PETER SE KLIP

Maart 9, 2022 in Uncategorized

Geld groei nie aan bome nie … ook nie klippe nie.

In Sabiepark is ‘n klip in ‘n boom wat lyk of dit saam met die boom kon gegroei het. Hoe anders verklaar ‘n mens daardie bielie se teenwoordigheid hoog en droog in ‘n mik van ‘n huilboerboon (ai, watter gedugte boom!) drie meter bo die grond?

By al die ander monumente vir wyle Peter Malan in Sabiepark is die klip gewis een van die onverganklikes.

Peter, die fyn jintelman wat jy altyd deur ‘n ring kon trek, boomkenner, gholfspeler en konstruktiewe lid van die Sabiepark-komitee, wat  vanoggend oorlede is, het die tamaaie klip jare gelede in Maroelalaan ontdek op een van sy gereelde staptogte kruis en dwars in die park.

Dit weeg maklik 60 kilogram …. en dis net ‘n konserwatiewe raaiskoot. Dalk is dit swaarder, want soortgelyke klippe op die grond kry jy nie geroer nie.

Niemand kon die eienaardige verskynsel ooit  vir Peter geloofwaardig verklaar nie. My eie instintiewe teorie was klaarblyklike bog. Dit het ek gou ingesien. Geen sprake kan tog bestaan dat die klip daar neergesit/opgehys is toe die huilboerboon nog jonk en heelwat kleiner was nie.

Watte brose jong takke sou immers daardie gewig kon dra; wat nog te sê van soos ‘n wafferse kampioen-gewigopteller in die lug opstoot?

Die troos is dat ek, volgens Peter, nie al een is wat so klaarblyklik misgetas het oor die oorsprong van daardie klip in die boom nie. Die meeste mense raai maar dit moet die boom self wees wat dit op die een of ander duistere manier gekry het op die plek waar dit nou stewig rus.

Wel, as dit nie die natuur was nie, moet dit mensehande wees. Mense het darem die piramides ook gebou!

Maar wanneer, hoe en waarom?

Iemand gooi ‘n klip in die bos dat die klip drie meter hoog in die huilboerboon dalk met die draai van rieme in ‘n lang vervloë era verband kan hou. Soos ek die prentjies uit my skoolhandboeke onthou, was die klip vir daardie aktiwiteit egter onder aan die riem, nie bo nie.

Of wat praat ek alles?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.