BRUID SE SINTUIG NO. 7

Maart 31, 2013 in Uncategorized

 

VAN ‘n sesde sintuig hoor ‘n mens dikwels. Ek is seker van die bestaan van ‘n sewende. Dit kom eksklusief by moderne bruide voor. Ek praat van hul verstommende vermoë om huwelikbestemmings uit te snuffel wat perfek by hul persoonlikhede en drome vir hul Groot Dag pas.  

 Die uwe is 46 jaar gelede in die NG kerk Bultfontein getroud. Agterna was in die kerksaal ‘n ietsie te ete en te drinke en ‘n paar toesprakies. Studentemaats het die bruidegom onseremonieel geborsel. Met ons kinders 30, 35 jaar later was dit al ietwat van ‘n ander storie. Pa was nog hulpvaardig besig om ‘n trouplek te help soek, groot genoeg vir al sy vriende, toe het seun en skoondogter al ‘n intieme gasteplasie vasgeknoop. Dogter en skoonseun is weer na ‘n wynplaas 70 km van die ouerhuis.  

 Sedertdien het troues nog meer eksoties geraak, soos ons gereeld in Huisgenoot se uitvoerige huweliksdekkings sien. Glansmense hak  die knoop deur op die strand, tussen wilde diere in ‘n reservaat, tussen wynvate, op bergspitse, onder die geritsel van blare in populierbosse en nog wat. Saterdag is die Van D’s diep die Weskus in agter so ‘n huwelik aan.

 Google was nie van veel nut met die uitwerk van die beste roete nie. Elke keer as hierdie ou hoopvol die trouplek se naam intik, word net ‘n klomp nuttelose Australiese besonderhede uitgegooi. Maar met dese en gene se hulp en advies is ons op die R27 af, deur Vredenburg, verby St. Helenabaai, Bittaniabaai se kant toe.  Ek sien toe sommer ook hoe lyk Lampiesbaai en Shelly Point.

 Die huwelik vind plaas met die dreunende Atlantiese Oseaan as agtergrond, langs ‘n skilderagtige strandjie met tamaaie rotse. Die stralende bruidspaar sweef af strand toe tussen ‘n erewag deur van bruilofsgaste wat met kinderlike plesier die lug met seepborreltjies vul.  Almal (buiten dié met heupe, rûe en knieë) is naderhand saam op die strand. Als in als ‘n “borrelende” okkasie.

 Die bruid wat haar droomplek met sorg uitgesoek en alles haarfyn uitgewerk het, is die skone Helen Jansen van Rensburg (kyk die foto!), dogter van ons vriende Philip en Nancé Jansen van Rensburg van Sunset Beach, Blouberg (en mede-Sabieparkers). Helen is getroud met Nicholas Muirhead. Sy is ‘n raakvat-meisie. Met ‘n bruid se sintuig nommer sewe het sy ook raakgevat met haar keuse van trouplek – ondanks Google se onkunde. Die bruid en hierdie afgesonderde strandjie lyk of hulle vir mekaar bedoel is.

 Sy kon sweer Helen het akkuraat bepaal hoe laat dit hoogwater sou wees, het Tokkie later opgemerk. Met die laaste troufoto op die rotse het die woelige branders al gevaarlik naby die stralende egpaar gebreek. Helen het sweerlik ook akkuraat vasgestel hoe laat die wondermooie sonsondergang sou aanbreek, meen ek.  Hoe anders kon die die natuur so volmaak saamspeel om die program soos ‘n moderne feëverhaal te laat ontvou?  

 Geluk, Helen en Nicholas, van die bejaarde Oom Hennie en Tannie Tokkie (nie so bejaard nie!) van Melkbos.  Onthou, voorkoms kan bedrieglik wees. Onder die spierwitte haredos is hierdie skynbare ou suurpruim se hart darem nog jonk genoeg om sulke onortodokse plesiere saam te geniet.  En TvD? Nog uitgeknip vir ‘n kaalvoet-bruidjie iewers op ‘n stukkie wit sand, meen ek.  Ek sien my vrou so in my verbeelding.

11 antwoorde op BRUID SE SINTUIG NO. 7

  1. Prettig.

  2. Spartel het gesê op April 1, 2013

    Interessant dat so baie bruide kaalvoettroues op strande of in mooi tuine kies vir hul groot dag. Simboliseer dit iets?

  3. vega het gesê op Maart 31, 2013

    Ons jongste s’n is volgende week en al wat Wyseman kan uitkry, elke keer wat hy kans kry om te praat is; “dis te duur, heeltemaal te duur….”
    Gelukkig verdien hulle genoeg en het lank gespaar om self helfte te betaal 🙂

    • Uit Melkbos het gesê op April 1, 2013

      @vega

      Elke maal as jy tjek uitskryf, voel jy die pyn diep in jou lyf … Simpatie, swaer – al betaal die bruisdpaar die helfte. .

  4. tina10 het gesê op Maart 31, 2013

    hehehehe… nou toe so herdenking kan erg romanties wees

  5. Woef-Woef het gesê op Maart 31, 2013

    Ek verwonder my ook aan die deesdae se oorspronklike trouplekke. Het self ook nog ‘n tipiese kerksaal troue gehou. Ek moet sê, ek staan verstom oor die kostes aan troues – ek sal die lotto moet wen voor ek sulke troues sal kan hou vir my kinders!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.