SLANG IN SLAAPKAMER!

Mei 6, 2022 in Uncategorized

‘n Kobra in die slaapkamer, wildehonde in ons straat, romantiese rooibokkies al om die huis en twee gulsige bosnagape wat meeding om die happies op die piesangtafel.  Dit is van die ervarings tot dusver wat weer eens op ons Sabieparkskof, soos op al die voriges, ‘n groot klomp stof vir heerlike kampvuurstories  skep.

Van slange weet ek min.  Ken omtrent net ’n tuinslang, brandslang, pompslang by ’n vulstasie en ’n rubber-speelslangetjie.  My raaiskoot is egter dat die indringer in ons slaapkamer-sanctum ’n kobra moet gewees het, waarskynlik ’n Mosambiekse spoegkobra.

Dis nie ’n saggeaarde vent nie, weet ons uit twee vorige ervarings.  Ek skrik my dus boeglam toe ek gister om 15:30 by die deur instap. Net anderkant die drumpel wag die meneer: bakkop omhoog om sy terrritorium te verdedig.   En die Mosambiekse manne kan spoeg hoor. Dodelik. Tref dit jou in die oë is dit middernag.

Tokkie speel slangwag en ek bel die kantoor: ‘’Kom help gou’’. Sipho daag op met ’n beiligheidsbril en ’n slangstok.  Teen die tyd is ta onder die Van D’s se dubbelbed ná ’n mislukte poging om teen die skuifdeur se glas op te seil, onheilspellende tekens dat die ingeboude kas vir hom na ‘n aantreklike heenkome lyk en allerlei ander glibberige maneuvers.

Sipho ken sy storie. Nie lank nie of die knewel – gewis minstens 1,5 meter lank – kriewel in die greep van die slangstok. Hy word veld toe ontplooi waar hy hoort.  Maar skielik lyk die slaapkamer onveilig. Het die slang juit die dak geval? Skuil daar ander slange in die gras?

Ek wonder hardop of ek nie in die Honda moet gaan slaap nie.  Maar dit raak koel in die nag. ‘n Dubbelbed is in Mei se frisserige herfsweer nie te versmaai nie.

Wildehonde was die langnaweek weer die groot tema in Sabiepark.  Donderdagaand het ’n troppie in Wildevy opgedaag. Ons gaste vir die naweek, Cules, Dalene, Marcus en Anel Malan van Pretoria, was bevoorreg om op die eerste aand van hul kuier nie KWV nie maar WWW by die kampvuur en die braai te kry: Wildehonde op die hoek van Worsboom en Wildevy.

Vrydagoggend het ek hul spoor gevat – die wildehonde s’n, nie die Malans s’n nie.  Daar lê die bont brakke toe in Gwarriebos heerlik aan’t uitrus na nagtelike kaperjolle waarvan die aard en omvang nie aan my bekend is nie.

Die gebied is deeglik gemerk en ure later was hulle steeds daar. So het  werkesel Tokkie darem ook kans gekry om hulle waar te neem.

Dit is die maand Mei, vir die rooibok-gemeenskap die mooiste, mooiste maand. Die liefde blom. Die ramme proes en  brul luidrugtig. Die brulgeluide moedig glo estrus in die ooie aan en lei tot gesinchroniseerde ovulasie, paring en geboortes in November.

Die Van Deventers tref dit vanjaar gelukkig. Rondom ons plek is dag en nag romantiese rooibok-aktiwiteit. Buiten die harde brulgeluide van die ramme, sien ons aan mekaar hoe die ramme mekaar met die kop bykom, bosse met hul horings slaan, hul sterte lig, gaap en vir mekaar met monde wyd oop tong uitsteek – vinnig en verskeie kere.

Laasgenoemde – ook bekend as ‘’tongue flashing’’ – is dominante ramme se manier om hul dominansie te demonstreer.  Dit laat ooie nader aan mekaar bondel en jong ramme op die vlug slaan.

Die ram wat die tamboer slaan, probeer om familietroppe vir  8 tot 12 dae in hul territorium te hou en moet terselfdertyd sy belange teen uitdagers verdedig. Daar is nie eens tyd om te wei nie.  Die ou teer in die tyd op die vetreserwes wat deur verhoogde hormoonproduksie in die nek opgebou is.

Na hoogstens 12 dae is’n ram gewoonlik so uitgeput dat hy deur ’n mededinger verjaag word – arme ding.

(Met dank aan Riëtte vir kennis bygedra deur haar naslaanboek ‘’Aardwolf tot ystervark’’.)

Die “Piesangroete” verskaf Tarlehoet se mense al jare plesier. Nou weer met ons herfsbesoek aan Sabiepark. Dié roete kry lewe sodra dit sterk skemer begin raak. Skielik sak nagapies (galago moholi) en bosnagape (galado crassicaudati) uit alle oorde op die stoep toe vir ‘n porsie – net nie te ryp nie, hoor!

Met die toenemende wedywering van die grotes betaal die “moholi’s” die prys as hulle wag totdat dit goed donker is, soos hul instink hulle lei. Die “crassicaudatusse” met hul groter aptyt, onversadigbare piesanglus en minder verfynde eetgewoontes boer hulle uit.

Die eetgewoontes verskil aansienlik. Die kleintjies raap die lekkernye op soos blits en gaan eet dit fyntjies in ‘n tak van die pendoring. Dit word in die handjies gehou soos ‘n mens met ‘n mielie doen. ‘n Bosnagaap is soos ‘n dorsmasjien. Hy gaffel die heerlikheid behoorlik in, en maak die tafel skoon.  (“Op is mooi,” het my ouma altyd gesê. Bosnagape stem klaarblyklik volmondig saam.)

As twee gelyktydig op die tafel land, word dit ’n eetkompetisie soos min. Hulle vloog onder die skyfies piesang in met ’n drif en ’n verbetenheid wat ’n mens verstom. ’n Beter vertoning kan jy kwalik vir gaste aanbied

Die verskillende eetkulture het ek in twee versies vir my kleinkinders in ’n private bundeltjie “Innibos saam met Oupa” in die versies “Piesangs en pendorings” en “Dorsmasjien” probeer verduidelik:

Nagapies dink: “O jinne, ons droom,

ons pluk stukkies piesang

hier sommer aan ‘n pendoringboom!”

__________                                     

Met sy bieliestert is die bosnagaap

‘n apie-meneer van ‘n ander kleur;

voordat jy kan tel tot tien

draf hy deur ‘n piesang

soos ‘n dorsmasjien.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.