‘N REIS DEUR DIE VORIGE EEU

Oktober 14, 2021 in Uncategorized

Verbeel jou jy klim in ‘n “hi-tech”-hysbak wat terselfdertyd ‘n tydkapsule is. Dit woerts jou nie net van een verdieping na ‘n ander nie maar ook van een era na ‘n ander.

Druk knoppie een en jy klim uit in die 20’s. Knoppie twee vat jou na die 30’s. Wil jy 40’s toe druk jy knoppie drie.

Maak jou klaar vir so ‘n nostalgiese ervaring in die huismuseum – as so ‘n woord nie bestaan nie, patenteer ek hom terstond – van wyle Leo en Kate Kritzinger in Proteahoogte, Brackenfell in die Kaap.

Leo, ’n versamelaar sonder weerga en ‘n man met ‘n onversadigbare skeppingsdrang, is in Augustus op 73 aan ‘n Parkinsons-verwante beroerte oorlede. Hy het 25 jaar met die die siekte gekom. Tot sy nagedagtenis het Kate ná sy dood sy “goeters” liefdevol tussen hul waardevolle Victoriaanse meubels uitgepak – dit oorheers in vyf, dalk meer, vertrekke.

Ek en Tokkie het gister besoek. Ons kan nie uitgepraat raak nie.

Vir konteks: ‘n veelsydiger man het ek skaars geken.  Sy vele stokperdjies het ingesluit: spotprent-teken, fotografie, die versamel van boeke, tydskrifte, koerante, 78-spoedplate en grammofone,  modelmotorjies en ou motors, asook verwante memorabilia. Lang ure elke dag is opgeslurp deur die entoesiastiese beoefening van elkeen daarvan.

As ek ‘n lysie van vyf van sy voorkeur-passies probeer saamstel, sou dit so lyk:

  1. Ford
  2. Die Titanic
  3. Coca-Cola
  4. Elvis Presley
  5. Alles wat outyds is

Die huis wemel van aandenkings hiervan en van hope ander dinge. Dis in stapels,soos sy honderde grammofoonplate, in rakke wat hy self gebou het, soos sy verskeidenheid outydse kruideniersware, teen mure in die vorm van plakkate, foto’s, programme (ook programme van musiekaande wat hy aangebied het) en  spitsvondige kammavoorblaaie vir vriende,  op tafels in die vorm van plakboeke, op stoele soos lisensiehouers met motorembleme, op die vloer soos sy stapel ou koffers en staanradio’s.

Leo was by uitstek ‘n Fordman soos min. Sedert 1982 was hy lid van The Early Ford Car Club of South Africa. Die redakteurskap van die klubtydskrif, The Early Ford Times, het hy ongeveer 20 jaar behartig. In 2002 het hy die restourasie van ‘n spoggerige 1932 Ford V-8 sedan voltooi — `n vervullende taak wat twee en ‘n half jaar geduur het. Sy Fordjie was onder meer te sien in die Hollywood-fliek Ask The Dust wat grotendeels in die Kaap verfilm is . Dié is later verkoop.

In sy Coca-Colaversamelings is ‘n reuse-Kersvader, ‘n rooi Coke-vrieskas, ouderwetse Coke-botteltjies met hul oorspronklike inhoud, proppies en wat nog.  In ‘n hoek staan die grootste Tobleroneverpakking wat ek nog gesien het. Kom van vriende uit Switserland. Die sjokolade is lankal verslind.

Sy passie vir die gedrukte media blyk uit talryke boeke, plakkate en foto’s – dosyne der dosyne foto’s.   Hy het in verskeie tydskrifte se redaksies gedien as ontwerper en hoofontwerper, onder andere Scope, MAN/Magnum, Huisgenoot, YOU en TV Plus. Hy was ateljeehoof van Huisgenoot en YOU se bladuitleg-afdeling vir bykans 15 jaar.

Later het hy daardie kundigheid aangewend om boeke te maak. Die een oor ‘n reünie van Philippolis se matrieks van 1965 is klassiek.  Glo geen ander matriekklas van enige skool kan met so iets spog nie. Verskeie Ford-boeke is tussen al die ander raakgesien. Daar is selfs ‘n boek oor my geliefde Sabiepark. Daaraan het ons saamgewerk. Sy aandeel was die reuse-een.

Twee die mure is oudhede soos ‘n telefoon uit die jare toet. Op ‘n tafel is tikmasjiene wat saam met Noag in die ark kon gewees het. Hy het een spokie genoem. Die rede is duidelik.  Ek het Kate afgeneem by die opgestapelde ou koffers  (elegante goed, hoor).  Daar is verskeie ou staanradio’s, ‘n koffiemeul en ou waaiers.

Om die plakboeke intensief deur te blaai, sou ‘n mens ‘n week kon besig hou. Wat dadelik tref, is hoe kleurryk en kreatief advertensies in die ou dae was.  Kunswerke as’ t ware.

Ek moet halt roep maar ek is ver van uitgeskryf. Soos ek skryf, onthou ek meer. Hopelik dra die klompie foto’s by om groter reg aan my onderwerp te laat geskied.  Maar ook dit is te min, te ontoereikend. Gelukkig staan sy monumente vir altyd.

As iemand wil gaan kyk, sal Kate nie ongeneë wees nie. As versamelaars  wil kom rondkyk met die oog op die uitbreiding van hul eie versamelings, sal hulle welkom wees. Wonderlike ou meubels wag om opgeraap te word.   Ek is gek na ‘n Victoriaanse buffet uit eikehout.  As ek maar plek gehad het ….

Kate se e-pos-adres is [email protected]

(In die raam op die tafeltjie is die foto van Leo in sy rolstoel wat by sy sterftekennisgewing in Die Burger verskyn het.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.