GETROUD MET GESINA

Mei 22, 2013 in Uncategorized

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tokkie, my eggenote vir 46 jaar, se doopname is Gesina Susara.  Geen kommentaar daarop nie. Moet dit egter noem om iets te verduidelik.

 Oud-minister en voormalige speaker Eli Louw is ook met ‘n Gezina getroud (z of s maak nie juis verskil nie). Vir hom lig ek my hoed hoog oor wat ek gister in ‘n rondlê-Burger raaklees: dat hy en sy Gezina 60 jaar getroud is.

 Sit nie in elke man se broek met ‘n Gezina/Gesina nie!

 Maar Eli Louw is nie sommer elke man nie.  Nog iets waarvoor hierdie gewilde Namakwalander spesiale vermelding verdien, is sy dapper rol in  die pynlike, stormagtige kabinetsvergadering van 14 Augustus 1989 waar pres. P.W. Botha oortuig is om teen sy sin die tuig neer te lê.

  Elke kabinetslid het daardie dag in Tuynhuis die kans gekry om sy saak te stel.  Eli Louw, goeie vriend van die president,  het opgemerk dat die P.W. Botha van voor sy beroerte en ná sy beroerte nie dieselfde man was nie.  Dit het vir hom heelwat wrewel van die gekweste president op die hals gehaal.  Hy het gevoel hy is in die rug gesteek.

Maar dit was raak woorde – direk tot by die kern van die saak.   

In ligter luim haal ek by die Louws se diamantbruilof graag ook ‘n storie op wat in my laaste humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel 2010),  verskyn.   

Dit is die storie van twee oujongkêrel-broers van Namakwaland wat  hul vingers sleg verbrand het  – die jaar toe hul beeste so moddervet was. Hulle kon sommer sien hier is hulkansom ’n groot slag te slaan, en hulle sit toe hoog in met die prys.

Kopers kom, kopers gaan, maar hulle hou vas. Toe, op ’n dag, kom klop ’n Johannesburger met ’n dik tjekboek aan hul voordeur. Die prys is reg, honderd persent.

Die koper skryf sommer dadelik die fris tjek uit. Maar nie lank nadat die vent met die beeste vort is nie, hier is sy tjek terug – VNT, verwys na trekker. Daardie ding ken die broers nie. Hulle sal moet in Loeriesfontein toe om die prokureur te gaan vra.

“Manne dis slegte nuus,” verduidelik hy. “Daai skarminkel het julle  verneuk. Hy’t nie geld nie. Al wat julle kan doen, is om ’n saak te maak. Anders gaan julle kaal uitkom.”

Maar nee, vir ’n saak sien hulle nie kans nie. Bedroë ry hulle toe maar terug plaas toe, en steek op die werf vir hulle ’n vuurtjie aan. Hulle tuur in stilte in die dansende vlamme, en bepeins sugtend hul sware lot.

 “Ou broer,” verbreek een oplaas die broeiende stilte en sak behaaglik op sy kampstoeltjie agteroor. “Daardie tjek het nou wel gehop, en dis verskriklik jammer en als, maar ons het darem wragtig ’n goeie prys gekry vir ons beeste!”

 Die bron van daardie storie was die prokureur by wie die twee broers op Loeriesfontein gaan aanklop het.  Sy naam is Eli Louw.

 Het nie ‘n idée hoekom ek dit nie in “Tamatiestraat” vermeld het nie.  Maar stel graag daardie ommissie nou hier reg.

6 antwoorde op GETROUD MET GESINA

  1. Was vir my bitter lekker om op hierdie blog af te kon kom. Hoe ouer ek raak hoe meer koester ek stories soos die van my oupa. Dankie waardeer dit!

  2. Spartel het gesê op Mei 23, 2013

    Is die verre verlede nie maar waarmee ons in ons jare dikwels besig is nie. So lank as wat ons nog kan onthou is die verlede ons werklikheid. Die toekoms, waarvan daar seker min vir ons voorlê, is vaag en dalk iets waaroor ons so min as moontlik dink.

  3. perdebytjie het gesê op Mei 22, 2013

    Lekker gelees hier by jou.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.