UIL EN DIE KIEWIET

April 23, 2011 in Sonder kategorie

 

 

‘n Konfrontasie tusen ‘n kroonkiewiet en ‘n reuse-ooruil in ‘n boom langs die H1-4 op pad terug van Olifants na Satara is dié een enkele toneeltjie van hierdie Aprilvakansie wat my sal bybly. Die arrme, verwarde uil moes net koes vir ‘n vale terwyl die kiewiet kwetterend een lugoffensief op die ander om sy kop loods.  Hy was seker te naby aan haar nes.

 

Die Vyf Grotes kon op daardie uitstappie afgetik word. Mooi troppe buffels het na Tshokwane voorgekom. By die skilderagtige Gudzanidam aan die einde van my geliefkoosde S100 na N’wanetsi was ‘n trop olifante in die water. Die leeus was vier welpies. Die skattige gevreetjies was in die lang gras langs die pad naby Olifants – op dieselfde stuk as ons luiperd en renoster.

 

In Sabiepark was ons nommer een-ervaring sommer op die eerste aand. ‘n Yslike luislang, ons eerste tot dusver – seker maklik vier meter van kop tot stert. Gelukkig het hy later moeg geword vir die laatwag-speletjie. Ons was haastig om by die huis te kom.

 

‘n Verdere vermeldenswaardigheid is die agt spesies wat ons Maandagaand 16 April binne twee uur besoek het, ‘n rekord. Hier was koedoes, sebras, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke, bosnagape, nagapies en ‘n gewoonlik uiters skugtere bosbokram, wat seker ‘n uur lank rustig om die huis gewei het – asof hy die koekieblik ontdek het, sê Tokkie. Die volgende met eerste lig was hier kameelperde en vlakvarke.

 

Carl en Sarah was Maandagaand hier vir ‘n skaapboud uit die Weber. Hulle het die volop wild ook geniet. Ongelukkig was die voolmaan agter die wolke.

 

Die bosnagape het die kleintjies nou uitgeboer. Eersgenoemde kom te laat. Die ou grotes laat nie op hulle wag nie. Hulle sit in die maroelaboom of stap ongeduldig op die dak rond. As die piesang op die tafel kom, is dit verby met Doris Day.      

 

Ons is vies vir die bosknape wat alles vir hulleself inpalm. Een het ‘n hele gesinnetjie egter in die boom sit en wag – die toonbeeld van huislikheid. Ma en kind lek mekaar oor en weer. Toe die ete op die tafel kom, bars huismoles egter los. ‘n Ander aand het een seker ‘n uur lank in die knoppiesdoring voor die huis sit en skree, tot sy stem deurslaan. Wat hom ontstel of opgewonde gemaak het, kan ons maar net raai.

 

Ons het uiteindelik ‘n witmot kon afneem met die geweldige angel ontbloot. Jy kan sien hoekom is daardie gogga se byt nie speletjies nie.  

‘n Ander vreemde verskynsel was ‘n reuse-sampioen – brons, blink en breed. Tokkie se twee hande kan dit nie toevou nie.

 

Iets nuut van ‘n ander aard om aan gewoond te raak, is die geen-alkohol-reël vir dagbesoekers aan die Wildtuin. ‘n Wyntjie by Lake Panic is deesdae uit. Ek moet ook gewoond raak aan die ys (sulke klonte) in my wyn langs die vuurtjie. Maar ek MOET gewig verloor!

 

Die dak voldoen aan ons verwagtinge. John Izaaks het netjies gewerk. (HvD)

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.