CHRIS LOUW: EK ONTHOU

Desember 2, 2009 in Sonder kategorie

Die laaste keer dat ek oor Chris Louw geskryf het, was goedkeurend – toe hy in April vanjaar onder sy ou makker André P. Brink ingeseil het oor dié se afkrakende resensie van die historikus R.W. Johnson se jongste boek, South Africa’s Brave New World.

 

Die belese Louw het ontmasker dat Brink klaarblyklik vir Johnson in eie munt terugbetaal vir ‘n negatiewe resensie in die Londense Sunday Times van sy biografiese ontboeseming A Fork in the Road.  

 

Die gewoonlik spraaksame Brink was sprakeloos nadat dié persoonlike vendetta só deur Louw oopgekrap is, en ek het gemeen dat laasgenoemde – met wie ek in my lewe meer verskil as saamgestem het – ‘n pluimpie vir ‘n stukkie raakvat-joernalistiek verdien.

 

As ek oor Louw ‘n bydrae sou moes skryf vir my pas verskene boek Byl in my bos met herinneringe aan ‘n 130-stuks tydgenote wat vooruit langboompies toe is,  sou dit egter eerder gefokus gewees het op ‘n aanval waarin die uwe die voorwerp van Louw se wrewel was.  

 

Hoe onstuimig dit verloop het, word in die spotprentjie hierbo verklap. Dit het op 27 Julie 1997 in die Sondagblad Rapport verskyn nadat ek op die RSG-program Monitor onder ‘n Louw-tirade moes deurloop.

 

Louw het in die onderhoud my onboetvaardige voorlegging aan die WVK as “geromantiseerd”, “naiëf”  en “selektief” afgemaak. Verligte Afrikaanse redakteurs was, wat hom betref, onafskeidelik deel van die “apartheidsregime” en daarmee basta. Hy het uiters opgewonde geraak en het my omtrent verskreeu.

 

Ek kon reageer dat niks in my voorlegging nie op bewysbare feite berus nie. My aanspraak is nie dat my gewese koerant  Die Volksblad die baanbreker was nie; wel dat hy gedoen het wat binne die beperking van sy lesers se ontvanklikheid vir die nuwe politiek moontlik was.

 

Maar die heel belangrikste: hy het resultate gelewer. By die kruispad het die meerderheid Vrystaters vir hervorming en teen regse radikalisme hul kruisies getrek.  

 

Of dit op Louw indruk gemaak het, twyfel ek. Hy het voortgegaan om hom vir nog twee Vrydae selfversekerd teen luisteraarskritiek te verweer, sonder om my weer kans te gee.

 

Ongetwyfeld sou sekere luisteraars Louw op die skouer wou klop en sê: “Goed so!”  Selfs wildvreemdes het my egter gebel om solidariteit te betoon. Onder ‘n pak briewe was van ou bekendes van wie ek lank nie gehoor het nie. Dus het daardie “inkwisisie” darem ‘n goeie doel ook gedien!

 

Later het dit uitgelek dat ook van Louw se eie kollegas hom voor stok gekry het. Hulle was professioneel verleë, omdat hy tegelyk aanklaer, regter en laksman probeer wees het – ‘n vreemde rol vir ‘n joernalis wat besig is om n onderhoud te voer.  

 

Vandag kan ek nogal die humor in die situasie raaksien, want ek was nog in my pajamas toe hy my die oggend op Melkbos bel, en het – soos my gewoonte was as ek ontsteld raak – later met die gehoorbuis teen die oor in die slaapkamer op- en afgemarsjeer, totdat die telefoon met ‘n slag van die bedkassie getuimel het!

  

Maar ek sal nie ontken dat ek geruime tyd briesend was nie.

 

Genoeg daaroor. By Chris Louw se heengaan, is ek werklik spyt dat ek hom nie later jare kon uitvra oor hoe hy nou oor daardie konfrontasie voel nie.  Uit sy jongste skrywes het dit immers toenemend duidelik geword dat sy entoesiasme vir die huidige Suid-Afrika in verskeie opsigte skerp aan die taan was, en sy frustrasies dienooreenkomstig aan die toeneem.

 

‘n Mens kan selfs wonder in watter mate politieke ontnugtering bygedra het om hom só “gatvol” te maak dat hy op 57 gekies het om nie langer te leef nie.    

3 antwoorde op CHRIS LOUW: EK ONTHOU

  1. Izakdv het gesê op Desember 3, 2009

    Goeie artikel

  2. Mouroir het gesê op Desember 2, 2009

    Ek glo ons hoef nie te wonder in watter mate politieke ontnugtering bygedra het tot sy laaste desperate daad nie…
    Soos die lei-artikel op vanoggend se voorblad van Beeld tereg sê : Hy was tot die dood toe gatvol…

  3. Dankie vir hierdie juweeltjie. As ‘n leek wat die joernalistiek betref, het ek waardering gehad vir sy ondersoekende manier van joernalistiek. En dit, so kom dit my voor as ek veral na RSG luister, ontbreek vandag.
    Lekker dag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.