‘N TUKKIE EN ‘N TOKKIE

Desember 15, 2020 in Uncategorized

Die jong Tokkie toe sy in my lewe gekom het in 1964.

Een middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.

Daardie arrogante (ai tog) huisvoorsiter was die uwe.

‘n  Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?”

Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van veertig jaar my foto-albums — en my lewe! — sou oorheers. Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n talentvolle Bultfonteinse dogter. Vir haar weduwee-ma, Marietjie, was die hele dorp lief. Haar broer, Fanie, my portuur, was op sy dag ‘n uitblinker-sportman.

Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa,  Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier, maar het Kollege se seniors vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die  destydse treffer Tell Laura I love her.

Ek het jare lank met die idee geloop dat Tokkie en Dirk se paaie by die Bloemfonteinse Kunswedstryf ewe onskuldig gekruis het. Later  het sy my reggehelp: dit was eintlik op ‘n piekniek by Maselspoort. Ek sou eerlik eersgenoemde scenario verkies het.

Tokkie het in 1964 na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Dirk was toe  ‘n regstudent aan die Vrystaatse Universiteit. Ek was parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. ‘n Ouer broer van Dirk,  Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe.  Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword — ‘n meisie om wie die jong manne draai .

‘n Week later was ons eerste afspraak — ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger.

Die besoek aan die Kaap sorg vir die eerste Tokkiefoto in my albums: ‘n stippeltjie in die hoek van ‘n kabelkarretjie by Tafelberg. Daarna volg die foto’s vinnig: verlief, verloof, getroud, moedertjie…

Ek en Willie Kühn, latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, was tot met die huwelik woonstelmaats. Tokkie het saans kom kuier en kosmaak. Een aand in die kombuis konfronteer sy Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy — o soete onskuld! —  nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:  “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Ewenwel, die getroud-kom was net enkele maande later. Op ‘n snikhete 31 Desember 1966 in die N.G. kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s. ‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes — maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! — nooit vergeet nie.

Een herinnering is natuurlik die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, soos Lappies ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig.

Die tweede is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme — ‘n trougeskenk van Frank Budd, Zola se vermoorde pa — en die arme bruidegom in sy gitswart pak behoorlik opgedreun het. Dan het my Kollegemaats teenwoordig die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat ek dit in die huwelik hotagter gekry het nie.

Die belangrikste herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart van daardie dag, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, die beste ding bly wat my in my amper 80 jaar op aarde oorgekom het. (Uit “In Kamera”, Protea Boekhuis).

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.