GERRIE EN KALLIE – BLY KWADE BLOED VLOEI?

Januarie 29, 2022 in Uncategorized

Kallie Knoetze figureer nie in die beoogde rolprent oor Gerrie Coetzee nie – dit is die nuus uit die Knoetzekamp.  Geen foto nie, niks. Nie eens sy naam word vermeld nie. Die kwade bloed tussen die twee swaargewigte vloei ná dekades steeds volstoom voort, lyk dit.

Oor hul ongemaklikheid met mekaar het albei boksers openhartig gepraat toe ek in 1978 met hulle gesels het vir die rubriek “Onder vier oë” in Beeld – twee maande uit mekaar, eers Kallie, toe Gerrie.

Die bynaam “Gerrie ‘Seer Handjies’ Coetzee” wat Kallie vir Gerrie gegee het, was klaarblyklik by laasgenoemde ‘n teer punt.  Ook dat  ‘n geveg tussen Gerrie en die legendariese vorige wêreldkampioen “Smokin Joe” Frazier op die nippertjie deur die mat geval het; Kallie het toe wel die kans gekry wat Gerrie moes ontbeer.

Kallie het op sy beurt uitgepak oor die  “dinge wat Gerrie aanvang” en wat hom,  Kallie, teen die bors stuit.  “Kyk laas toe klein Charlie Weir verloor het. Toe moes jy vir Gerrie hoor – dit was net kritiek, kritiek, kritiek.”  Dis mos ‘n teken van jaloesie. “Ek is anders.  Ek gun elke mens sy sukses. As ‘n ander bokser voor my ‘n wêreldtitel wen, sal ek sê: ‘Pragtig, pragtig’”.

Met my besoek aan sy Oos-Randse hoewe was Gerrie vier maande laas in die kryt, en gefrustreerd. Hy het uitgesien om in daardie tyd in Suid-Afrika teen Frazier te boks. Toe dit deur die mat val, kom die nuus dat Kallie wel ‘n geveg teen Frazier gaan kry. Dit het hom “siek” laat voel. Hy is lus om te sê Kallie het hom “onderkruip”. As Kallie verloor “gaan ek dalk partytjie hou”.

Maar só suur was hy darem nie dat hy ‘n aanbod wou aanvaar om Frazier vir die geveg te help voorberei nie?  “Nee,” het Gerrie geantwoord, al hy ken Kallie se swakplekke soos ‘n boek, sou dit darem te erg gewees het om dit aan Frazier te gaan uitlap.  Dit sou hom laat voel hy is nie “die naam Suid-Afrikaner waardig nie.”

Hy nie vir Kallie eerste begin slegsê of afbreek nie, het Gerrie aangevoer.  Maar wat Kallie oor hom kwytraak, sal hy nooit kan vergeet nie. Die dinge tussen hulle het ‘n “bodemlose put” geword.

Kallie het “sy bek so vol”, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit” en groet. Gerrie groet nie terug nie, en sal voortgaan om Kallie te ignoreer. Waarvoor ‘n man groet wat spog hy gaan jou kop van jou lyf slaan? “As hy teen my is, is ek teen hom.”

Hy het Kallie twee keer “goed opgedons”. In twee van hul ses gevegte het hy hom vir die volle telling planke toe gestuur (die ander vier het taamlik gelykop verloop – HvD). Al sou Kallie ook wêrelkampioen word, is hy, Gerrie, eintlik die kampioen. Hy het teen harder manne baklei en gewen.

Die gesprek met Kallie in Pretoria was ‘n week nadat hy die Amerikaner Duane Bobick in die tiende ronde van hul geveg in die Randse stadion met ‘n regter teen die kinnebak aan die slaap gesus het. Bobick is deur die nimlike Frazier afgerig oor wie die onmin tussen hom en Coetzee só hoog gevlam het.

“Ek het sommer voor die geveg al in die arme man se oë gesien hy’t geen vertroue nie,” het Kallie geborrel.  “Toe die skare Die Stem sing, het my bors geswel en ek kon sien Bobick skrik hom boeglam vir die trotse Boerseun.”

In die geesfdriftige skare was o.a. Pik Botha, minister van buitelandse sake, wat afgeneem is waar hy hy opgewonde die vuis bal. Dat hy die minister so opgewonde kon maak, het Kallie, die patriot, se bors opnuut  laat swel.

“Gerrie, wie’s Gerrie?”  wou Kallie weet. “Hy is maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.”

Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy volgehou.  Hy gaan dit syne maak. Vir Suid-Afrika en vir die polisie (hy was voorheen polisieman). ‘n Mens veg vir jou land, dit het hy by daardie groot sport-amsasadeur Gary Player geleer.  Bring maar die groot kanonne soos Ali en Ken Norton. Sê vir hulle hulle kan maar vergeet van Gerrie “Seer Handjies” Coetzee.  Dis die “Bek van Boomstraat” wat hier op hulle wag. En hy’s honger.

Naskrif:  Die “honger” Kallie het dit toe nie gemaak nie; Gerrie wel – dalk tog “against all odds”, soos die titel van die beoogde rolprent gaan wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.