Brief uit Melkbos

Desember 10, 2019 in Uncategorized

Liewe vriende

Die tradisionele Kers-CD uit Melkbos het gesneuwel in 2016, die jaar toe Tokkie 70 en ek 75 geword het.  Die tradisionele Kers- en Nuwejaarsbrief uit Melkbos met ‘n verslag (en selfs ‘n foto of twee) van die jaar se wel en wee in die Van Deventerkamp het voortgeleef.

Dalk sou dit ‘n netjieser afronding gewees het as ons die brief tot 2021 bly stuur het.  Tokkie bereik dan die geseënde baken van 75 en ek die ouderdom van 80 – die jare van diegene wat “baie sterk is,” aldus Die Bybel (D.V.)   Ons het egter van sulke ambisies afgesien.

Vanjaar dus geen uitvoerige epistel uit die Van Deventerhuis nie.  Ook in daardie opsig het die tyd na ons oordeel aangebreek om, soos op ander terreine,  ‘n streep te trek.

Wel kan ons, ondanks enkele stampe en stote,  dankbaar van vele seëninge in 2019 getuig. Ons gaan met dankbare harte Kersfees tegemoet.

Ons hoop is dat ons almal oorvloedige seën sal geniet en in hierdie uitdagende tyd vir Suid-Afrika tog wel vrede en vreugde sal ervaar.  Mag die nuwe jaar gelukkig, gesond en voorspoedig verloop.

Hennie en Tokkie

REKENAAR-VERSKRIK

Desember 6, 2019 in Uncategorized

Herman Toerien skryf in sy Weeklikse Nuusoorsig vir die TLU op Maroelamedia se webblad  (verkorte weergawe):

“‘n Klompie van ons is in Hennie van Deventer se kantoor saamgetrek. Hennie was destyds, in 1981, redakteur en gaan ons toespreek oor ‘n belangrike verandering aan die koerant – die wegdoen met die loodgietstelsel en oorskakeling tot litografie. Die ou bekende “bloutjies”, ‘n deurslag wat op ou tikmsjiene uitgemoker is, is op pad uit. Rekenaars gaan die ding doen.

“Hennie agter ‘n rekenaar? Hennie agter sy tikmasjien met sy vingers wat oor die toetse vlieg, was immers ‘n baie bekende gesig. So vinnig het sy vingers die toetse bygedam dat ek tot vandag nie seker is of hy al tien vingers ingespan het, of, soos, ek net die twee wysvingers nie.

“ ‘Hier gaan ek rang trek,’” skerts Hennie in ligte luim. “Ek gaan my tikmasjien gebruik. Iemand anders sal dit in die rekenaarstelsel moet intik.’

“Ek is weg by Volksblad nog voordat die rekenaars gekom het, en weet nie hoe lank Hennie toe wel sy verhouding met die tikmasjien voortgesit het nie. Ondanks sy gehegtheid aan die tikmasjien het hy toe tog rekenaars onder die knie gekry. Altesaam 16 boeke nie uit nie, vertel die verhaal.

“Hennie se uitsonderlike geheue het ons jongklomp verstom, veral wanneer jy as groentjie ‘n storie by ‘n voorganger “erf.” Hy kon jou kennisleemte in die skerpste besonderhede toelig – met besonderhede wat dikwels ‘n gans ander lig op die saak kon werp.

“Dat Hennie ‘n besonderse humorsin het, het ek ontdek nadat die redaksielid wat vir die rubriek, Korrelkop verantwoordelik was, ‘n ander pos opgeneem het. Korrelkop was ingestel om met ‘n “kritiese oog” na die nuwigheid, TV, te kyk. Die SAUK- TV was nuut en taamlik baie flaters is begaan. Die flaters het onder die vingers van Korrelkop skreeusnaaks geword. Ek was binne hoorafstand toe ek hoor hoe iemand vir Korrelkop vra wie nou Korrelkop gaan wees. “Die baas gaan dit blykbaar self doen?”antwoord Korrelkop.

“ ‘Wat, Hennie?’”reageer die verslaggewer verbaas. “Jong, Hennie het ‘n skerp humorsin.”

