HUIS VAN DIE HERE

Desember 14, 2015 in Uncategorized

kerk

Philadelphia se kerk

Sondagoggend weggeloop “outydse” kerk toe op ons bekoorlike buurdorpie Philadelphia. Ek het tuis gevoel. My siel is verkwik. Sal bepaald weer die klein draaitjie (net 15 kilometer) van Melkbos na Phildalphia toe ry.

Philadelphia se NG kerk staan patriargaal sy plek vol as hart van die landelike dorpie wat in die seisoen prentjiemooi deur groen koring en geel kanola omring word. Die voorkoms herinner nogal aan die moederkerk op Potchefstroom waar ek in 1957 belydenis van geloof afgele het. Voor die befaamde ds. Beyers Naude nogal. Ons het hom Oom Bey genoem.

1-IMG

Die uwe voor Potch se kerk in 2002

Albei kerke is oud en hul ontwerp is “tradisioneel” Huis van die Here. ‘n Waardige plekke van aanbidding. Jy voel die gewydheid aan as jy instap.

Philadelphia se kerk kom uit 1863. Dit het ‘n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en indrukwekkende preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop – ongeskend deur allerlei “orkesverhoë” en ander nuwerwetsighede.

Toe preek ds. David Phillips boonop ook “tradisioneel”. Neem sy boodskap uit Lukas 2 – die verhaal van die skaapwagters en die engele. Sy tema: ‘n goeie tyding vir alle volke. Broodnodige boodskap van hoop in onheilstye. Was ek dankbaar oor my besluit om soontoe te gaan. Dis mos soos ek kerk uit my kinderdae ken.

Eerste herinneringe aan die kerk steek vas by Sondagskool, waarvan ek ‘n mooi foto van ons Sub A-klassie het – deurgaans netjies gebaadjie en gedas. Ek gaan vandag nog (meesal) so kerk toe. Ek onthou dat ons elke Sondag ‘n teksversie uit die vuis moes ken. Daarmee was ek nogal oulik. Ek onthou veral die Hallelujaliedere “Jesus roep my vir ‘n sonstraal”, “Liewe Jesus, ek is klein” en “Jesus min my salig lot”.

In 1950 is ons Natal toe vir ‘n kort tussentydse verblyf by my Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz op Boshoek, naby Vryheid. Dit is waar ek met huisgodsdiens kennis gemaak het. Na aandete is die Bybel gebring, Oom Martiens het bril opgesit en in dowwerige lamplig goed gelees wat ek nie altyd verstaan het nie. Maar ek en my niggies, Lina en Elsa (Asja, het ek haar glo as kleuter genoem), moes verslag doen wat ons onthou het – wat soms ‘n penarie veroorsaak het.

Toe trou ma Baby weer en ons trek Durban toe. Ons gemeente is Berea. Die dominee was ds. John Adler, pa van Johan wat later ‘n bekende in die skakelwese was. Berea se kerk is, helaas, nou net ‘n saaltjie aan ‘n tehuis vir bejaardes.

Die volgende stasie op die lewensreis was Potchefstroom. Eers was ds. G.D. Worst, leraar van die moedergemeente, later Oom Bey en ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith wat jare later saam met sy oud-medeleraar op die voorpunt van die stryd sou wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking.

Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die Hoër Volkskool se twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het: “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande ná my sestiende verjaardag, by ds. Bey belydenis van geloof afgelê. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon.

Nou het ons nie meer Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”. In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.

Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Die meisies moes in gelid ‘n “rank” het ons dit genoem) kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie. Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was. Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid. Nou vind dit in die NG Kerk plaas sonder dat iemand van buite inloer.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water. Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg.”

Snaaks, Jesaja 55 onthou ek goed, maar vir die Bybelboeke moet ek dikwels Sondae die indeks raadpleeg. Darem nie as die dominee uit Lukas 2 lees, soos ds. Phillips Sondag op Philadelphia nie.

2 antwoorde op HUIS VAN DIE HERE

  1. tina10 het gesê op Desember 14, 2015

    Mooi foto’s

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.