VOLMAAN LAAT WOLKE SWIG

Augustus 25, 2021 in Uncategorized

Kyk hoe hang die helikoptertjies.

Die hele wêreld word stil, sing Laurika Rauch. Sondagaand was dit so in Sabiepark. Die strelende rondomklank van die naguiltjie se lied het stil geword. Die hiëna het opgehou roep. Van die Sabierivier se kant het die olifante tot rus gekom en die seekoeie hul nurkery gestaak.

Dit was doodstil … asof die bos asem ophou vir die skouspel in die lug van die volmaan wat volhardend stry om ‘n pad oop te beur deur die digte wolke wat die hele dag lank ‘n digte loodgrys kombers oor die gebied getrek het.

Eers het enkele spatsels lig deurgebreek. Toe word die ligkolomme stadigaan groter. Die donker verloor sy greep. Dit swig. Uiteindelik sit hy daar: die helder,  volronde volmaan van 22 Augustus 2021, die tweede en laaste van ons wintervakansie. Wat ‘n natuurskouspel was dit nie om met ‘n glasie goeie merlot in die hand (dankie, Lorinda Steenkamp) van die stoep die stryd tussen lig en donker meegevoer te beleef nie.

Die donker verloor sy greep.

Die amperse volmane Saterdagaand en Maandagaand was wonderskoon en verrruklik. Eersgenoemde het ons te danke aan luidrugtige rugbykykers en algemene ordeloosheid by die TV-kamer. Ons is rustyd weg om te kom vuur maak.

‘n Vasvat-voorneme het ek nou uit die monde van drie komiteelede gehoor. Dit is bemoedigend. Maar hoe steil die uitdaging is, het ‘n mens by die rugby  opnuut besef. Geen Covid-protokolle het gegeld nie:  temperatuur is nie gemeet (soos by die piekniekplek) nie, die reël insake kaspasiteit van die vertrek het hoegenaamd nie gegeld nie, sosiale distansie is nie gehandhaaf nie, maskers was skaars.

Hoe anders kan jy beheer uitoefen as deur strenge kontrole oor getalle, gedrag, ens.?  Dit beteken vir eers toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand.  Maar dit vereis ook gedragsbeheer. Ek sal nie Alfred wil wees as hy dit tussen daardie klomp witmense moet waag en orde te probeer afdwing nie. Het juis nou die dag gesien hoe hardekwas jong manne met bottels bier in die hand in die swembad sy gesag uitdaag.

Om rustyd te loop, was my en Tokkie se eie keuse.   Die ironie behoort egter niemand te ontsnap nie: eienaars vir langer as 20 jaar neem die wyk en jong gaste kuier lustig voort met hul brandewyn wat nie brieke het nie.

By Tarlehoet het impalas al ‘n paar keer die watergat opgesoek. Dit het gedagtes losgewoel aan die Impala-residensie in Visagiestraat, Pretoria, die private hotel wat in die 80’s Pa en Ma Malan se laaste ekonomiese aktiwiteit was. Wonder hoe lyk dit nou daar en of die Impala-residensie nog bestaan.

By die rivier was laat Sondagmiddag gelyktydig drie groepe olifante – saam seker dertig, veertig, selfs meer: ‘n lekker 76ste verjaardagpresent vir Corrie du Plessis van Potchefstroom, ‘n gas van Jimmy en Lida Pressly wat kom koffie drink het.

‘n (Seldsame) wildruinrit het ons laat wonder of die S van die S65 nou vir Sinkplaat staan.  Ons (en die arme Honda) het behoorlik geskud. Skukuza se kampeerplek was tot oorlopens toe vol. So het ons dit nog nie gesien nie.  En dit in die Covid-tyd. Die nuwe hotel, en veral die ongtwikkeling by die “Krugerstasie” (die ou Selatirestaurat), lyk puik, moet ek sê.

‘n Helikopterboom vol helikoptertjies in Skukuza se personeeldorp was ‘n bonus. . Die helikopterboom met sy trosse hangende blomme, in Engels die propellor tree, wetenskaplike naam gyrocarpus americanus, is ‘n middelgroot tot groot, bladwisselende boom wat veral voorkom op dolomiet in die noorde van Namibië. In die Zambezivallei en Limpopovallei groei die boom in warm, droë, laagliggende bosveld. By Skukuza is minstens twee waarvan ek weet – een by die kerk se ingang. Die het ek in al die jare nog nie so vol vrugte gesien nie.

Die volksnaam is afgelei van twee lang, papierdun vlerke van ongeveer 7cm lank wat soos die skroef van ‘n helikopter in die rondte draai wanneer die vrug val. Gyrocarpus inderdaad!Deel dit:

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.