ADVOKAAT VIR POLISIE

April 17, 2011 in Sonder kategorie

Waar kampvuurtjies, kakieklere en velskoene heers, en waar sonkrag, lampe en lanterns vir lig sorg, is ek nie een vir swaar letterkunde op my bedkassie nie. Hou dan maar die Akademiepryswenners eers eenkant!

 

In Sabiepark lees ek graag oor die natuur. ‘n Gawe boekerytjie oor dié onderwerp kom op dreef met Africana soos Memories of a Game Ranger van Harry Wolhuter, Sanctuary van C.S. Stokes en Wild life in South Africa van J. Stevenson-Hamilton (die nimlike Skukuza) op my boekrak.

 

My eie bosboeke – Buurman van die Wildtuin, die twee Mayafudi’s (Afrikaans en Engels), my gedenkboek by HvD60, Halfpad Hemel Toe, Olifante Onbeperk en Sabiepark-foto-album – word trots naas die bekender werke van gewigtiger skrywers (figuurlik!) uitgestal.

 

Ek lees ook vir ontvlugting. James Hadley Chase wat in my jonger dae my kos was op doerie dae se Buffelsbaai-vakansies word fluks herbesoek. Soms soek ek pitkos, veral biografiese en semi-biografiese werke van eietydse sleutelmense met prikkelende insigte en relevante stories om te vertel.

 

Hierdie Aprilvakansie bring my Sabieparkvriend Frik Nel, voorheen brig. Frik Nel van die Veiligheidspolisie, vir my die boek van die laaste kommissaris in die ou bedeling, generaal Johan van der Merwe, Trou tot die dood. Daarin kyk hy terug op ‘n bewoë stuk geskiedenis wat ek as joernalis self intens beleef het. Toe ek begin lees, is ek dadelik geboei.  

 

In hoofstuk na hoofstuk ontvou die brandpunt-episodes. Sommige het al ietwat vervaag. Die hoofstuk oor die Cato Manor-opstand voer my byvoorbeeld terug na ‘n amper vergete Saterdagmiddag in die jare 60 op Stilfontein in die ou Wes-Transvaal toe ek as studenteverslaggewer die huwelik van ‘n oorlewende bygewoon het. Die bruidegom in sy blou polisie-uniform se gesig was vol permanente letsels.

 

Een helder herinnering, daarenteen, is aan die Silverton-bankbeleg in my Beeld-dae in die jare 70. Frik was, terloops, aan die spits van die ondersoek. Ek sou hom egter eers meer as drie dekades later oor ‘n tjoppie en ‘n glasie wyn, die eerste van vele, in Sabiepark leer ken.

 

Dit voel soos gister toe die foto’s van die voos geskiete terroriste binne die bank die aand by Beeld op my lessenaar beland. Soveel bloed en sulke stukkende liggame op die voorblad? Die gedagte het my aanvanklik laat terugdeins.

 

“Gooi dit groot,” was die advies van my kollega wyle Bob van Walsem, ‘n beredeneerde Hollander. “Die mense sal die bliksems so wil sien.”

 

Die polisieman Mof de Klerk se onskuldige swanger vrou is in die chaos in die bank dood. Die storie van sy desperate pleidooi om aan die stormloop deel te neem, gryp my opnuut aan. Sulke herinneringe laat my besef hoe in die kol Bob daardie aand was. Die mense WOU groot foto’s van dooie terroriste sien om die weersin uit hul bloed te kry.

 

Later, met die Kerkstraat-bom in die jare 80, toe ek al by Die Volksblad redakteur was, het ek gewens dat ons sulke grafiese foto’s gehad het om tot troos en stigting van ons lesers te plaas, nie net foto’s van die dood en verwoesting in die eie kamp nie.