“Hy het toe nie Korrelkop regtig oorgeneem nie. Dis egter of humor ‘n belangrike anker van nie net sy skryfwerk geword het nie, maar sy lewe. Boek ná boek, uit sy huis oorkant die baai van Tafelberg af tot uit sy winter-uitspanplek (en ander tye van die jaar ook) by die Krugerwildtuin.

“Die tyd stap aan. Groot gees op groot gees word weggeneem. Hennie word gespaar om steeds pennevreugde te verskaf – ligjare verwyder van daai Olivetti in die hoek van sy redakteurskantoor waar bloutjie op bloutjie uitgespoeg is.

“Verskeie skeepsreise is aangepak. En skeepsreise so saam met gesinslede of vriende lewer baie onderwerpe vir verhale wat in “vingertaal” opgediep kon word. As daar nie genoeg vriende aan boord was nie … geen probleem nie. Vriende word gou-gou gemaak en deel van opgetekende avontuur op avontuur aan boord. Met Na Verre Hawens kan u deel word van die opgetekende verhale van ‘n meesterverteller wat soos ‘n goeie verslaggewer bedrewe waarneem.

“Na Verre Hawens word op Donderdag 9 April 2020 om 12:00 heel gepas by die Oppiwaterfees bekend gestel. Die fees is van 5 April tot 10 April aan boord van die MSC Orchestra. Die skip vaar uit Kaapstad na Walvisbaai en Luderitz. Die boek is te koop by boekwinkels en aanlyn by www.naledi.online. Die skakelpersoon daar is Tertia Swart by tertiaswart@naledi.online”

HULDE AAN “NANCY O”

November 26, 2019 in Uncategorized

My hulde vandag by die viering van kollega Nancy Oosthuysen se lewe by die Durbanville-gedenkpark:

“Nancy was Jan se vrou Nance, sy was Marina en Elsabe se ma Nancy, sy was Fred se skoonma Nancy, sy was Lexi en Christian se ouma Nancy. Sy was ook die Volksblad-familie se kollega Nancy.  So deel van die koerant, soos ink en papier, soos Nissa Vosloo dit sekuur stel. Opregte waardering dus vir die uitnodiging om haar vandag ook uit hierdie perspektief – die pers-perspektief – met ‘n laaste eresaluut te vereer.

“Hoekom heg ons koerantgarde aan Nancy Oosthuysen soveel waarde? Natuurlik oor ‘n marathon-loopbaan vol onderskeidings.  Sy het net bly inploeg en inploeg, al doer uit die jare 50. Ons eer haar ook vir iets anders: haar magnetiese manier om in almal se harte te kruip. Sy was ons kameraad. ‘n Rotsvaste steunpilaar. ‘n Warm uitreik-mens wat jou altyd sommer net laat voel het: die ondermaanse is darem ‘n gawe plek om te vertoef!

“Nà ‘n skof van meer as 30 jaar se uitblinker-diens onder die Volksblad-sambreel het Nancy in 1996 afgetree. Op 2 Mei 1996 het ek uit die Kaap vir haar in ‘n brief geskryf: “Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie in ‘n warm stoel in die subkantoor nie.” Ek het bygevoeg, en ek haal net twee of drie paragrawe aan (want Nancy was nooit lief vir lang gedermtes en lastige oorlope nie!):

“ ‘Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot sy hoogtes vandag. ‘n Mens wens jy kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (vir die oningewydes: dis opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy  …  (hierdie is belangrik) … ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het.

“‘Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens bied. Ons groet ‘n kollega soos min –  klein van gestalte maar groot van formaat.’

“Amper ‘n kwarteeu het verloop. As ek vandag vir Nancy weer ‘n tot-siens-brief moes skryf, sou ek vrymoedig alles in daardie skrywe van Mei 1996 kon herhaal.   ‘n Sterk naskrif sal egter moet bykom.

“Ja, inderdaad,  Nancy O – my kodenaam vir haar – was knap, dinamies, lojaal, propvol idees, deurgaans hardwerkend, pligsgetrou, kordaat, ferm en verbind tot kwaliteit – “alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag”, soos ek in Media24 aan haar hulde gebring het.  Maar Nancy was meer as net die somtotaal van hierdie lys voortreflikhede.

