DEUR EN DEUR ‘N GROOT VERLIES

Februarie 26, 2021 in Uncategorized

Op ‘n wynrak teen ‘n muur in ons woonkamer op Melkbos staan ‘n bottel Claret wat in die jare 80 vir Die Volksblad gebottel is (foto 1). Op die etiket is ‘n afbeelding van die ou-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig.  Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde  inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.

Met die omvattende opgradering in 1986 het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry (foto 2).  Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Hoofredaksielid Jan Scholtz, ‘n meester-vakman met ‘n diepe hartstog vir hout, het al die sierade van inheemse houte in die redakteur se kantoor gerestoureer of laat restoureer – lessenaar, stoele, bank, tafels en boekrakke. Hy het gespook om ook die historiese deur te red;  helaas ‘n verlore stryd.

Kom ons bou die ou deur  in tussen die redakteur en sy sekretaresse se kantore, het hy gepleit.  Die redakteur, wat toe die uwe  was, het sy (aansienlike) gewig solied agter kollega Jan ingewerp. Maar die argitek was nie vir ons ouderwetse gedagte te vinde nie, en die bestuur was aan sy kant. Die houding was dat die redaksie nie moet kom neus insteek in sake buite sy jurisdiksie is –  “bemoei julle met die inhoud van die koerant en laat ons toe om die gebou ordentlik te moderniseer.”

Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting.  Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes  “weggesmyt”.    Sy bitterheid het hy betuig in ‘n spesiale bylae toe Die Volksblad in 2004 eeufees gevier het.  Hy noem daarin dat die statige ou lessenaar, ook van Birmaanse kiaat, in die redakteur se kantoor ook weggesmyt sou gewees het as dit nie vir sy “aandrang” en my “beslistheid” was nie.  Pynlike gedagte.

Vandag wonder ek of ons nie harder kon baklei het nie. Iewers moes tog iemand met ‘n sin vir waardes gewees het by wie ons ‘n saadjie in vrugbare aarde kon plant.  Maar nou-ja, met die waters wat verby is …

Die Volksbladwyn staan darem so dat as ek van my vaste sitplek opkyk my oog op die etiket met die besonderse voordeur val. Daardie wyn het destyds geskenke vir kliënte en soeweniers vir die personeel geword. Die etiket was ‘n kunswerk uit eie reg. Die wyn kon, ten minste in voorkoms, sy man staan tussen enige spogwyn van ‘n landgoed in die Wynland. Die etiket is steeds treffend.

Naskrif: Die 79 is nie die oesjaar nie. Dis die straatnommer.  Die Volksblad was al die jare by Voortrekkerstraat 79.  Nou is dit Nelson Mandelarylaan 79.  Gelukkig nie Jacob Zuma- of Ace Magashulerylaan nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.