KARIKATURE OP TV-SKERM

Januarie 8, 2022 in Uncategorized

Die groteske, verwronge, karikatuur-agtige gesigte van allerlei politci en ander leidsliede waarmee die Zoom-kamera TV-nuuskykers elke dag peper (hoekom dan so?), herinner my aan ‘n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is.

Nelson Mandela, vars uit die Victor Verster-gevangenis, was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.

‘n Komplikasie was dat die ander in ‘n ateljee in Johannesburg was; ek het op my eentjie in Bloemfontein gesit en stip in die oog van ‘n kamera op ‘n driepoot gestaar. ‘n Tweede komplikasie was dat die aanbieder, Clarence Keyter, en die  welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ‘n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!

Later het die Vrye Weekblad Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het.  Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”

Gelukkig het ek die dag na die opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie wou nou nog ‘n tweede marteling verduur om na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk!

Me. Bauer het darem ‘n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the telvision-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr. Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?’”

Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ‘n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.

Ek onthou wel hy het bra korte mette van die vragie gemaak: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!

Ek sê maar niks.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.