VREESLOSE VERKENNER

Maart 19, 2022 in Uncategorized

Alwyn wie? So kan ek baie mense hoor vra as die naam van Alwyn Schlebusch genoem word.  Tog was die man van inbors een van die gedugste en invloedrykste politici van sy era; ‘n toegewyde voorloper en verkenner in die soeke na ‘n politieke oplossing vir die krisis waarin die land al hoe dieper aan die versink was.

Hy was ook – en dit is vir hierdie oud-Tukkie belangrik –die oud-student van ons geliefde alma mater wat – as die adjunk-staatspresident van 1980 tot 1984, die eerste en enigste in die ou bedeling – die hoogste sport in die politiek bereik het. Ja-nee, nie net die Maties en Pukke (en Kovsies?) het staatsmanne van formaat opgelewer nie!

Die Universiteit van Stellenbosch het ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken vir sy baanbrekerswerk as voorsitter van die grondwetkommissie wat die fondament gelê het vir die totstandkoming van die Grondwet van die RSA as Wet 110 van 1983 en die driekamerparlement. Min mense wat in die era – noem dit die PW-era – naby die politiek geleef het, sal oor die verdienste daarvan verskil.

Trouens, die aktiewe rol wat hy veral in die tydperk 1978 tot 1983 gespeel het om uitweë uit Suid-Afrika se politieke dilemma te probeer vind, verdien in my oë veel groter erkenning as net dié van Stellenbosch.

Algemeen word erken dat die soliede Vrytater as Vrystaatse leier van die NP ‘n deurslaggewende rol gespeel het om die hervormingsgesinde PW Botha as partyleier en eerste minister in die stoel te plaas. Daarna het hy as voorsitter van verskeie sleutelkomitees, kommissies en rade op vele terreine die boustene van ‘n nuwe bedeling help identifiseer en bloudrukke help ontwikkel. Sy kragtige toekomsgerigte toeprake was deurgaans rigtinggewend.

Die wit politieke landskap het in daardie jare vinnig verander.  Grondwetwysigings is deurgevoer wat gelei het tot die afskaffing van die senaat, die stigting van die Presidentsraad en die skep van die unieke pos van adjunk-staatspresident, waarin hy die vanselfsprekende bekleder sou word.  Teen die oplaaiende regse weerstand – en veral ook in sy eie povinsie – het Alwyn Schlebusch soos ‘n rots gestaan. Oral op die nuwe pad was sy diep spore waarneembaar.

In sy termyn as adjunk-staatspresident het die vreeslose Schlebusch meermale as buffer vir PW Botha se toenemende baasspelerigheid en konfrontasionele styl moes dien. Ministers het hom gerespekteer vir sy waardige en stoïsynse weerstand teen sekere optredes wat hy as afkeurenswaardig geag het. ’n Vervreemding was op die lange duur ongelukkig  onvermydelik.

Sy politieke loopbaan van langer as vier dekades het in die 1940’s as burgemeester van Hennenman begin.In 1961 het hy ‘n lid van die provinsiale raad vir Kroonstad-Suid geword. ‘n Jaar later, in 1962, is hy gekies as LV vir Kroonstad, ‘n posisie wat hy 18 jaar lank beklee het. Hy het ook as voorsitter van die Schlebuschkommissie gedien, wat buitelandse befondsing aan anti-apartheidsorganisasies ondersoek het, en was speaker van 2 Augustus 1974 tot 1976 toe hy in die kabinet opgeneem is.

In 1985 is hy as kanselier van die Universiteit van Pretoria ingehuldig. Hy wat soveel ander hoë posisies beklee het, het groot waarde aan die kanselierskap geheg en sy donkerblou kleurbaadjie met die Tukkiewapen op die sak graag gedra – nes die uwe.

Sy eerste vrou, Isabel, was die stigter van die Toktokkie-kankerbeweging. Sy is in Oktober 1996 weens borskanker oorlede. Hy is daarna met Jeanette Rouen getroud. Sy is twee jaar voor sy afsterwe op 7 Januarie 2008 op 90-jarige ouderdom ook heen.

Kan mos nie wees dat iermand van sy stoffasie sommer net vergeet word nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.