“Sy was ook ‘n uiters meelewende mens. Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, het haar belangstelling in die koerant en sy mense – háár ander familie  – nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – jonk en oud – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra. Selfs kinders en kleinkinders van kollegas het sy gekoester.

“n Tydgenoot, die letterkundige Jaap Steyn, ‘n verbete vrygesel, het haar in sy boek “Sonkyker” beskryf as “beeldskoon” en “immergroen”.  Die liewe Jaap kon, terloops,  gerus eienskappe soos “sprankelend”, “stralend”, “pikant” en “sjarmant” bygevoeg het, maar uit die lierwe kollega se mond kom, bygesệ, nie dikwels romantiese vleitaal nie.

“Ek leen by hom die beskrywing “immergroen” Nancy was een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid (soms ook ‘n tikkie ondeundheid en parmantigheid!)  dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om vir altyd jonk en fleurig te bly.  Helaas bly daardie geheim onontrafel en ‘n ewige jeug ‘n onbereikbare droom. Die sware dag het onvermydelik aangebreek. Op ouderdom 84 moet ons ons swaargewig-buks vir oulaas groet.

“Verskeie generasies is by hierdie gelentheid verenig daarin dat die vlag in hul harte uit liefde en respek halfstok hang. Dit sal vir lank nie weer vrolik kan wapper nie”.

“OORLOG” OP MELODY SE DEK

November 25, 2019 in Uncategorized

“Hennie van Deventer volg die spoor van die Melody deur gevaarlike waters  langs die Oos-Afrikaanse kus…” So word vanoggend op Media24 se boekeblaaie berig in ‘n kort bekendstelling van my boek “Na verre hawens”. Ek wonder hoeveel mense onthou die seerower-aanval op die Melody in 2009.

Die huidige gesagvoerder van die Musica, kaptein Ciro Pinto, was destyds in beheer van die Melody. Hy het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap toe twee verskrikte passasiers aangehardloop kom met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”

Die ongeloof was groot. Die verrassingsaanval was ’n verbluffende 1 000 seemyl (sowat 1 850 kilometers) van die Somalilandse kus af. Die twee het voet by stuk gehou. Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.

Kaptein Pinto het toe alarm gemaak. Hyself het na die brug gehardloop waar hy die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig het. Die seerowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand. Die Israelse veiligheidsmanne het teruggeskiet.

Dit het soos “oorlog gevoel”, vertel kaptein Pinto. ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref. ’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.

Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat jou hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, vertel sy. Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng. Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek.

Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”

Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.

Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus. Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan. Dit verstaan ek maar te goed. Dis ‘n opwindende vaart.

Dat die bedreiging aan die bemannning van die Musica vat en vir hulle spanning inhou, kon ’n mens egter agterkom, veral aan die senior offisiere. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ’n MSC-skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ponti genooi vir ’n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge.

Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ’n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So is ons meegedeel. Die waarheid is natuurlik dat hy op waak was oor moontlike verdagte bewegings in die gevaarlike waters.

ONS GROET ONS GENERAALTJIE

November 20, 2019 in Uncategorized

Ons sakformaat-generaaltjie het ons ontval en in die harte van Volksbladmense van verskeie generasies hang die vlag uit liefde en respek vandag halfstok. Nancy Oosthuysen (84) was  fyntjies en kleintjies van postuur. Haar bydrae daarteenoor was enorm. Sy was knap, kordaat, lojaal, hardwerkend, propvol idees  – alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag.

‘n Mens wens jy kon haar loopbaan statisties in perspektief plaas: deur byvoorbeeld hoeveel voorblaaie met impak uit haar skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld sy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel jonger kollegas sy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het. Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld bied van haar diens aan Volksblad.  Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet jy egter maar op aanvoeling staatmaak. Myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van statuur.

Van Nancy – wat  vandag  op 84 oorlede is  – het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas.  Jaap was nie verkeerd nie. Hy het net die tydsduur onderskat.

Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, was sy een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om jonk te bly. Haar belangstelling in die koerant en sy mense – haar mense –  het nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – selfs enkeles wat nou nog in diens is – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra.

