KIEKIE VAN PW EN MADIBA (PLUS KOBIE)

Junie 14, 2020 in Uncategorized

Op die ingewing van die oomblik, en met instemming van die twee hooffigure, het kapt. Ters Ehlers, knap gewese private sekretaris van Botha, met sommer ‘n doodgewone mik-n-druk-kamaratjie die enigste foto’s geneem van die eerste ontmoeting tussen P.W. Botha en Nelson Mandela op 5 Julie 1989 in Tuynhuys.  Eintlik net ‘n paar kiekies met ander woorde.

Ná ‘n hartlike gesprek, wat op die impromptu foto’s deur die breë glimlagte op almal se gesigte weerspieël word, het Ters skielik van die kameratjie in sy lessenaar se laai onthou. Genadiglik. Anders het die historiese oomblik fotogewys ongedokumenteer gebly.

Hoekom juis Die Volksblad?  Ek kan aan twee redes dink.  Een is dat tussen Die Volksblad en Tuynhuys – ook bekend as Kruithuis!  – se baas met sy berugte kort lont, ondanks periodieke skermutselinkies, ‘n gesonde verhouding bestaan het, Hy was immers self ‘n Vrystater, ‘n seun van Paul Roux. Meer nog, in sy jong dae het hy vir die koerant vryskutwerk gedoen – selfs in die stormagtige Smeltersdae ‘n hoofberig op die voorblad oor ‘n ontwrigte politieke vergadering gelewer.

Die tweede rede is dat die uwe een van die min mense was wat van die bestaan van die foto’s geweet het. Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie,  het dit in ‘n private gesprek laat glip.

Vanselfsprekend het ek nie ophou torring om die foto’s vir my koerant as ’n “scoop” los te wikkel nie.  Aan die begin van Februarie 1990 het ek, al half moedeloos, die kwessie weer oor die telefoon aangeroer. Dit was al nadat Botha sy beroerte gehad het en heelwat troebel water in die see geloop het – troebel water  wat ook later my en Die Volksblad se verhouding met hom sou versuur.

Verrassend genoeg, het hy die oggend die eerste keer sy gewilligheid laat deurskemer. Ná intensiewe onderhandelinge, onder meer ook deur ‘n bemiddelaar met Mandela, wat toe in sy laaste dae in die Victor Verster-gevangenis was, is tot publikasie ingestem.   Wie daardie bemiddelaar was? Niemand minder nie as die oud-minister van justisie, Kobie Coetsee ‒ “my vriend Kôbie”, soos Mandela hom waarderend bly noem het.

Met die ooreenkoms beklink, is ‘n verslaggewer per motor na Pretoria om die kosbare pakkie  te gaan haal. Nog twee foto’s is per koerier na Bloemfontein gestuur. En op Donderdag 15 Februarie, verskyn die koerant toe met sy “foto’s waarvan die wêreld nie geweet het nie”.  Ongetwyfeld een van sy lekkerste scoops van die jare negentig.

Sonder komplikasie was Operasie Foto nie, want Botha wou niks daarvan weet nie dat die joernalistieke kleinode, soos die gebruik is, ook aan die susterkoerante beskikbaar gestel word. Sy vereiste was dat regstreeks met hom daaroor onderhandel word, en toe Die Burger waag om te vra, was sy antwoord ‘n ferme nee.  Hy was te kwaad oor wat oor hom en sy ongesteldheid geskryf is.

Verskeie ander binne- en buitelandse publikasies en nuusdienste moes ook voor dooiemansdeur omdraai.

Beeld, altyd vol planne, het wel ‘n foto gepubliseer, maar vindingryk omraam deur ‘n stuk van Die Volksblad se voorblad sodat die hele aanbieding soos ‘n skeurvel moet lyk!

Op die oorspronklike foto verskyn ook genl. W.H. Willemse, hoof van die gevangenisdiens (links) en Coetsee (regs).  Vir die omslag van die eerste “Kroniek” is die twee here afgesny ten einde groter fokus op die twee hooffigure te plaas. Barnard kon nie afgesny word nie, Hy het strategies in die middel gestaan.

Coetsee was in n grimmige luim toe hy dit die aand met die boek se bekendstelling in Bloemfontein ontdek. Nou ná al die jare sou ek hom, as ek kon, graag gelyk gee.  Hy het sekerlik rede gehad om afgehaal te voel dat sy welwillende  rol om die foto vir Die Volksblad te bekom met die knip van ‘n skêr tot die snippermandjie gereduseer is. Hiermee ‘n vertraagde ekskuus – helaas te laat.

Koop die e boek by http://www.denovowebs.co.za/produk/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70.Deel dit:

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.