LANKMOEDIGE KAPOUS

Desember 17, 2021 in Uncategorized

Kapous saam met my en Tokkie op ons boshuis se stoep.

Alle lede van die spesie homo sapiens is natuurlik nie ewe lankmoedig en genaakbaar nie. ‘n Spesiale pakket van deugde word geverg om ‘n lughartigheidjie te kan uiter nadat bobbejaan se kind jou domein binnegedring, al jou breekgoed (plus ‘n paar onbreekbaarhede op die koop toe) gebreek, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn gevlek, jou biltong uit jou bakkie geskaai, ‘n gat deur jou grasdak gedolwe, jou kos, pille of toiletpapier gegaps, in jou bed ingekruip of in bloedige hitte in jou swembadjie kom afkoel het nie – ‘n morsigheid as jy ooit een gesien het.

Om in sulke tergende situasies selfbeheersing te behou, stel hoë eise. Ek bewonder die lankmoedigheid van vriende soos wyle Kapous Mouton van Vreklekker, erf 167, Sabiepark, wat vroeër die week oorledee is. Sy gedenkdiens is more (Vrydag) in Pretoria. Hy het die kuns geken om te midde van erge teisterings met ‘n skouerophalende “ag nou-ja” te kon reageer.

Die lankmoedigheid van Kapous, oud-onderwysman van Montana, Pretoria, ‘n bosvriend met ‘n huis in dieselfde straat, is ‘n keer nogal kwaai getoets toe sy peperduur nuwe bifokale voete kry. ‘n Deeglike soektog op elke moontlike en onmoontlike plek kon niks oplewer nie. Die bril het as’t ware tussen neus en ore verdwyn.Kapous moes maar sy oë skrefies trek en sy verlies aanvaar. “Ag nou ja,” was sy lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy Beeld beter te kan lees.

Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor sy vrou, Leonora, by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk flits word dadelik ingespan. Al wat die straal optel, is twee dowwe “ogies” op die grond – te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis toe nie glimwurms nie. Dis Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Een van die brilglase het ‘n lelike krap gehad en een neusie was mors-af.Die bobbejaan moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul. Kapous self kom darem weer lekkerder reg met sy koerant!

Kapous en Leonora saam met Herman le Roux in Sabiepark

Nie te lank daarna nie trek Kapous en Leonora weer aan die kortste end. Hierdie keer is dit ‘n klassieke bobbejaan-inval op soek na kos. Elke kas word oopgeruk. Vloere lê besaai met stukkende eiers, pap, papaja, meel, suiker, koekies, kookolie, verskeurde plastiek en wat nog – gemeng met die invallers se eie uitwerpsels wat blykbaar deur sulke vandalisme tienvoudig gestimuleer word.

Net een blik beskuit is die Moutons gespaar. Die deksel was toegeplak.

Dit was vyf uur lank se swoeg en sweet om die orde naastenby te herstel. In Sabiepatk se Nuusbrief het Kapous egter in kleur en geur, met kenmerkende humor, van die wedervaring vertel .

Veral twee opmerkings was vir hierdie leser nogal verrassend.

Nommer een: hoe hy in sy geestesoog kon sien hoe ‘n jong knaap ‘n sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag om ook te deel in die fees. Mielies spat in elke rigting.

En dan die kersie op die koek: “Ons het die dag maar beskou as ‘n welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker die eerste reg het op die bos. “Lank lewe die bobbejane!” “Lank lewe die bobbejane” – verbeel jou!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.