Wie is die beste? Mr Trololo, Bles Bridges, Jim Reeves, Johan Stemmet of Gé Korsten?

Junie 6, 2012 in Sonder kategorie

Eergister het gevaaalik.com berig dat Mr Trololo (Eduard Khil) oorlede is. In die gees van die Trololo Song wil ons graag uitvind wie julle dink die beste sanger onder hierdie vyf is:

Mr Trololo (Eduard Khil) is kandidaat 1. Khil was verbasend genoeg tot onlangs net bekend in Rusland, waar hy tydens die jare van die Sowjetunie groot sukses behaal het met treffers soos die Trololo Song. Onlangs het hy internasionaal bekend geword nadat die musiekvideo van die Trololo Song op YouTube beland het en die wêreld verslaaf geraak het aan sy edele musiekvorm. Hy kon blykbaar eers nie verstaan of mense regtig van hom hou of net spot nie, maar veral in Rusland het dit geblyk dat mense werklik weer van sy genre begin hou het. Hy het sy aftrede opgeskort en weer begin toer.


Bles Bridges is kandidaat 2. Hy is bekend vir sy uitspattige sequin-uitrustings. Modekenners het jare na sy dood gemerk dat hy die reeks Strictly Come Dancing jare vooruit was met sy skitterende pakkies, en sy kenmerkende styl het veral die kostuums van vrouedeelnemers beïnvloed. Hy was ook ‘n sanger, veral in myndorpe, waar hy rose uitgedeel het aan oorgewig Afrikaner-tannies. Sy grootste nalatenskap is egter nie sy sequin-pakkies, styl, sy myndorp-en-rose joie de vivre, of sy musiek nie, maar eerder sy dogter Sunette, ‘n sanger met ‘n lewe so na ‘n skinderjoernalis se hart. Sy is daarvoor bekend dat sy nie weet hoe om haar privacy settings op Facebook te werk nie, en sy het dus in die kak beland omdat almal haar en haar aanhangers se rassistiese gesprekke kon lees. Dankie Bles!



Jim Reeves is kandidaat 3. Eerstens is meneer Reeves ons cliché kapitalisties-Amerikaanse teenhanger-sanger vir die Russiese (en honderd keer cooler) Mr Trololo (Eduard Khil). Tweedens was Reeves destyds ‘n moerse sensasie in Suid-Afrika terwyl die res van die wêreld besig was om te kyk hoe Elvis Presley in ‘n orgie van pynpille en stroop-en-spek-broodjies vergaan. Reeves was in baie opsigte ‘n voorloper van die Troebadoer van die Oos-Rand (Bles Bridges), en hoewel hy in Texas gebore is, het hy so tuis gevoel tussen Afrikaner-tannies wat Crocs sou dra as dié skoene al daardie tyd bestaan het dat hy sommer ‘n paar albums in Afrikaans ook opgeneem het.


Johan Stemmet is kandidaat 4, en hy het ‘n besliste voorsprong bo die ander: Hy leef nog. As mens kyk na die foto van Stemmet hiernaas sou mens amper dink hy is bekend vir sy asemrowende haarstyl (a la Ron Burgundy) en stylbepalende bril, maar mens sou verkeerd wees. Stemmet is bekend as vervaardiger en aanbieder van die okkultiese musiekprogram Noot vir Noot, wat al vir dekades Saterdae-aande opfok. Natuurlik is hy nie net hiervoor bekend nie, hy is ook ‘n sanger. Dit is egter nietighede, want soos Shakespeare, Alexander Pope, C.J. Langenhoven en ander groot geeste sal Stemmet onthou word vir sy bydrae tot ‘n taal. Hiermee verwys ons spesifiek na die patronising uitdrukking “Vyftig randjies vir jou!” wat veral deelgeword het van pimp-lingo in Suid-Afrika.