Dit was vir die Van Deventers ‘n vreugde om die laaste klompie jare hier in die Kaap die Bloemfonteinse konneksie voort te sit. Ons het altyd in ‘n gees van kollegialiteit lekker saam met die Oosthuysens gekuier en herinneringe oor die goeie ou dae opgediep. Die leemte sal lank ‘n diep seer wees.

WERKLIKE JAAGDUIWELS

November 13, 2019 in Uncategorized

Oor jaagduiwels in die Krugerwildruin het ek nog ‘n woord op die hart.

Dit is opvallend waar die snelstrikke opgestel word. Meesal laatmiddag op pad uit naby die groot hekke. Lekker inkomstetjie uit toeriste wat aanstoot om betyds by die hek te wees. Ek praat hul vinniger ry nie goed nie, maar hierdie mense is nie die primere jaagduiwels wat kameelperde, jagluiperds, hienas, koedoes, impalas en ‘n rits kleiner diertjies doodry nie.

Stel ondersoek in waar word die meeste gejaag, wie jaag die meeste, hoe vinnig jaag hulle werklik, en waar kom die meeste diere-ongevalle voor. Dan hoort die snelstrikke op ander tye op ander plekke as op diie oomblik om by die wortel van die kwaad te kom.

DOOD OP WILDTUINPAAIE

November 11, 2019 in Uncategorized

Altyd hartseer as ‘n dier in die wildtuin deur ‘n roekelose bestuurder doodgery word,. Gewoonlik is dit die kleintjies – patrysies, skilpaaie, dwergmuishondjies en die – wat platgetrap word. Ook groter diere bly in die slag – soos die kameelperd nou.

‘n Keer in 2012 het ‘n afleweringswa teen hoe spoed ‘n motor verbygesteek en by Skukuza in ‘n troppie impalas ingeploeg. Sewe is dood. In dieselfde tyd het besoekers op ‘n luiperd in ‘n plas bloed in die middel van ‘n teerpad afgekom. Ook doodgery. Gerugte het sterk geloop dit was die een of ander hoe besoeker se voertuig. Hy het nie eens stilgehou nie. Die insident is doodgeswyg.

Op 7 Mei 2014 was ons op pad om in Onder-Sabie te gaan stem (minder besige stembusse as Skukuza s’n) toe ons skielik die flenters polisiebakkie op die foto voor ons sien. Haastige diender gewees. Blykbaar soos ‘n besetene van Krokodilbrug se kant gejaag om “orde by die stembus te handhaaf”. Toe tref hy ‘n olifant.

Die bestuurder van die voertuig wat die sewe impalas doodgery het, is lewenslank uit de wildtuin geskors. In die algemeen word oortreders na my oordeel egter veels te sagkens behandel – veral die verduiwelse taxi’s wat met soveel minagting vir die natuur en natuurliefhebbers doodsveragtend van bestemming tot bestemming jaag.

AS ‘WANDERLUST’ PAK

November 7, 2019 in Uncategorized

“‘n Gesellige lekkerleesboek gekenmerk deur ‘n vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. So beskryf my jarelange kollega met ‘n “verbete wanderlust” in sy bloed, Sarel Venter, my nuwe boek “Na verre hawens” (Naledi, 2019) in ‘n heerlike saamgesels op Litnet. Geniet ook die humor, voeg hy by.

Sarel skryf:

“Beskrywings van reise na verre lande en hawens het my van my kinderdae af bekoor. Ek was nog in die laerskool toe ek Daar ver oor die see deur “Tannie” op my moeder se boekrak ontdek en byna verslind het danksy ’n verbete nuuskierigheid en ’n honger wanderlust. “Tannie” was die skuilnaam van H van Heerden. Sy vertel van ’n reis per skip, byna ’n eeu gelede, van Kaapstad na Europa. Dié kosbare boek met foto’s is in 1929 deur Nasionale Pers uitgegee en word as Africana gereken.

“My wanderlust is verder aangewakker deur vertellings van my oom wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog per skip van Durban af deur die Suezkanaal na Egipte en later Italië gevaar het … en na die oorlog veilig teruggekom het.