 

Generaal Van der Merwe skryf volledig en openhartig oor omstrede insidente en sensitiewe sake soos hakkejagte oor landsgrense heen, Vlakplaas, Dirk Coetzee en Eugene de Kock, asook die onheuglike openbaarmakings by die WVK. Hy erken dat soms te ver gegaan is. Maar hy spaar nie die roede oor sekere politici se rol nie. Die polisie is deur sekere vername here gruwelik in die steek gelaat, betoog hy.

 

Sy bitterheid oor die vrotsige hantering van die kritieke kwessie van algemene amnestie is opgeteken in woorde van gal wat duidelik steeds in sy mond opstu.      

 

Hoe het die persepsie wyd in die polisie ontstaan dat bepaalde dade tot op die hoogste vlak ondersteun en selfs goedgekeur is? Generaal Van der Merwe gee ‘n verklaring wat na my oordeel nogal geloofwaardig is. Mense met kort geheues kan gerus kennis neem.

 

Natuurlik sal sommige kritici hom wil braai. Niemand is mos so fel in hul verwerping nie as diegene wat eensydig alle gruweldade van die terroriste-oorlog net by die veiligheidstak – en veral net by wit Afrikaners – wil soek. Hierdie leser had plek-plek ook onbeantwoorde vrae oor bepaalde buitensporighede en optredes, maar een ding moet ek sê: ‘n beter advokaat as Johan van der Merwe sou sy era se geregsdienaars ver moes gaan soek.

 

Nie net as ywerige pleitbesorger dwing hy respek af nie, maar ook as toegewyde aktivis vir elke polisieman se persoonlike en kollektiewe belang.

 

Wat my deurgaans in Trou getref het, is die hegte polisie-broederskap wat grootliks tot vandag toe onder daardie generasie voortbestaan. Ek het altyd gedink boere help mekaar soos niemand anders nie. Hulle ploeg, saai en oes vir medeboere, herbou huise, skenk van hul beste eie vee om bure weer op die been te bring. Ook in Colorado in die VSA het ek hierdie ingesteldheid beleef by ‘n rodeo naby Denver om geld in te samel vir ‘n jong boer wie se opstal afgebrand het.

 

Maar die polisie staan nie terug nie – hulle dra mekaar se laste op waardige wyse op hul breë skouers met die sterre en ander rangtekens.    

 

Oor een insident misgis Johan van der Merwe hom. Dit was nie Die Burger wat met sy scoop oor verbeterde polisievoordele vir die verbysterde minister Adriaan Vlok verplig het om ‘n voortydige aankondiging in die Parlement te doen nie. Dit was Die Volksblad. Jinne, die joernalis Jelleke Wierenga wat die boek persklaar gemaak het, behoort dit darem agter te gekom het, want Die Burger het mos nooit smiddae verskyn nie!

 

Klein dingetjie, maar sulke klein dingetjies waarvan jy persoonlik kennis dra – ek as skuldige redakteur moes generaal Leon Mellet die kastaiings uit die vuur help krap – laat jou ongelukkig wonder hoeveel ander “klein dingetjies” deurgeglip het.

2 antwoorde op ADVOKAAT VIR POLISIE

  1. Kobus

    Terug uit die bos. Lees JvdM se boek gerus. Hy kan die buitensporighede van die “cowboys” nie wegpraat nie, maar hy lok respek uit. Hy is bepaald geen bose mens nie! Ek sukkel sedert gister sonder welslae om ‘n blog op te laai. Het jy ook die probleem?
    Groete.

  2. Hierdie boek moet ek beslis lees. Ons gaan die komende naweek Onrust toe vir ‘n week en dit is beslis die soort leesstof wat ek sal geniet. Vermoedelik sal Exclusive dit hê. Van die derde Mei tot daardie Vrydag, terwyl Cecile in Johannesburg is, gaan ek my grootworddorp, Hofmeyr, in Oos-Kaap besoek. Ek wil my worstels verder gaan soek. En ook sommer perspektief. Geniet jou Sabie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.