OM OP VOORBLAD TE STERF, OF NIE

Januarie 17, 2022 in Uncategorized

Wie se dood is voorbladnuus? Wie haal die koerant se plakkaat? Wie kry banieropskrifte of selfs ‘n gedenkvoorblad soos deesdae mode word (kyk Die Burger se voorblad ná die dood van kerkman Desmond Tutu).

Sulke oordele oor die nuuswaarde van sterfgevalle word gereeld in koerantredaksies geneem.  Soms kry hulle dit doodreg (as ek die woord in die sin mag gebruik).  Soms struikel hulle maar.

Een sterfgeval wat wyd misgevat is, was die van NP van Wyk Louw, voorste letterkundige, op 18 Junie 1970, klink dit vir my uit prof. JC (Jaap) Seyn se formidabele tweeband-biografie van meer as 1 000 bladsye oor die groot man.

Die nuus het taamlik laat op 18 Junie bekend geword. Die Volksblad  – toe nog ‘n gerekende middagblad met ‘n sterk klem op “vandag se nuus vandag”  – het ‘n  groot berig op voorblad ingekry.  Hy het die nuus die prominentste van alle middagblaaie gehanteer.

Sy hoofberig was egter oor ‘n lank vergete griepepidemie wat die land geteister het.  Hoekom was Louw nie hoofberig nie soos met die dood van die digter Totius op 2 Julie 1953?  Dit is nogal ‘n vraag. “Totius ontval Afrikanervolk” was die opskrif van daardie dag se hoofberig.

In Junie 1970 was ek nuusredakteur. Ek onthou eerlik egter niks van Louw se dood nie.  Was ek dalk in die wildtuin? In elk geval is nuuskeuring nie die nuusredakteur se verantwoordelikheid nie.  Gelukkig hoef ek nie te probeer verduidelik nie.

Die oggendblaaie van 19 Junie het voorbladberigte bevat maar dit was ook nie hoofberigte nie.  Is die nuuswaarde van Louw se dood deur Die Burger dus laer aangeslaan as dié van Langenhoven op 16 Julie 1932?  Dié is onder ‘n banier aangekondig:  “Suid-Afrika verloor as Langenhoven”.

Volgens Steyn is die nuus dat die Afrikaanse taalgemeenskap Louw verloor het, ‘n “bietjie verdring” deur ‘n hoofberig oor ‘n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. Was dit werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus?

Natuurlik het ná Louw se dood talryke hoofartikels en huldigingsartikels verskyn.  Die koerante het vinnig die aanvanklike agterstand ingehaal.  Uitwis, kon hulle dit nie.

Interessant (eerder verrassend) is die feit dat Louw se roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden ook kleiner was as wat ‘n mens sou verwag het.  Dit was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenene berig.  Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie en die  kerk was nie vol nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon het Die Transvaler berig; 350 aldus The Star en 300 aldus die Rand Daily Mail.  (Beeld sou natuurlik die syfer korrek gehad het. Oogknip, oogknip. Die koerant het egter eers in September 1974 sy buiging gemaak. )

Die grootste ironie met Louw se dood sou nog volg.

Die plan was om sy as te strooi by Verlatenkloof naby sy geboortedorp Sutherland (Sutterland). ‘n Gedenkplaat sou teen ‘n rots aangebring word, soos in die geval van Leipoldt in die Hantam. Sy broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou sorg.

Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie (Human), om self die werk te laat doen.  “Anders raak dit nooit gedoen nie!”) Sutherland sê dit is reg.  Joernalis Franz Kemp (eggenoot van Louw se dogter Reinet) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.

Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was verbaas. Niemand het gevra dat dit in bewaring gehou word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi.

Truida het toe maar ‘n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring.  Daarop staan eenvoudig net: NP van Wyk Louw, digter, 1906 -1970.

“So was hy uiteindelik finaal “naamloos onder die naamloses”, soos hy een maal in 1950 wou wees, skryf Steyn.  “Dit is ‘n einde wat byna so aandoenlik is as die Van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ‘n massagraf gestort is.”

En dan die aangrypende slotsinne van Louw se lewensverhaal: “Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand.   Nieman kan kan sệ waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie .”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.