DIE LEEU EN DIE LAM …
Augustus 28, 2015 in Uncategorized
Die Vyf Grotes op die terugtog van Balule na Sabiepark – toe gebeur dit gister die tweede keer in 10 dae. Hierdie keer, na die Kollegamanne se kuier, het die buffels ons tot op die laaste nippertjie laat wag. Eers by die Krugerhek het ons een langs die Sabierivier gewaar.
Dit het vyf uur gevat om nommer vyf af te tik teenoor twee en ‘n half uur die vorige keer. Nietemin ‘n baie spesiale rit gewees. Die eerste keer leeus rustig saam met twee ander spesies afgeneem (foto hierby); die eerste keer gesien hoe ‘n olifant snork, ore klap, laat spaander vir veiligheid en trompetter toe ‘n helikopter laag oor sy kop skeer; die eerste keer ‘n najalabul en -ooitjie saam gesien hier in die sentrale streek van die KNP.
Die Bybelse leeu-en-lam-toneeltjie was by die Mazithidam 9km noord van Tshokwane. ‘n Entjie nader aan Tshokwane het sewe leeus onder ‘n skaduboom koelte gesoek.
Natuurlik geen algemene rekord nie, maar vir die Van Deventers wel loshande een was ons vinnige Vyf na die Volksblad-saamtrek. In twee en ‘n half uur het ons leeus, luiperds, olifante, renosters en buffels afgetik – ook nie net een, een nie maar leeus nie minder as ses keer nie; luiperds twee keer, olifante en buffels groot troppe en renosters drie bymekaar onder ‘n boom. Boonop mooi troppe ander wild gesien. Ook samedrommings van van veral rooibokkies, sebras en blouwildebeeste by watergate.
Israeli het gesê op Augustus 29, 2015
Julle was baie gelukkig.Maar die lekker Sabiepark-Balule-kuier maak ruim op vir die minder diere langs die wildtuinpaaie.
Uit Melkbos het gesê op Augustus 29, 2015
@Israeli – Ons was geweldig gelukkig, ja. Lekker kuier EN wonderlike diere.
I het gesê op Augustus 29, 2015
Ek gebruik toe hierbo die woorde “maak op”. Beter sou seker wees: “vergoed vir” ?
Uit Melkbos het gesê op Augustus 31, 2015
@Israeli – Fout met “maak op vir”? Pla my nie.
tina10 het gesê op Augustus 28, 2015
Daar is nog die mooi nê
Uit Melkbos het gesê op Augustus 28, 2015
@tina10 Stel my die paradys so voor.