OM “KLIPPIES” TE KOU!

Junie 1, 2019 in Uncategorized

‘n Spesiale prys

Prysenswaardig hoe “Suid-Afrikaans” die MSC Musica in sy eerste (en enigste) seisoen hier te lande vinnig geword het. Die sprankelende Maria Tabada van Kroasië groet vriendelik in Afrikaans by die navraagtoonbank: “Goeie môre. Hoe gaan dit?” In die informele eetplek Il Giardino bemark ‘n Italiaanse kelner geesdrigtig sy ware: “Lekker, lekker. Ons gaan nou braai. Baie lekker sangria.“

Op die wynlys was (totdat die bekostigbaarstes teen 15 Mei opgeraak het) J.C. le Roux, Roodeberg, Zonnebloem, Spier, Durbanville Hills, Zevenwacht, Douglas Green en andere; selfs die ou staatmaker Drostdyhof se Claret Select – teen $9 ‘n bottel loshande die goedkoopste wyn op die skip! Bierdrinkers kon kies tusen Castle, Amstel, Windhoek en Heineken, later teen 20% afslag. Klipdrift was, as spesiale aanbieding, teen $37,95 ‘n bottel beskikbaar – seker nie te erg as jy met Euro’s reis – of soos hulle dit noem: oi-rous – nie, maar wat ‘n rand-en-sent-man nogal laar klippe kou!

Ook die Coca-Cola, Sprite en ander bygooigoedjies is in Suid-Afrika verpak.

In die informele eetplekke was produkte van Huletts, Clover, Heinz, Nescafè en dies meer. Op die spyskaart in die formle eetsale, die L’Oleandre en die Belle Epoque, was een aand onder meer “Frikkadels”, “Cape-Malay spiced salmon”, “Old Cape denningvleis” en “melktert”. Die denningvleis was nie soos ek dit by “Geelbek” in die Nasionale Weskuspark leer ken het nie, en die melktert wat ek vol bravade by my tafelgenote aanbeveel het, is aanvanklik met ‘n ander nagereg verwar. Gelukkig was daar Suid-Afrikaners …

Daardie tafel bied ‘n tema op sy eie. Voor die die vaart het ek taamlik wyd op Facebook en elders Afrikaanse tafelmaats probeer werf. Sonder welslae. Uiteindelik was aan tafel 549 die volgende agt: Darren en Liesl Scraggs van Queensland, Australië; Russ en Pat Mason van Freeville, New York; Chris en Catherine Wakefield van Wiltshire, Engeland, en die Van Deventers van Melkbosstrand – die Verenigde Nasies in aksie. Ons kelner was boonop Henri, ‘n raakvatter uit Madagaskar.

Darren en Liesl was voordansers. Hulle het elke liewe dansles bygewoon: mambo, bachato, cha-cha-cha, tarantella, tango, polka – noem maar op. Vir een les – wat werklik deur impi’s uit Suid-Afrika aangebied is – het hulle neus opgetrek : die Zoeloedans.

Pat wat presies soos die rooikop-aktrise Carol Burnett lyk en praat, het my verseker sy en Russ is nie verwant aan een van my Amerikaanse gunsteling-speurders, Perry Mason, nie. Ai tog, ‘n mens moet darem ook nie te veel verwag nie.

Ons was ‘n vrolike, joviale tafel. Om 25 aande net Engels te praat – in soveel variasies en aksente – kan egter veeleisend raak. Soms moes jy maar net dom saam glimlag. Watter verligting was dit dan nie as ek en Tokkie later ons onderlinge verskilletjies in kajuit 8102 in Afrikaans kon besleg nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.