uit Skukuza.  In die aankomssaal was geen, absoluut geen, enkele bagasiewaentjie nie.

Die hele vleuel waar honderde waentjies gewoonlik in rye gereed staan, was dol-, dolleeg – ‘n spelonk van verlatenheid.

Verbaasde passasiers  se navrae het min opgelewer. ‘n Algemene verklaring was dat die waentjies “opgeraak” het.  Een lughawebeampte het weer beweer dat die verantwoordelike mense “van diens af” is.  Nog een het opgemerk dat waentjies “laat haal” is. Ons moes net wag.

Niemand met ‘n geel oorbaadjie het laat blyk dat die gekke situasie hom of haar ‘n duit skeel nie.  Met drie sware koffers wat uit die aankomssaal tot in Parkade 2 karwei moes word, was hierdie bejaarde egpaar taamlik benoud. Toe kom vra die dame op die foto  – ‘n ware engel – of sy kan help.

Vervolgens kry sy die ingewing dat ‘n rolstoel die antwoord bied. Sy draf weg en kom met die een op die foto terug.  Twee van die drie koffers kry daarop, plek.  Die derde sleep sy op sy wieletjies agterna.

Die hele ent  – hoeveel honderd meter sou dit wees? –  vat sy ons; ek met my kierie tok-tok op haar hakke.

In die Parkade het ek die foto geneem. Die waentjies wat links sigbaar is, was die eerste wat ons teengekom het.

Dat ek nie haar naam gevra het nie,  is iets waaroor ek myself bitter kwalik neem.  Blameer maar die ouderdom. So ‘n barmhartige Samaritaan verdien gewis groter beloning as ‘n karige fooitjie uit ‘n dunnerige beursie na ‘n lang vakansie.

Maar watter verklaring sou daar wees vir skandelike induiestorting van ‘n heel basiere diens aan passasiers op selfs die kleinste, mees verlate ou lughawetjie?  Dan word die Kaapstadse Internasionele Lughawe  (let wel)  gereeld bekroon as die skynende lig van lughawens in Afrika of iets in dier voege.

Swak Piketberg!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.