PAPPA DRA SWAAR OP OUJAAR

Desember 31, 2021 in Uncategorized

Op Oujaarsdag 1976 was die Van Deventers se kennismaking met Disneyworld in Orlando, Florida: die “Magic Kingdom” van Micky Mouse, Goofy, Winny the Pooh en diesulkes. Die dag was nie sonder sy uitdagings nie.

Kenners van Disneyworld het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, was ons in die voorhoede. Op ‘n drafstap is ons deur die Disney-kammawệreld reguit “Fantasyland” toe. (Daar was ook nog ‘n Adventureland, Frontierland, Tomorrowland en Liberty Square.)

Heel gou was ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek vandag by 55).

By die “20 000 Leagues Under The Sea” is kleinsus se opvoustootwaentjie by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart het ellende gewag: die stootkar was spoorloos. Vir ‘n kort rukkie het dit kleinsus op haar beentjies geplaas. Die res van die dag was sy op haar pa arm, boonop nie in ‘n lekker bui weens haar verlies.

Nou-ja, die “koninkryk” is 11 000 hektaar groot; groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek had ‘n eie “vloot”: ‘n armada van 200 skepe. Net Amerika, Rusland, Brittanje en Frankryk kon met meer duikbote spog. Om dinge te kompliseer, het Mickey se domein die dag ‘n rekord-getal van 80 000 besoekers gelok.

Om die kroos by Mickey af te neem, was een van die dag se prioriteite, maar weens die malende mensemassa een van die logisties beproewendste uitdagings van ons besoek. Vasbeslote moeders het geveg soos tierkatte om hul afstammelinge met geweld bo-oor en dwarsdeur ander kleingoed te stamp vir ‘n eksklusiewe foto.

Ma Tokkie, Johan en Marisa was net mooi in pa Hennie se korrel, toe Marisa skielik kamerakoors – of dalk muiskoors – ontwikkel. Nietemin, die foto is uiteindelik geneem en hang nog altyd hier op Melkbos. Vanaand sal ons ‘n glasie lig op die vriendelike muis met die groot ore, 45 jaar na daarde gedenkwaardige dag.

So minus Marisa se wiele was dit natuurlik veral vir vader ‘n vermoeiende 12 uur. Glo my vry. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.Die konfrontasie met die ouers was kort maar intens. Eers het hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking was dramaties. Mamma het die kleintjie gegryp en laat vat. Pappa is agterna met sy kuif wat in die wind flap.

Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel.

Een van ons aangename herinneringe vroeër die dag was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.

Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disneyworld. Tot by ons motel en nog later die aand het ek daardie wysie bly neurie en oor die wesenlike waarheid van die woorde gemymer. “I’ts a small world after all”, is dit nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.