RAMMETJIE-UITNEK TOT DOOD

April 26, 2022 in Uncategorized

‘n Treurige toneeltjie begroet my  op pad huis toe in Wildevylaan, Sabiepark. Twee rooibokrammetjies  lê plat op die grond, horings ineengestrengel. ’n Derde , duidelik erg onthuts, draf op en af en maak ontstelde blaasgeluide.

Een van die twee op die grond lyk vir my dood. Die ander een  haal hygend asem. Ek gaan haal gou vir Tokkie.  Twee koppe is immers beter as een.

Watter treurspel sou hier plaasgevind het? Gou het ons konsensus: klaarblyklik het die twee hul humeur met mekaar verloor. Wat toe volg, was ’n verwoede gekopstampery met hul stewige horings as wapens. Toe raak die horings verstrengel.  Die twee beland half bo-op mekaar hulpeloos op die grond.  Die derde wil help, maar hoe?

Ek neem foto’s en Tokkie soek gou die nommer van die kantoor op haar selfoon om die vreemde gebeurde te rapporteer. Die derde blaas nog ’n keer hard en verdwyn in die bos.  Volgende oomblik: hier is die twee “dooie” of ‘’sterwende’’ bokke op die been. Hulle skud hul koppe woes. Die horings glip los. Een hardloop links die bos in en die ander een regs.

Net die merke op die nat grond bly oor as bewys van die klein natuurdrama wat hom in Wildevy afgespeel het. Ons kan ons oë nie glo nie.

Wat ons hier gesien het, herinner aan ‘n raaiselagtige insident ook met twee impalarammetjies enkele jare gelede naby Satara in die Krugerwildtuin.  Een was teen die grond, skynbaar dood of ten minste uit soos ’n kers.  Die ander het die een stormloop na die ander geloods en met sy voorpote op die gevallene gespring.

Ek en Tokkie, romantiese siele, vertolk dit as liefdesdaad tussen ’n Dawid en Jonatan.  Ons dag die een betuig sy smart met ‘n maat se dood of teenspoed. Aikona, hoor ons toe. Wat ons daar waargeneem, was impala-aggressie wat selfs verby die dood nog nie uitgewoed was nie.  Die ou mooi bokkies se lonte is kort. Hoe langer die geveg duur, hoe kwater word hulle vir mekaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.