“Sulke reisbeskrywings, veral per skip, is gewilde leesstof by hierdie leunstoelreisiger, en laat by my die ou kinderliedjie opduik: “Eine Seefahrt die ist lustig, eine Seefahrt, die ist schön, denn da kann man fremde Länder und noch manches andere sehn. Hol-la-hi, hol-la-ho…”

“Hennie van Deventer se hoogs leesbare blogs oor verskeie reise wat oor sowat vyf dekades per skip onderneem is, het nou ’n boek geword; ’n boek wat geroep het om “te water gelaat” te word. Na verre hawens – sy jongste (en negentiende) boek – het pas by Naledi verskyn.

“Toe seereise op luukse skepe langs die Suider-Afrikaanse kus alledaags begin word het, het ek ook vir my en my vrou op so ’n vaart van Durban na Maputo en verder met die Sinfonia bespreek, maar ons skip het nie gekom nie weens onvoorsiene siekte. My belangstelling in hierdie reise het nie afgeneem nie en ek het ontdek dat ’n mens op die internet kan gaan kyk waar die skepe hulle bevind. Probeer dit gerus. Tik byvoorbeeld “Where is the Sinfonia now?” op Google in en jy kry ’n blik op die wye oseaan en byvoorbeeld die skip se swembad uit ’n kamera hoog op die skip, of sien self hoe lyk die omgewing van so ’n skip waar dit in ’n hawe vasgemeer is.

“Met die tik hiervan was die Sinfonia by Santorini in Griekeland en op die punt om na Split in Kroasië te vertrek.

“Met nostalgie, en ook met humor, vertel Van Deventer van byna elke reis – met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke en weelderige Queen Mary 2, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies. Maar kom ek deel ’n paar lusmakertjies met voornemende lesers:

Die Pendennis Castle, die kroonjuweel van die Union-Castle-vloot: Hierdie reis van Kaapstad na Durban in 1970 was die Van Deventers se nooiensvaart. Hy vertel met nostalgie en ook met humor van hierdie vaart. Maar tien jaar later is “ons skip” in ’n Taiwannese hawe afgetakel. Seker die lot van byna elke skip wat nie onder die golwe verdwyn nie. Gereduseer tot ’n hoop afvalmetaal. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.

Die Sinfonia klink na die Van Deventers se gewildste skip waarmee ’n hele paar reise onderneem is – voordat die weelde-vaartuig middeldeur gesny is om ’n stuk skip so groot soos ’n woonstelgebou in te las! En weer die oseane aan te durf … Met hierdie skip het hulle ’n byna sentimentele verhouding opgebou.

Die Sinfonia-vaart met hul tweeling-kleinseuns, wat toe 5 jaar oud was, staan uit, en gee soveel plesier. Van Deventer skryf: “Die sorgvrye ure saam met die kinders op die dek sal dié oupa vir niks verruil nie”. En verder: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ’n wenkombinasie. Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ’n salige plek is om op te vertoef.”

Die reis van 22 dae op die Queen Mary 2 – van Kaapstad oor Durban, Mauritius, Fremantle en Melbourne na Sydney – was onvergeetlik en ’n groot deel van die boek handel oor wat op so ’n droomvaart op jou wag. ’n Pluspunt van hierdie boek is dat die skrywer nie net van al die voortreflike dinge op die skip vertel nie, maar waar moontlik ook uitbrei oor die besienswaardighede van die “verre hawens” waar die skip aandoen. ’n Reis op die ontsagwekkende Queen Mary 2 word ’n voyage en nie ’n cruise nie genoem. Mindere skepe, selfs groter as die Queen Mary 2, is vakansieskepe, nie ocean liners nie.

Twee ander lang reise waarvan Van Deventer vertel is dié met die Opera langs die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar en die Middellandse See na Malta (’n besondere ervaring wat gelees moet word) en toe verby Griekeland na hawens langs die mooie Adriatiese See tot by Venesië. Later volg die vaart wat hy hul laaste seereis noem met die Musica van Durban na Venesië oor Reunion, Mauritius, die Seychelle, Aqaba (deur waters met die risiko van seerowery), Katakolo in Griekeland, Montenegro en Split in Kroasië. Die vaart deur die Suezkanaal met woestyn aan weerskante was dalk die aanloklikste hoogtepunt. Die hoofstuk oor die vaart deur die Suezkanaal is self ’n uiters insiggewende deel van die boek.

