DANKIE, LOUISE

April 15, 2020 in Uncategorized

Apr 15, 2020

Ek glimlag van oor tot oor. Reken ek moet maar een van my laaste botteltjies wyn oopmaak en ‘n glasie klink om die mooie resensie deur Louise Viljoen op Maroelamedia van my reisverhaal “Na verre hawens” te vier.

Verlede week sou die bekendstelling gewees het op die MSC Orchestra op pad terug Kaap toe van Walvisbaai af. Raai wat het daarvan geword!

Ewenwel, ek sit nog so en peins oor die streep wat Korona ons getrek het met die ingrendeling en al sy tentakels toe ek die Facebook-boodskappie kry om by  https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boekresensie-na-verre-hawens/ te gaan loer.

Daar is die resensie toe.

Vir Louise ek het laat weet ek is oorstelp en oorweldig.  Dis werklik ‘n pragtige resensie.

Sy noem dit o.m. “256 bladsye tjokenblok vol heerlike vertellings van ons skeepsreise oor 50 jaar heen.”

Wat my getref het, is dat sy die Bybelversie voor in die boek spesiaal vermeld: “Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee … Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.”

So dikwels kyk mense daardie kapstokkie voor in ‘n boek mis, en so dikwels bevat dit ‘n besonderse stukkie pitkos.

Toe ek die versie in Psalm 107 (Nuwe Lewende Vertaling) raaklees, het ek dadelik geweet: dis nommerpas vir “Na verre hawens” bedoel.

My boek is ‘n uitnodiging om saam te reis.  Hierdie blog is ‘n uitnoding om die Van Deventers se  reise deur die oë van so ‘n  fyn waarnemer soos Louise Viljoen te geniet.  As die skakel om die een of die ander rede nie werk nie, tik net twee of drie van volgende die soekwoorde in: Maroela, Hennie van Deventer, Na verre hawens, Louise Viljoen.

Dankie, Louise,

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.