GOUE SEUN NIC BOJE

Maart 26, 2021 in Uncategorized

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor studentemoleste ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong die verlede in. Kollege-tehuis toe – 60 jaar gelede.  Die Kovsies en die Maties sal dit nou nie weet nie, maar in Tukkieland was Kollege ‘n gedugte plek. Die jare 60 was ‘n glansryke era en Nic was een van die goue seuns.

Kollege se reputasie is gerespekteer of afgekeur.  As daar moles was, kon jy maar weet Kollege is in die episentrum. Soos een aand toe ‘n serenade by Karadyn ietwat te luidrugtig geraak het. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe Nic en sy vriende die konstabel in die aanklagkantoor se pet onder mekaar aangee. .

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het Nic en sy maats van die berugte tweede verdieping ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend  uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n nagtelike Fonteineparty. In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat  later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Ons  geliefde Kollege was ‘n uiters mededingende plek. Ons het nie gehou van tweede kom nie.  Nic en sy skakelmaat, Propie Goosen, was in die opsig ysters.  Op die rugby- en die krieketveld was hulle staatmakers. Ek onthou met verkneukeling ‘n wedstryd teen Sonop.  Die eerste bal van Sonop se selfvoldane snelbouler, die SR-voorsitter, lig NIc oor die skerpbygrens vir n sierlike ses.  Die volgende een dryf hy deur die dekke vir vier. Die arme man was verslae.

Koning Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic,   Proppie , Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. Nic was ons eintlike angel. Hy kon sy agterlyn blitsig wegstuur. HY kon pale toe korrel soos ‘n skerpskutter – selfs sekuurder as Naas Botha.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith, Nic se tuisdorp.  Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith wen ons, ‘n derdeligapan in Pretoria, die eersteligabeker.  Nic skop weer nie mis nie. Ek is die dag vlagman.  As hy met sy aanloop begin, lig ek al die vlag.

Toe ons ons oë uitvee, kom haal die Tukkiekeurders ons losskakel-held kort daarna  uit Kollege se span eerste span toe. Hy en Proppie Goosen, ook ‘n Kollegeman, word ‘n gedugte skakelpaar.  Die dag toe Nic sy eerste wedstryd vir die eerstes speel, sit ons Kollegemanne op Lofrus bankvas agter die pale.  Ons bulder soos een man vir ons maat instruksies: “Nic, skop die bal. Nic gee uit.”  In ‘n stadium kyk hy direk in ons rigting en gee ‘n teken dat ons ons bekke moet hou. Ons was daarna effens stiller.

“Ta’ Bella”, die ou Belvedere-hotel in Kerskstraat, was ‘n gewilde kuierplek om “tee” te gaan geniet.  Voor Nic se eerste wedstryd vir Tukkies teen die Bobbies besoek ‘n klompie Kollegemanne die Vrydagaand vir Ta’ Bella om die senuwees te laaf. Bobbies het ‘n uitblinkers soos Mof Myburgh  en Piet Uys . Ons beduie vir Nic hy sal die volgende dag sekuur moet korrel.

Hy stel ons gerus: “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” Toe demonstreer hy, tot die verbasing van die ander klante, hoe hy die skepskoppe elegant pale toe gaan jaag. Die Saterdag op Loftus ‘drop’ Boje twee keer. Albei kere seil die bal oor die dwarslat. Die tweede beklink die sege. “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” So was dit toe. Baie ander spanne sou nog huil as hy hulle flenters skop.

Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy spanmaats: al die Kollegemanne van daardie era wat nog oor is, die ganse rugbygemeenskap van Suid-Afrika en sy naastes wat vir hom lief was en op hom trots was.  Soos ek op Facebook geskryf het: Ons huil nie omdat ons ‘n wedstryd verloor het nie maar ‘n “wedstrydwenner” wat die spel van die lewe soos ‘n kampioen gespeel het.

(Die volledige weergawe van ‘n huldeblyk vir NIc se gedenkdiens gister in die rugbymuseum by Stellenbosch. ‘n Ietwat verkorte weergawe is deur sy seun Louis voorgelees. Ek was weens Covid-19-protokolle tot my spyt afwesig. )

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.