Waardevolle raad en wenke aan toekomstige seevaarders word in hierdie boek gegee. Onthou, dit is ’n gesoute seereisiger wat aan die woord is. Na al die seereise en ervarings kan Van Deventer met gesag praat oor die vereistes wat aan liggaam en gees gestel word, fiksheid, gesondheid, gerief, vasbyt in versoekings van oorvloedige kos en lekkernye, privaatheid, versterking van gesinsbande, begroting vir ’n reis, ens.

“Hierdie gesellige lekkerleesboek word gekenmerk deur Van Deventer se vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. Geniet ook die humor, soms op homself gerig. Net jammer dat die boek nie meer foto’s bevat nie.”

Dankie, Sarel.

(‘n Vinnige, maklike manier om ‘n boek te bekom, is by www.naledi.online. Die kontakpersoon is Tertia Swart (tertiaswart@naledi.online, selno. 078 648 8616. Die boek kos R200. )

SABIEPARK SE TONY PARK

Oktober 30, 2019 in Uncategorized

(Het oorspronklik verkyn in Sondagblad Rapport.)

Tony en Nicola … en ‘n olifant op besoek by hul huis in Sabiepark.

Sannie van Rensburg pak gereeld die skurke in sy boeke. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers. Hul teenstanders is geharde veldwagters wat met “Toyotabakkies” ry. ‘n Kelnerin word gegroet: “Tatenda, sisi”. ‘n Mislike vent word pront …wel ..’n “poepol” genoem.

Klink of dit ‘n Botha of ‘n Van der Merwe kan wees wat hier die pen hanteer. ‘n Laevelder. Ten minste dan ‘n Suid-Afrikaner. Dit is nie. Dit is ‘n Park uit Sydney – Park, Tony Park, die skrywer van 17 aksiebelaaide spanningsverhale met ‘n Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers.

Die jongste, “Ghosts of the Past”, het ‘n sterk aanbeveling op die omslag deur niemand minder nie as Deon Meyer. Die boek – oor ‘n raaiselmoord in die ou “Duitswes” – word op die oomblik landwyd bekend gestel. Eerste aan die beurt was Hazyview. Hazyview? Ja, Hazyview. En nie om dowe neute nie, hoor. Hazyview is die naaste groot dorp aan die Parks se “ander huis” waar hulle sedert 2012 om die beurt tuisgaan: ses maande in Sydney, ses maande hier.
Tony het in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika na ‘n eerste besoek waarvoor hy maar traag was. Sy vrou, Nicola, moes hom behoorlik hierheen sleep. Die oomblik toe hy die Krugerwildtuin binnery, het alles verander. “I was blown away. It was the combination of landscape, wildlife, excitement, the unpredictability, you know. It was unlike any other holiday we’d been on before,” het hy sy bekering aan die tydskrif “Wild” beskryf.
Binne die eerste week het ‘n tweede al in die oog begin vonkel. Daarna het hulle vir 20 jaar elke jaar gekom – buiten toe die oud-joernalis en -soldaat in Afganistan militêre diens moes gaan verrig. In 2012 het hy vir hom ‘n boshuis gekoop in Sabiepark, private natuurreservaat, aan die Sabierivier by die Krugerhek – ‘n plek waarop hy versot is.

Agt nuwe Tony Park-boeke het sedertdien op die rakke gekom – almal knewels. Maar tyd om te speel, is daar darem ook. Elke middag in die skemerkelkie-uur kan jy maar weet waar om die Parks (en hul olyfgroen ou Land Rover) te soek. By die piekniekplek langs die Sabie. Met hul lang lense en gelaaide piekniekmandjie is hulle daar ‘n bekende gesig. Geen ander inwoner het so ‘n valkoog vir luiperds nie. Al is die gras en die riete hoe dig, Tony snuffel hulle uit. Sy foto’s op die eienaars se private webblad laat die monde water.

