‘N GOUE HALFUUR

Augustus 6, 2021 in Uncategorized

In ‘n goue halfuur het ons die volgende beleef:

  • Vyf sebras het soos skimme uit die bos gekom om te kom drink. Onenigheid het tussen twee ontstaan. Wilde skoppe is uitgevoer.
  • ‘n Bosnagaap het grasieus teen die maroela afgeseil en oral piesang gesoek – ook, tot Tokkie se ergernis, op haar vars verniste tafeltjie. Later het hy in die boom gaan sit en skel.
  • Die resident-muskeljaatkatjie het ritselend rondgesluip.
  • Seekoeie het lustig in die Sabie genurk.
  • Hiënas het in die verte aanhoudend geweeklaag.
  • Op die kole van die ou rooiboswilg by die kombuisvenster wat afgekap is, het twee varktjoppies perfek gaar geraak (skaap is skaars).
  • ‘n Glasie of drie koue chenin blanc van Laborie is geniet.

‘n Salige vertraagde viering van my 80ste wat  op 3 Januarie stil verbygegaan het.

Op ‘n wildtuinrit Onder-Sabie toe is amper ‘n kilometer agter vyf leeuinne aangekruie. Van hul poging om te jag, het niks gekom nie.  Bokkies het te vinnig laat spaander. Ek glo die vloot karre het die leeus gekortwiek.

Twee takbevelvoerders van die afdeling Arende het die visverkeer in die Sabie bespied – ‘n besonderse fotogeleentheid.  Vier sebras met hul nekke oor mekaar was dit ook.  Fotograaf was egter aan die slaap.

‘n Briefskrywer beweer in Beeld  daar is nou meer olifante as rooibokkies in die wildtuin.  Wel, op die rit het dit werklik so gelyk.  Buiten honderde olifante ook baie kameelperde gesien, buitengewoon baie koedoebulle en vier mooi njalabulle.  Die karkas van ‘n sivet in ‘n boom het motors laat opdam.  Vreet luiperds ander roofdiere?

Buffelspastei by die netjiese nuwe Nkuhu-halfwegstasie geniet.  Goeie waarde vir R45.  Ongelukkig doen die toestand van die toilette afbreuk aan die plek.  Die indruk van algemene versletenheid is verder versterk.

‘n Slegte verwikkeling is dat geen koerante of tydskrifte meer in die wildtuin beskikbaar is nie.  Wat ‘n gemis! Digitaal is inderdaad nou oweral.  Ook sleg is toegang tot die Proteahotel (seker darem net vir die duur van die pandemie) net tot hotelgaste beperk word.

Tuis, verskaf twee bosbokkies – ‘n rammetjie en ‘n ooitjie – vreugde.  Het vanoggend weer saam kom water drink.  Die knoppiesdorings stoot lentebloeisels. Weet nie of die watergat lek en of hier snags ‘n groot dieregefuif is nie?  Vlak sak vinnig. Bedags is die dierevolume nie juis om van te praat nie.

By die piekniekplek is gereeld leeu- en luiperd-aktiwiteit. Ons mis dit telkens. Sien net baie olifante en minder gevaarlikes.

Ons geniet ons yskas terdeë.  Vir ons konserwatiewe behoeftes is hier oortollige krag. Die sonkrag-lapaliggies   het gesneuwel.  Niks hou vir altyd nie en party goed net vir ‘n kort rukkie.

By TV-kamer is toepassing van Covid-protokolle nie so dat jy dit sal agterkom nie.  Sal liefs nie in die lang naweek daar na die derde toets teen die Leeus gaan kyk nie.  BY die pieknieplek – in die oopte – word temperature egter opgeskryf.  “It’s a strange, strange world, Master Jack.”

Tokkie is oustryk aan die werskaf.  Die “engel met die verfkwas” is bedrywig met die verf en vernis. Net om haar dop te hou, is uitputtend. Sy is vol blou kolle van al die stote en stampe. Telkens raak sy so verdiep in haar werk dat haar koffie staan en koud word. My eie hand herstel mooi ná ‘n bloederige onderonsie met ‘n aalwyn.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.