TWEE VOLKSBLAD-VETERANE

Julie 17, 2020 in Uncategorized

Wiets Beukes

Wiets Beukes

Twee Volksblad-veterane van 90-plus verwerk die slegte nuus van hul koerant se verskuiwing uit die hoofstroom tot  op net ‘n digitale platform in die eensaamheid van hul onderskeie tuistes in versorgingsenhede  in Bloemfontein en Kaapstad. Hulle is “Oom Gert” Terblanche (97), my eerste nuusredakteur by Die Volksblad, en Wiets Beukes (92), wat ek as ‘n mentor beskou. Hy was assistent-redakteur by Die Volksblad en later redakteur van Die Burger.

Oor Wiets pas die nuus gekry dat hy daar in Berghof, Oranjezicht, waar hy al 12 jaar tuisgaan, nou 24 uur per dag ‘n persoonlike versorger nodig het.

Uit sy familiekring die volgende boodskappie gekry: “Dit gaan nie meer so goed met Oom Wiets se gesondheid nie. Alhoewel hy fisiek nog ‘gesond’ is, sukkel  hy om te beweeg. Sy geheue en gehoor is ook nie meer wat dit was nie. Aanvanklik het ‘n persoonlike versorger nege ure per dag nah om omgesien, maar dit is nou tot 24 uur per dag aangepas.”

Net meer as na 60 jaar gelede het ek, kartonkoffertjie in die hand, in die somervakansie van 1958 van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop om my eerste van vele skofte vakansiewerk te verrig.  Op Wiets se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis het ek met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak.

Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is:  ‘n borrelende, dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld.

Die minsame vrygesel uit Brandfort was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het. Hy het my in sy silwer Borgward Isabella die redaksiekantoor gaan wys.  Veral die teleksmasjiene, die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom, was betowerend.  Vir my het die koerantman Wiets ‘n lewenslange rolmodel gebly

Met Oom Gert het ek gister ‘n aangename telefoongesprek gehad in die Sewe Damme –oord in Bloemfontein wat nou sy tuiste is na sowat 50 jaar in Kaptein Goodmanstraat, net om die draai van my en Tokkie se eerste huis in Kmdt. Senekalstraat.  Ons het herinneringe verwissel en saam die heengaan van ons geliefde dagblad betreur. Albei was hartseer.

As my eerste nuusredakteur was hy in vele opsigte ‘n leermeester:  wat nuus is, hoe jy ‘n berig skryf en jou “ronde” behartig. Jou “ronde” was die terreine waar jy die oë en ore van die koerant was. Wee jou as jy op jou “ronde” mis en deur ‘n mededinger geklop word met die nuus.

Tokkie en Oom Gert

Ook by Oom Gert die waarde van ‘n nuusredakteur se dagboek geleer. ‘n Wakker nuusredakteur se dagboek is altyd vol. Elke uitsteldatum van ‘n hofsaak word daarin aangeteken.  Selfs ‘n ingewing om oor ses maande vorentoe dalk met imand ‘n onderhoud te gaan voer. Oom Gert se dagboek was ‘n model wat ek later self nagestreef het.

As plakkaatskrywer had hy nie sy gelyke nie. Telkens as ons ander nog hierdie kant toe en daardie kant toe, het hy in sy netjiese handskrif ‘n voorstel neergepen: altyd ‘’n treffer.

Twee jaar gelede is ‘n Volksblad- reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum gehou. Die oudste onder die oudstes was Oom Gert, wat toe 95 was en verbasend flink vir sy jare.

Oor een storie wat ons albei goed onthou het, het ons mekaar oor en weer geterg. Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel.

Kollega Herman le Roux het daarop ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (toe selwers al 71) geneem.  Volgens hom het hy steeds gedink my keuse was in die kol. Dankie daarvoor, Oom Gert.

Dankie aan jou en Wiets vir jul rol in my vorming as joernalis

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.