Sabiepark het van Tony toenemend ‘n “Boere-Aussie” gemaak. Dit is waar die milde gebruik van Afrikaanse woorde in sy boeke vandaan kom: “ja, lekker, boerewors, braai, babelaas, ‘dagga boy’” en andere. ‘n Laevelder. Sy mense lees “Die Laevelder”. Hulle koop graag by die Spar op Phalaborwa. En ‘n Hazyviewer. Hy ken Oom Kallie se slaghuis (wat onder meer vleis aan die Wildtuin verskaf) en was bewus van die gewilde Pepper Vine Bar wat intussen sy deure gesluit het. Hy het ook die plaaslike taal Tsonga begin aanleer. Toe steel ‘n verduiwelse bobbejaan sy notas uit die huis!

Oor die Wiltuin skryf hy dat die leser se tone krul. “Sharp and sensory,” noem die Western Australian dit. “Sharp and sensory” inderdaad.

Onthou nog my vrou se skaterlagbui oor ‘n toneel toe Britse “James Bonds” ‘n ontvoerde hoë uit die kloue van die vyand red. Op pad na die Krokodilrivierhek was ‘n erger verkeersknoop as in Londen. Moedeloos pluk een sy vuurwapen uit en trek ‘n skoot in die lug af. Toe ontdek hulle die rede vir die motorchaos: ‘n trop leeus in die pad!

Vir baie resensente is hy die “nuwe Wilbur Smith”. “Since Wilbur Smith in his heyday no one has written as well about Southern Africa than Tony Park,” skryf die Crime Review Magazine onder meer. Maar so onder die vel van die omgewing waaroor hy skryf, het Smith werklik nooit gekom nie, wil hierdie aanhanger beweer.

Dit is nie toevallig nie dat Sabiepark, of eerder ‘n fiktiewe weergawe, deel was van die inspirasie vir sy laaste agt boeke, sê Tony. Hy het die plek ontdek terwyl hy navorsing gedoen vir “The Prey” wat oor onwettige goudmynbedrywighede handel.

‘n Ander Sabieparker, Casper Strydom, was hoofbestuurder van die Fairview-goudmyn by Barberton, en hy was geneë om te help. Hy sou Tony op ‘n toer deur sy myn neem. Hul eerste ontmoeting was vir ‘n braai by Strydom se huis in Sabiepark terwyl die Parks in die Wildtuin gekampeer het. Strydom het hulle rondgewys. Hulle het gekyk na ‘n paar huise wat in die mark was, “en die res is geskiedenis”.

In “The Prey” vind van die aksie plaas in die mynbestuurder se vakansiehuis in ‘n denkbeeldige private natuurreservaat met die naam “Hippo Rock”. Dit is nie juis ‘n geheim nie dat Hippo Rock uitgeknip Sabiepark is. “Hippo Rock” het in verskeie latere boeke opgeduik.

“Ek het talle goeie vriende onder Sabiepark-eienaars en –personeel gemaak. Verskeie van hul stories en wedervaringe is in my boeke opgeneem. Die Afrikaner en die Sjangaan-Tsongamense wat ek ontmoet, is ongelooflik vriendelik en gaan uit hul pad om ‘n mens tuis te laat voel. Hul gebruike en tale het in my skryfwerk neerslag gevind.

“Afrikaans is so ‘n wonderlik beskrywende taal dat ek lief is om iets daarvan in my boeke in te werk. Ek het ‘n Afrikaanssprekende vriend in Johannesburg wat deesdae as proefleer optree. Dit is noodsaaklik, want een keer het ek boerewors verkeerd gespel in een van my eerste boeke (‘n onvergeeflike flater!).

Ander Laveldse omgewings is ook invloede. Die nimlike Sannie van Rensburg trek van Johannesburg na haar familieplaas naby Hazyview. Uiteindelik koop sy en haar Engelssprekende man, Tom, ‘n plek by “Hippo Rock”. Kaptein Van Rensburg los trouens in “The Cull” ‘n misdaad op weens haar kennis van toegangsprosedures by die sekuriteitshek by “Hippo Rock”. Sy model was dié van die werklike sekuriteitspan by Sabiepark!

