LAAT BRAAI-BYLE HUIL

April 30, 2020 in Uncategorized

Laat die byle huil, Paul Colditz van Bloemfontein!  Die onderwysman mik nou om 50 dae aaneen te braai.  So lees ek in Die Burger.  Wat ‘n rein gedagte.

Grootte en intensiteit was eers my ware vuurplesier. Frekwensie het mettertyd ‘n oorheersender maatstaf van ware genot geword.  In Sabiepark is ’n kampvuur ’n daaglikse heerlikheid. ‘n Stuk roetine soos opstaan of gaan slaap. Drie maande lank –  90 aande agtereen –  lek die vlammetjies elke aand van ons lang hibernasie in die bos. Ja 90 aande, Paul!

Twee ekstra vuurmaakplekke is juis vir die doel by ons boshuis aangebou: een voor by die stoep; die ander agter, nader aan die eetkamer en die kombuis.  By elk is ‘n verskeidenheid gedugte braaiers byderhand. Dit maak verskillende konfigurasies moontlik.

Elke braaier het ‘n naam wat op sy herkoms dui: bv. Neels se braaier en  Manie se braaier.  Neels Nothnagel was Johan se skoonpa. Hy is oolede. Manie Steyn van die Wes-Rand is ‘n dik vriend uit ons Tukkiedae in die jare sestig. Sy geskenk moes al die pad van Johannedsburg kom met my neef se groot 4 x4.

Om ’n braaiplek en ‘n braaier te kies, is deel van elke aand se ritueel. Nes die inspring in jou spesiale braai-“uniform” (ou klere deurtrek met rook en allerlei reuke). Die spuit van die nek, polse en enkels vir muskiete. Die aansteek van sitronellakerse en -fakkels.

Elke braaiplek het sy eie atmosfeer, sjarme en bekoring. Die keuse is soms ver van maklik.

Jesaja skryf soos ‘n ware vuurliefhebber:  “Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)].  Jesaja, ou maat, hierdie gryskop sekondeer sommer met albei hande in die lug.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.