LAASTE IN DIE RY VAN ’64-GALERY

April 23, 2021 in Uncategorized

Alf Ries (voor) en Neville Krige (langs hom). Foto: Johan Pretorius.

Sou die uwe die enigste oorlewende van die parlementere persgalery van 1964 wees?  Tussen my en Johan Pretorius, ‘n SAUK-veteraan van ‘n latere generasie, het ons tot die slotsom gekom dat ek  waarskynlik laaste in die ry is – nogal ‘n taamlik eensame plekkie om ‘n mens te bevind.

In Januarie 1964, skuins ná my 23ste verjaardag, het ek by die persgalery opgedaag.  Alf Ries was die gedugte politieke beriggewer van die Nasionale Pers.  Schalk Pienaar was die deurlugtige indrukskrywer. Ander Pers-mense was die Burger-manne Louis Louw en Bob van Walsem. Die Transvaler se Sakkie van der Merwe en Johan Kruger was saam in die tuig. (In 1965 het die weë met Die Transvaler geskei. Wiets Beukes (Die Volksblad) en Ebbe Dommisse (Die Burger) het hulle toe by ons span aangesluit.

Voorsitter van die persgaleryvereniging was daardie tyd Donald Prosser van die Evening Post van Port Elizabeth. Hoof van die Sapaspan was Arthur Classen. In sy span was o.a. Robert Postma, Bossie Boshoff en Gordon van der Merwe.  Ander bekendes in die omte was o.a. Tertius Myburgh, latere redakteur van die Sunday Times, Carel van der Merwe,  Daan Esteen en Neville Krige van die SAUK, Tony Heard van die Cape Times, Tos Wentzel (oud-Volksbladder) van die Argus en Stewart Carlyle van die Natal Mercury.

Saam met Daan en Neville het ek vir die parlementêre span krieket gespeel; saam met Gordon van der Merwe ek in ‘n inry na “Dr. No”  gaan kyk  – my eerste James Bond-fliek –  saam met Carel van der Merwe ‘n nagklub besoek en saam met Bossie ‘n paar biere in die Kimberleyhotel gaan drink.

Die hoofbode was die kleurryke Fred (nooit sy van te hore gekom nie) en ‘n nuwe lid in die bodespan ene Demetrio Tsafendas, ‘n Mosambieker wat later berugtheid sou verwerf as die moordenaar van dr. HF Verwoerd. Dikwels by Tsafendas ‘n getoosterde kaas-en-tamatoetoebroodjie bestel.

Neville, Daan en HvD met ons parlementêre krieketpette.

Die persgalery het nog nie sy eie eetplek gehad nie. Etes is geniet in ‘n anneks van die parlementệre eetsaal, die “Dikeet”.  Goeie kos, redelike pryse.

Alf het die nuweling onder sy vlerk geneem. Onthou die eerste keer toe hy my die galery gaan wys het.  Daar van bo af was die volksraad onder ons waardig en indrukwekkend.  ‘n Voorreg gewees om juis in daardie tyd in Alf se politieke span te werk. Ons verhouding is deur ‘n paar driwwe maar ons het jarelange vriende geword.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die oorheersende dr. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die ietwat stugge oud-stoker Ben Schoeman, die korrekte Eben Dönges, rustige wynboer Paul Sauer, pyprokende diplomaat Hilgard Muller en opkomende ster, John Vorster – almal in my oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, PW Botha, het begin aandag trek.

In die opposisiebanke was die Sappe (lede van die Verenigde Party) se gedistingeerde leier, sir De Villiers Graaff, Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die netjiese Ossie Newton-Thompson, ons krieketkaptein.  Helen Suzman was vir die PFP (Progressiewe Federale Party) ‘n bekwame een-vrou-span vir wie almal bra lugtig was.  (Marais Steyn het later jare na die NP oorgestap.)

‘n Karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging, ‘n latere minister, se toesprake, besprinkel met kwinkslae, was altyd eersteklas-vermaak. Op ‘n keer was Coetzee aan die woord. Dr. Jan Moolman (VP, Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde,” raas speaker Henning Klopper van Parys: “Die agbare lid weet mos hy moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Coetzee: “Ja, staan op Jan. As jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Coetzee het Klopper, terloops, Here Jesus genoem na aanleiding van sy voorletters HJ en sy aanspraak dat hy die Bybel 20 keer deurgelees het. Klopper het ook gespog dat hy nooit ‘n druppel sterk drank oor sy lippe geneem het nie. In al sy jare in die politiek het hy nooit ‘n drankie vir iemand gekoop nie.

Omdat Die Volksblad nie ‘n eie politieke beriggewer gehad het nie, het sy galeryman ook ‘n wandelgangkaartjie gehad. Het nogal graag in los tydjies in daardie eksklusiewe portaal uitgehang. ‘n Keer het ek my senior kollega gescoop met ‘n voorbladberig oor ‘n onenigheid tussen Jan Visse, Nasionale Party-LV vir Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang oorgespoel.

‘n Paar geniepsige houe is gewissel. Maar die  eerste wat die politieke beriggewer daarvan te wete kom, is op ‘n Burger-plakkaat in Tamboerskloof waar hy gewoon het. Hy was nie geukkig nie. Speaker Klopper was ewe min geïmponeer. Drie lesse vir ‘n groentjie: 1. die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie; 2. die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ’t ware met gegrendelde deure;  3. ‘n jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie.

Geen permanente skade is gelukkig aangerig nie. Gou het die Vrystater ‘n gereelde oppasser vir die Rieskinders, Hartman en Marianne, geword as pa Alf en ma Maggie die aand uitgaan. Marianne was nog in doeke. Nou die dag sien ek op Facebook ‘n foto van oupa Hartman met twee nuwe kleinkinders in die arms. Toe voel ek soos die enigste oorlewende van 1964; die laaste in die ry.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.