BOOMSTAMME EN STAMBOME

Junie 16, 2022 in Uncategorized

Jong vaderlandswilg op ons werf.

‘n Aangename ontdekking by ons agterste lapa in Sabiepark is ‘n sierlike jong vaderlandswilg wat in die covid-tyd stilletjies opgeskiet het. Jimmy Pressly van Skukuza het met die identifisering gehelp. Die mooi combretum word in verskeie dorpe as sypaadjieboom geplant. Dit is ‘n goeie skaduboom in groter tuine.

Kenmerke van die boom is sy grys bas en gelerige blare wat in die herfs helder spatsels van rooi en pers vertoon. Op ons werf staan hy omring van hoofsaaklik sekelbossse. Tussen hulle toring hy uit soos ‘n prins.

Kameelperde, njalas en bosbokke vreet die blare en kameelperde hou ook van die jong takkies en blomme.  Bonthoutkappers verwyder en vreet die saad van groen vrugte.  By waters hou hou reiers en duikers daarvan om in sy takke nes te maak.  Sy hout is gewild as algemene timmermanshout.

Sabiepark se kremetart.

Dat ons ‘’nuwe boom’’ by Tarlehoet so eensklaps oor ouer bome om hom heers, was vir ons ‘n verrassing.  Eintlik behoort dit nie te verras nie.  Hy is bekend as besonder vinnige groeier – vyf meter in drie jaar, aldus Piet van Wyk in sy veldgids tot bome van die Krugerwildtuin.  Die vaderlandswilg word ongelukkig nie baie groot nie – net sowat 12 meter.

Van “nuwe bome’’ en aanwinste gepraat: dan moet ek darem na Sabiepark se kremetart ook ‘n buiging maak.   Die karaktervolle boom, ‘n geskenk van  ‘n vrou van Hazyview, is in November in ‘n bed van klippe tussen die kantoor en die TV-kamer staangemaak, naby die  hekkie by die swembad.

Die strategiese ligging maak dat niemand die trotse boom kan miskyk nie –  nie dat kremetarte juis maklik misgekyk kan word nie, veral nie so ver suid nie.  Ook saans kan jy hom nie miskyk nie.  Soos so ‘n vorstelike boom waardig is, word ‘n spreilig op hom gerig.

‘n Derde spesiale boom om oor huis toe te skryf, is nie ‘n “nuwe boom”nie.  Dis ‘n boom wat ek dikwels uit ‘n ander hoek bewonder het voordat Sabiepark se wandelpad deur die vloed van 2000 weggevee is.  Hierdie vakansie is ek deur die eienaar van die erf waar hy sy magtige skadu gooi, Dawie (Zoti) de Villiers, genooi om hom te kom besigtig: ‘n massiewe besemtrosvy (ficus sur) met ‘n allemintige omtrek van 11,8 meter,

.

Rivierreus.

Besemtrosvy.. By hom is Tokkie van Deventer en Cas en Nella Jacobs van Centurion.

Die boom is amptelik die grootste besemtrosvy in Suid-Afrika en die derde grootste in die inheemse trosvyfamilie.  Hy is Suid-Afrika se 9de grootste inheemse boom.

Sy naam is die  Sabie River giant. ‘n Reus is hy inderdaad daar neffens die Sabierivier by Dawie de Villiers se ruim stoep.Deel dit:

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.