DIT WAS WEER LEKKER

September 9, 2021 in Uncategorized

Ironies genoeg moes ons ons laaste vuurtjie op Dinsdagaand 7 September in die agterste lapa aansteek en styf teen die muur skuil teen ‘n snerpende windjie.  Later was daar rammelende donderweer.

Die vorige twee aande was dit “swembadweer”.  Nou wel net een keer vinnig ingespring maar lekker gewees om skop-skop in die helder water ‘n wyntjie (en ‘n Jagermeistertjie) te geniet.

Hoe ‘n onvervangbare juweel daardie swembadjie is, is opnuut ingeprent. Soos Piet Cillié vir Harry Oppenheimer oor sy Blouberghuisie gesê het, sê ek vir al wat ‘n ryke is oor ons bos-swembad: “You can’t afford it.”

Ons kyk terug op ses wonderlike weke met vele vreugdes waarvan die sagte ontwaking van die lente dalk die grootste was.  Dit was heerlik om weer in Sabiepark te kuier en te beleef dat dit in die algemeen goed gaan met ons plek wat ons so na aan die hart lê. In die hart leef die hoop dat daar nog sal wees. Tyd sal leer.

Minder en ‘n kleiner verskeidenheid wild is oor ons werf as wat ons sou hoop.  Waar’s die koedoes? Die kameelperd wat kom water drink het, was darem ‘n gedenkwaardige eerste.  Klein bokkies – rooibokke, bosbokke, najala-ooitjies en ‘n periodieke duiker – was gereelde besoekers. Die nagapies (en die bosnagape) het ná ‘n sorgwekkende afwesigheid weer hul ding kom doen.

Bloukuifloeries was aanvanklik elke dag om die huis … tot die vangs. Toe vat hulle skrik. Die naguiltjies se klankryke geroep was dalk die konstantste verskynsel. Elke aand het ons minstens enetjie hoor sing.  Die laaste paar aande het die paddas by die watergat gekwaak dat dit dreun.

Die elektriese yskas het ‘n element van gerief bygedra wat voorheen ontbreek het, en die sonkrag het kranig meer as die mas opgekom. Die meeste oggende teen tienuur was die batterye vol gelaai.  Maar nouja, ons was net twee.  Daarvan getuig ook die konserwatiewe gasgebruik – minder as ‘n bottel.

Die Honda se stukkende agterlig – slagoffer van ‘n verdekselse boom – is herstel.

By die piekniekplek het ons een middag hope olifante gesien. Die opwinding met leeus en luiperds het ons telkens misgeloop.  Maak nie saak nie. Net om daar langs die Sabie te sit, is ‘n voorreg.  Die swartwitpense word bederf met voer by die kantoor. Gaan soek hulle maar daar. Hulle verruil gereeld die bos vir die kort groen gras.

‘n Aspek wat my, ‘n ouer eienaar,  werklik bekommer, is die gedrag van ‘n nuwe element in die geledere van Sabiepark-eienaars en hul plesiersoekende gaste wat eienaars wat aan die tradisionele Sabiepark-kultuur vashou, as ’t ware al hoe meer “uitboer”.

Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars.  Die swemarea,  TV-kamer en selfs piekniekplek is oorstroom. Drank het gevloei en ‘n geswets het voorgekom. Oor onstigtelike Zoom-vergaderings in die TV-kamer het ek dadelik my stem verhef. Ek is dankbaar oor die onmiddellike verbod wat ingestel is.  Ongelukkig moet ek rapporteer dat balhorige mense eenvoudig voortgegaan het met die praktyk.  Die kennisgewings by die deur is veronagsaam asof dit nie bestaan nie.  Van die skuldiges se houding was heel astrant en aanmatigend teenoor mense wat wou TV kyk of in stilte op hul rekenaars werk.

Hoe anders beheer uitgeoefen kan word as deur strenge kontrole weet ek nie. Dit beteken waarskynlik toegangsbeheer, asook volgehoue gedragsbeheer en streng optrede teen mense wat noodsaaklike reëls na willekeur buig en breek.

Ons leef in ‘n era dat ‘n nuwe geslag mense al hoe meer regte vir hulleself opeis en die regte van ander in die proses vertrap. Hoe om hierdie patroon ten minste t.o.v. Sabiepark om te keer, sal seker nie maklik wees nie. Die wysheid van Salomo word die bestuur toegewens.

Ten slotte ‘n buiging na Tokkie vir alles wat sy daar vermag het.  Net die likkewane het haar gewen. HUlle is steeds in die dak. Maar wat in Sabiepark gaan gebeur as sy nie meer haar bekwame en flukse hand so op die plek kan hou nie, weet ek nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.