‘N BRUID SOOS ‘N BOKS

Januarie 8, 2021 in Uncategorized

’n Bedeesde. konserwatiewe redaksielid van Die Volksblad het leseresse verbaas en geskok met haar advies vir ’n ontwerpwedstryd vir trourokke: “hou by die A-lyn; vermy regaf lyne – dit laat die arme bruid soos ’n boks lyk!”

Sy het nie die woord “boks” nie, maar die suiwerder Afrikaanse ekwivalent gebruik. Boonop het sy nagelaat om die aard van die voorwerp duidelik te maak, bv. deur die woord “karton” daaraan te koppel.

‘n Groentjie was al lewende wese in Beeld se nuuskantoor toe ‘n bom in die middaguur in Johannesburg ontplof.  Die nuusredakteur had geen keuse nie. Hy moes haar opkommandeer. Sy is in aller yl na die toneel. Ná ‘n rukkie bel sy uitasem: “Meneer, ek kan nie naby kom nie. Die polisie het ‘n kondoom om die hele blok gespan.”

‘n Nuusleser by ‘n Weskus-radiostasie het luisteraars laat regop sit oor ‘n berig waar ‘n “Rooi gety”  vandaan kom. Dit word veroorsaak deur ‘n “giftige orgasme” in die water, het sy doodernstig meegedeel, en rustig voortgegaan met die res van die bulletin.

Lyk dalk of ek my mes in het vir die meisies. Glad nie so nie. Die res van die mistykies is deur lede van die manlike geslag gepleeg, en word gekroon met een of twee op my eie rekening.

Ontmoet die kreatiewe jong man wat vir die lesers wou verduidelik hoe ‘n tapier lyk. Ná heelwat wik en weeg het hy by die volgende beskrywing uitgekom: “Die dierasie lyk baie soos ‘n donkie, net heelwat anders.”

‘n Ander nuweling het die volgende juweeltjie gepleeg:  “Met behulp van die dokter het die drenkeling vinnig sy bewusteloosheid teruggekry.”

‘n Opvoering op Vanrhynsdorp is ‘n keer deur net vyf mense bygewoon.  ‘n Onervare Burgerman het berig: “Die finansiële sukses was ‘n totale mislukking.”

Lank-lank gelede het Die Volksblad ‘n ou die grammadoelas ingestuur om ‘n politieke vergadering te dek. Dit was die tyd voor selfone en met telefoonverbindings op die platteland in die algemeen wisselvallig. Toe hy nie van hom laat hoor nie, was al uitweg om maar op sy terugkeer te wag.

Toe hy opdaag, is die eerste vraag: “Waar’s die berig?”  Nee, antwoord hy toe. Daar’s geen berig nie. Die spreker het net “dames en here” gesê en toe op die verhoog dood neergesyg.

Op my eie rekening is ‘n foutjie met die naam van ‘n man wat dood is toe ‘n brug kort voor saktyd ineenstort. In die dolle gejaag om die berig betyds te lewer, tik ek een oorledene was mnr. Johan de Wet. Hy was nie. Johan de Wet was my kollega.  Die uwe is verwar toe die nuusredakteur my kollega se naam op die kritieke oomblik noem terwyl ek die tikmasjien laat kletter. Tyd vir oorlees was daar nie. Velletjie vir velletjie is van my tikmasjien na die subs.

Toe die eerste klompie koerante op die redaksie se lessenaars kom, bemerk ek dadelik die fout. Al die senior manne was op middagete. Ek hol toe fabriek toe, stop die rolpers en herstel my fout.

In my skik, wag ek om geprys te word. Wel, ‘n bietjie lof was daar wel vir my ondernemingsgees.  Die skrobbering omdat ek die koerant laat gemaak het, was aansienlik omvangryker.  Hoe noodlottig vir verkope op die platteland ‘n laat koerant is, het ek tot daardie dag nie besef nie.

‘n Nog groter blaps was met die dood van een van die hooffigure in ‘n bekende SA hofsaak, Preller vs. Jordaan. Dit behandel oor “onbehoorlike beïnvloeding”. ‘n Dr. Jordaan sou ‘n boer, ene Jordaan, terwyl hy ernstig siek was, oortuig het om sy drie plase aan die arts te bemaak. Wat hy toe doen. Daarna skenk dr. Jordaan twee van die plase aan sy kinders.

Preller het uit sy siekbed opgestaan en wou sy plase terughê. ‘n Lang hofstryd volg en ‘n gekompliseerde uitspraak word gelewer. Die kern was dat Preller slegs op die een plaas in dr. Jordaan se besit kon aanspraak maak.

Toe Preller sterf, stuur die korrespondent (Bothaville? Viljoenskroon?) ‘n kort  beriggie. Dit laat dadelik ’n klokkie lui, en ek is daarmee nuusredakteur toe om my storie te vertel. Natuurlik was hy opgewonde. Ek moet skryf. Om seker te maak van my “feite” ry ek gou Kovsiekampus toe en gaan leen by ‘n regstudent wat ek ken, sy notas.

O wee. Of sy notas was verkeerd of HvD het dit verkeerd vertolk.  In my berig word toe verkeerdelik ook blaam op die twee kinders gewerp.   Dit kom op die voorblad.

Die volgende dag hier marsjeer ‘n span prokureurs in. Hulle beraadslaag met die assistant-redakteur met geslote deure. Later word kiepie ingeroep om stamelend te verduidelik. Gevolg was ‘n korreksie ewe groot as die oorspronklik berig op die voorblad.  Dit was nie my glorierykste dag in die joernalistiek nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.