DRIEKUNS IN DIE BOS

November 19, 2021 in Uncategorized

Hennie Van Deventer

‘n Driekuns op die krieketveld  veroorsaak groot opgewondenheid.  Die bouler is uit sy vel . Sy spanmaats storm op hom af om geluk te wens. Laat ek julle vertel van ‘n sonderling driekuns in die bos.

Die “bouler” se naam is Caroline Pols-Dijkstra, ‘n mede-Sabieparker, met haar wortels in Heerhugowaard in Nederland.  Die “veld” se naam is Tarlehoet, die Van Deventers se bosplek aan die Sabierivier by die Krugerwildtuin.

‘n Keer kry ons van daar ‘n ontstellende onheilsboodskap: “Die hemel weet wat julle huis getref het.”  Dit blyk dat rame van mure geruk is, breekgoed is stukkend, glas lê gestrooi op die vloer, gordyne is aan flarde.

Caroline kuier in die Polswoning, Gecko, in Gwarrieboslaan. “Asseblief gaan kyk tog,” pleit ons by haar.  Ná ‘n eerste besoek is die raaisel onopgelos. Met ‘n tweede betrap sy die sondaar op heterdaad.  Toe sy die voordeur oopskuif, kom hy met die trappe afgewaggel: ‘n uitgevrete veldlikkewaan.

Die kantoor het hom met knypers kom haal en by die piekniekplek gaan los.  Ons hoop hy is in die Sabierivier vort Mosambiek toe.

‘n Ander gedenkwaardige keer het sy en Gert, haar ontslape eggenoot, die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer, soos ons wederkerige gebruik is, of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper ‘n  luiperd se peuselhappie word.

Gelukkig het Gert uit die motor by die stoep se ingang die puntjie van die stert gewaar. Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.

Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.

Dit was Donderdag 19 Maart 2015. Wat ‘n spesiale dag, wat ‘n halleluja-oomblik, om ‘n vriend, Manie Malan, ook al saliger, aan te haal. “Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline  laat weet.

Pasede Woensdag is Caroline weer op Tarlehoet  met ‘n lysie van dingetjies om te kontroleer.  “Kyk asseblief of dit reg is, en dit en dit”  ….  Een is ons sonpanele. Dié moes stutte kry omdat ons in Augustus ontdek het hoe gevaarlik hulle kantel as hulle in die wind wieg.

Maar o wee. Die stutte het nooit gekom nie en die paal het geknak.  Die panele lê plat. Onderstebo. Gesig na onder. Moes net die vorige aand gebeur het, want die yskas is nog koud.  Die batterye het nog krag.

Noodstappe kon dadelik getref en die skade dus beperk word.

Eers die likkewaan, toe die luiperd, toe die sonpanele. Elke keer was die parate Caroline op die toneel.  Elke keer is foto’s Melkbos toe geblits.  Hoe sê ‘n mens dankie, Caroline?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.