RAAISEL VAN ‘N ‘RAMP’

Julie 28, 2020 in Uncategorized

Op Dinsdag 23 Februarie 1988 het ‘n gerug deur Bloemfontein geswiep.  Stortreën van tot 100 mm per uur kan uitsak. Kantore, banke en skole het vroeg gesluit. Angsbevange mense het op vlug geslaan om skuiling te soek.

‘n Yslike  “vals  alarm” was dit toe.  Geen swaar reën het daardie middag geval nie.  Sondebokke is gesoek – en Volksblad (toe nog Die Volksblad en ‘n middagkoerant)  moes self ook onverdiende slae verduur.  Dit was nie die eerste en enigste  keer in sy bestaan van 116 jaar nie.

Tot vandag spook die raaisel steeds by my wie vir daardie paniek moet pa staan.

Dat die publiek met ‘n “vals alarm” so op loop gejaag kon word, klink by nabaat dalk dik vir ‘n daalder. Maar ná die Saterdag, en veral die Sondag se stortreën en vloede in die Midde- en Suid-Vrystaat, asook die Noord-Kaapland, kon ‘n mens se senuwees maklik op hol raak.

Die Saterdag het dit begin sous. In Bloemfontein is 88 mm gemeet – elders waarskynlik meer.  Die Sondag het grou aangebreek.  Terwyl die uwe in die NG kerk Berg-en-Dal die nagmaalsdiens bywoon, het die water in ‘n digte gordyn bly neerstort. “Ek moet by die kantoor kom, “ het ek vir my vrou, Tokkie, gefluister. Ons het by ‘n sydeur uitgeglip en het sopnat gereën die entjie na die motor toe. By die huis het die reënmeter al oorgeloop. Dit was ernstige sake.

By die kantoor was enkele kollegas reeds kliphard aan die bel en organiseer hoe om met verslaggewers en fotograwe by sekere brandpunte te kom waar riviere in vloed besig was om als wat voorkom uit hul pad te vee. Hoofredaksielid Jan Scholtz (reeds oorlede) en nuusredakteur Philip van Rensburg was die eerste gesigte wat ek gesien het.  Philip is kort daarna in gietende reën vort om self verslag te gaan doen, en het vir skouspelagtige foto’ en aangrypende berigte gesorg.

Daardie Sondag is in Bloemfontein 142,2 mm aangeteken – ‘n goeie maand se reën in een dag!

“Ramp der rampe” het die banier op Maandag 22 Januarie  gelui. Onder die opskrif  “Die ‘see’ se naam is Vrystaat  –  vlaktes word mere” is twee fotoblaaie van die rampgebied gepubliseer. Dit was ‘n koerant wat ek met voldoening  onthou. Ons het behoorlik “skouers oopgemaak”, soos ‘n goeie koerant met ‘n groot storie behoort te doen.  Hoofsubredakteur Nols Nieman (ook al oorlede)  kón soos min ander met tipografiese aanbieding “skouers oopmaak”.

Die volgende dag was die koerant se hoofberig oor honderde mense wat op die platteland ylings uit hul huise gevlug het en magteloos op die verwoestende vloedwater wag. Die opskrif was “Paniekvlug”. By die hoofstorie was die berig wat agterna heelwat reperkussies gehad het. Dit het verskyn onder die opskrif: “Dringende waarskuwing: tot 100 mm per uur verwag”.

Daarvolgens het ‘n Gesamentlike Beplanningsentrum aan mense in die Midde- en Suid-Vrystaat ’n dringende boodskap uitgereik dat ‘n voggordel oor die gebied begin vorm en dat geweldige swaar neerslae verwag word.

Toe die koerant op straat kom, was ‘n ongekende uittog uit die middestad reeds in volle gang.  In sommige kringe is die skuld vir die paniek toe op Volksblad gepak.  Die hoofopskrif ,“Paniekvlug”, was in daardie sondeboksoekers se oë die bron van die kwaad – hoewel die plattelandse “vlug” in die hoofberig en die Bloemfonteinse “vlug” natuurlik ten enemale nie een en dieselfde ding was nie.

Mnr. Brian Long, hoof van die Bloemfonteinse Weerkantoor, was een wat sy mes vir Volksblad  ingehad het.  Hy het oor radio Oranje ‘n skerp aanval op die koerant gedoen en gese dat “snert” gepubliseer is wat nie van die Weerburo afkomstig was nie.(Ironies genoeg, het Radio Oranje egter self in ‘n vroeër nuusuitsending die spesiale waarskuwing uitgesaai.)

Volksblad was verontwaardig en het het sterk beswaar by die betrokke minister aangeteken oor die hoë amptenaar se aanval. In ‘n hoofartikel het die koerant geskryf dat die aanval op hom “venynig en ongegrond” was .

Ons kon daarop wys dat Volksblad eers op straat verskyn het nadat noodmaatreëls al op plekke getref is en honderde mense reeds huis toe was. Hoe verklaar jy dit? Dit was ook onduidelik wie die provinsiale administrasie, universiteit, banke, skole en kleuterskole reeds van 13:00 af geskakel en gewaarsku het – lank voordat die rolpers nog begin draai het.  Die polisie kon nie lig werp nie. Honderde mense het Parkweg ook gebel met die nuus dat die Weerburo sou gewaarsku dat ‘n groot storm op pad is .

Die oorstromings het uiteindelik sowat R554 miljoen skade in die Vrystaat en Noord-Kaapland aangerig.  Reeds voordat die groot waters afgeloop was, het Die Volksblad  op 24 Februarie saam met M-Net ‘n spesiale vloedrampfonds begin wat die koerant met ‘n bydrae van R10 000 geopen het.

Die geld het ingestroom in ‘n tempo wat Volksblad “indrukwekkend en ongeëwenaard” genoem het. Geld is uit elke ondenkbare oord ontvang:  kinders, wit en swart, het van hul sakgeld gegee of  sentleggings gehou; bejaardes het van hul pensioengeldjies afgeknyp. Veral die onderwysdepartement met ‘n tamaaie R170 000 van leerlinge, onderwysers en amptenare, en die Vrystaatse NG kerk met R300 000 het spiere gebult. Die Afrikaner-Broederbond  het R75 000 geskenk. Altesaam R1,3 miljoen (baie geld in  1988) is ingesamel – die grootste bydrae deur ‘n koerant tot die Sentrale Rampfonds.

Nadat R1 miljoen ingesamel is, het Volksblad  geskryf dat met die stroom bydraes die “pragtige en intieme band tussen die koerant en die gemeenskap ” opnuut bevstig is.

Naskrif:  Volksblad se dekking van daardie ramp, en die omvang van die rampfonds, is ná amper 30 jaar vir die outeur hiervan steeds stof tot dankbaarheid.  Die vals verwyte oor Bloemfontein se onnodige groot skrik laat egter ‘n suur smaak.  Die enigste slotsom is seker dat dit, in die moderne idioom,  sogenaamde “fopnuus” was.  Maar wie het gelieg en hoekom?  Die antwoord op die geheim sal ons seker nooit weet nie, tensy  die skuldige nou na vore wil kom.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.