Die Wildtuin verskaf ook heelwat inspirasie. Boek nommer 17, “Ghosts of the Past” speel deels af in die Krugerkontrei.

‘n Karakter wat in ‘n paar boeke opduik, die safarigids en private speurder Hudson Brand, pas ‘n huis op in “Hippo Rock” – in werklikheid die huis van die mynbestuurder van “The Prey”. Sonja Kurtz, een van Tony se gewildste karakters , woon soms in die “Hippo Rock” Private Natuurreservaat by haar aan-af aan-af kêrel, Hudson Brand.

Die regte Sabiepark word slegs in een boek “The Hunter” by die naam genoem. Daarin voer speurder Van Rensburg en haar span ‘n operasie uit om ‘n klompie nare karakters in die Sabi Sand-wildtuin aan te keer. Voordat hulle toeslaan, kom hulle byeen by die afdraaiplek na Sabiepark vir ‘n voorligtingsessie.

“Soveel van Sabiepark beïnvloed my skryfwerk – die omgewing, die mense wat daar woon en werk, en die wildlewe, Ou ‘Vin Diesel’, ons manjifieke, heengegane resident-luiperd word selfs in een van my boeke vermeld.

“Vir ‘n skrywer is dit ideaal om iewers te kan skryf waar jy inspirasie en vreedsaamheid vind – Sabiepark bied dit alles en meer. “

ENORME SKIP en ‘n klein bootjie

Oktober 22, 2019 in Uncategorized

GROTE

In “Na verre hawens”, my nuwe boek. wat hopelik volgende week al taamlik wyd beskikbaar sal wees, vertel ek van vaarte met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke lynskip Queen Mary 2 op internasionale waterweë, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies, soms maar van bedenklike veiligheid.

Een van die kleintjies in die boek is die twee veerbootjies “On Time 1 en 2” wat van Edgartown op Martha’s Vineyard in Cape Cod, Massachusetts, na die eilandjie Chappaquiddick loop – die eiland waar Ted Kennedy in sy spoggerige Olds met Mary Jo Kopechne, ‘n jong verpleegster, van ‘n brug af gery het. Mary Jo het verdrink.

kleintjie

Die “On Time” het nie vaste tye nie. Elke keer as drie motors wag, kry die verbootjie koers. Mense, fietse en motors word elke dag dosyne kere vir ’n skamele paar dollar droogvoets by hul bestemming besorg. Die plaaslike troetelnaam is die “Chappy”. Dit kom natuurlik van Chappaquiddick.

In ’n koffietafelboek, The Chappy Ferry Book, wat oral op Martha’s Vineyard trots uitgestal word, beskryf die outeur, Tom Dunlop, die ‘Chappy”-bote dalk ietwat hiperbolies as “the most unusual, hardest working, and best known ferries on earth”.

Die grootste boot in my boek is die QM 2. Van die boeg tot die agterstewe is haar lengte 365 meter – so lank soos 41 Londense dubbeldekker-busse snoet aan snoet geparkeer. Die Eiffeltoring in Parys is 45 meter korter. Die vloere is 16 kilometer (10 myl) onder mat, die afstand van Melkbos tot in die hartjie van Bloubergstrand. In die binnegoed is 2 500 kilometer se elektriese kabel. Dis drie dae se stywe ritte per motor.

Geriewe sluit in vyftien restaurants, vyf swembaddens, balsaal, planetarium, teater, gimnasium, skoonheidsalonne, boetiekwinkels, ’n casino, nagklub en ’n dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!

Meneer, mevrou, as jy gedink het die QE2, legendariese voorganger, was enorm – hier is vir jou ’n verrassing. Dié makroskip sou die QE2 twee keer volledig kon insluk. Drie van die veelgeroemde Titanic sou in haar pas. Glo dit maar. Dis die reine waarheid.

“Na verre hawens” word deur Naledi gepubliseer. Dit kos R200. Buiten in boekwinkels kan dit direk aanlyn by Naledi gekoop word. Klik op www.naledi.online