Gé Korsten is die vyfde en laaste kandidaat in die gevaaalik.com poll, maar hy is beslis nie die onbelangrikste nie. As die seun van Nederlandse immigrante het Korsten groot naam gemaak in Suid-Afrika, eers as opera-sanger en akteur, en ook later as populêre sanger. Sy bekendste liedjie, “Liefling”, word ook sedert die negentigerjare met die Blou Bulle en man-tot-man rugbyaksie geassossieer. As die karakter Walt Vorster het Korsten ook Afrikaner-tannies op die klein skerm vermaak in die Franz Marx sepie Egoli. Hy moes ongelukkig die sepie verlaat nadat die aktrise Chantelle Stander Rankin (Kimberley) sy kar se remolie-pype geknip het en die werksatmosfeer op die stel ondraaglik geraak het.

Gaan stem nou regs bo-aan die home page van gevaaalik.com vir jou gunsteling!

 

 

_________________

LET WEL: gevaaalik.com is nie bedoel vir kinders onder 18 jaar nie. As jy sensitief is, of net nie van ons website hou nie, moet dit asseblief nie besoek nie. Dit is ook nie vir kinders bo 18 jaar nie, if you catch the drift. As jy ook te dig is om iets wat ons skryf te verstaan, is dit nie ons probleem nie.

10 antwoorde op Wie is die beste? Mr Trololo, Bles Bridges, Jim Reeves, Johan Stemmet of Gé Korsten?

  1. Neander het gesê op Junie 6, 2012

    Goeie aanslag, alhoewel ek nie jou kandidate deel nie. Elke kunstenaar beoefen sy eie genre, gee hom krediet daarvoor.

    Ek deel net dat Jim Reeves al destyds ‘n pedaal kitaar speler in sy orkes gehad het, Ralph Mooney, google maar.

    Oor die Noot kultus en pimp lingo (lag), “kyk hoe kyk sy vir my”.
    Iemand het dit ook die Maakmysiekfabriek genoem.

    Ek lees Van Rensburg gaan aftree en die keyboard vroutjie gaan oorneem.
    Ek lag vir die kitaarspeler wat so verkeerd speel, maar die basmeisie is goed.

  2. louisna het gesê op Junie 6, 2012

    Slegs een van die vyf beindruk my. Ge Korsten

  3. HeavyHenry het gesê op Junie 6, 2012

    🙂

    Lekker nonsens!

  4. avega het gesê op Junie 8, 2012

    Die kere in die verre verlede wat ek Noot vir Noot onder oë gehad het, het ek net vir Riaan, Johan se seun dopgehou. Hy is ‘n interessante karakter en op perkussie was hy ‘n show op sy eie. Ek het vir hom skoolgehou en hy was ‘n clown wat nie eers probeer het om een te wees nie, baie musikaal.

  5. avega het gesê op Junie 8, 2012

    Het nog nooit van Trololo gehoor nie. Mens kan nie met bg mense spot nie, Ge en Jim het verseker goeie stemme gehad en vir mense van daardie tyd (soos my ma en pa se generasie, wat jonk was voor popmusiek bestaan het) baie goeie musiekvermaak verskaf.

  6. Neander het gesê op Junie 8, 2012

    Jip Riaan leef hom heeltemal uit. Hy het ‘n cd gemaak en ek het nogal daarvan gehou, maar dit het baie negatiewe resensie gekry dat hy besluit het om nie weer te maak nie.
    Ek wonder wat gaan van hom word as sy pa nie meer daar is nie.

  7. Vega, ek stem nie met jou saam nie. Mens kan met hulle spot. Ons het! 😀

  8. avega het gesê op Junie 16, 2012

    As jy ‘n beter stem as hulle het (wat nootvasheid en vocal range aanbetref) kan jy maar met hulle spot; anders nie 🙂

  9. Wat jy daar skryf is, in baie filosofiese woorde, ‘n klomp kak. Dis soos om te sê mens kan net met ‘n fliek spot of dit kritiseer as jy self ‘n beter fliek gemaak het.

  10. avega het gesê op Junie 17, 2012

    Aijai fyngevoelig, jy kan met sangers en flieks spot, maar niemand mag met jou spot nie. Toemaar ek sal nie weer so simpel wees nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.