KOSBARE KUIER VAN KARPERD-KOLLEGAS

November 29, 2021 in Uncategorized

Hennie Van Deventer

Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeef, dryf hulle in later jare weg van mekaar of  maak die verhouding hegter.  MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is.

Daarom was gister se kuier by Johan en Zandra in die Strand so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede.

Vir ons sou dit heerlik gewees het om daardie twee spesiale mense op ons oudag gereeld te sien.   Omstandighede bepaal dit anders.  Helaas. 

Dit klink seker onbeskeie maar ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy dinamiek (waarvoor ek gedeeltelike eer sal opeis) en die liefde wat mense vir die rubriek Stop van Myne gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels. 

Johan het gister met ons aan koms ‘n los kruisband vir my vasgeknoop. Hy  het vir my voorheen baie simboliese kruisbande vasgeknoop, Ek is dankbaar daaroor. 

Hiermee enkele stukkies uit ‘n HvD-blog van 2014 waarin ek Stop se waarde besin:

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies. Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders. Die era van die “Oom” was ook ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie. As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd. Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys. Net terloops.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.

Ek staan bankvas by elke woord.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.