Resensie: Biografie van ‘n bende

April 25, 2011 in Sonder kategorie

– deur Stix

Almal dink hulle ken die geskiedenis van Fokofpolisiekar. Almal dink hulle ken die revolusie wat Fokofpolisiekar begin het. Mens mag dalk dink mens ken die storie, want dit is so stuk-stuk vir ons aanmekaar geplak deur die media, maar mens sou verkeerd wees. Biografie van ‘n bende is die boek wat jy nodig het om die versinsels van die feite te skei.


Ek moet erken dat ek nog nooit ‘n groot fan van Annie Klopper (also known as Die Rockjagter) en haar werk was nie. Ek het al haar werk begin lees op LitNet jare voor daar sprake van ‘n Fokofpolisiekar-biografie was. Daar was, soos iemand anders dit aan my gestel het, altyd iets amper groupie-rigs aan haar skrywes oor die band. En al was ek nie beïndruk toe ek hoor dat sy werk aan Biografie van ‘n bende nie, het ek geweet ek gaan dit tog moet lees. Elke Fokofpolisiekar fan moet.

Die uitleg van die boek laat dit lyk soos ‘n groupie se dagboek/plakboek. ‘n Dagboek slegs oor Fokofpolisiekar. Daar is foto’s van Wynand in sy kamer toe hy standerd nege was, ‘n foto van 16-jarige Francois op ‘n CSV-kamp, en ‘n foto van Snake saam met een van sy hoërskoolmeisies. Verder is daar notas uit Hunter se notaboeke, selfs vingerafdrukke wat die boek se bladsye “vuil” laat lyk, en dele van die teks wat doodgetrek is, en hierdie kenmerke laat dit regtig voel asof die boek backstage vergeet is deur ‘n groupie na ‘n befokte Fokofpolisiekar show.

Nou ek is ‘n moerse Fokofpolisiekar fan. Ek het nog altyd probeer om die storie agter die image wat die media geskets het, te ontdek. Ek het, soos seker baie ander fans, ‘n hele klomp goed ontdek sonder die media – of eintlik, ten spyte van die media. Maar met die lees van hierdie biografie het ek net nog goed geleer wat ek nooit geweet het nie. Daar word byvoorbeeld vertel van Francois se ouers se reaksie toe hulle sy nuwe band se naam hoor, en hoe selfs Hunter voel hy is vandag minder kwaad as in die dae toe Fokofpolisiekar net begin het. Dan natuurlik ook iets wat veral interessant en verrassend is, is die weergawe van die sterk Christelike opvoeding wat elkeen van die Fokofpolisiekar-lede se kinderjare gekenmerk het. Die boek delf diep, en daar is klein deeltjies geskiedenis oor elke lid se skooljare en die stryd wat hulle hegte vriendskappe moes face toe touring sy eise begin stel. Dit plaas “Ek gaan jou dood poes!”, Wynand se woorde aan Francois een aand, en Johnny se skertsende opmerking  “So wanneer gaan ons nou opbreek?” aan Hunter nogal binne konteks!

Annie Klopper en Hunter Kennedy gesels oor die boek by die Stellenbosse Woordfees in Maart.

Daar is meer tegniese aspekte van die ontstaan van Fokofpolisiekar wat ook baie boeiend is. Die vernuf van hulle oorspronklike “besigheidsplan”, wat uitgewerk is al lank voor hulle eerste show as Fokofpolisiekar, laat mens besef die pad wat Fokofpolisiekar geloop het, was alles behalwe net random. Die leser beweeg saam deur die bemarkingskeuses en die image wat die band wou weergee, en ook die moeiliker stuff soos die stres van armoede… en van sukses. Die boek gee werklik hiermee ‘n omvattende kyk na die behind the scenes, en gee daarmee ook balans aan die Bobby van Jaarsveld-agtige perspektief waardeur die media die Fokof-fenomeen so dikwels benader het (en steeds benader).

So interessant as wat die boek is, is dit wel nie sonder foute nie. Hier en daar ‘n spelfoutjie wat selfs ek kon raaklees. Die teks wat “doodgekrap” is, sal dalk ook vir party lesers irriterend wees. Wat help teks wat mens nie kan lees nie? Maar snaaks genoeg is hierdie dinge nie noodwendig heeltemal ‘n slegte ding nie. Volgens my dra dit net by tot die gevoel dat mens besig is om ‘n oorspronklike  joernaal te lees, en daarom wonder ek nogal of die “foutjies” byvoorbeeld nie aspris ingeglip het nie. Dit hang maar af van elke leser se voorkeure, en of ander lesers ook van die joernaal-gevoel sal hou.

Ek weet wat baie Fokofpolisiekar fans dink: hierdie biografie vertel ‘n storie wat elke Fokofpolisiekar fan ken. Wel, om so te dink is heeltemal verkeerd, want Biografie van ‘n bende bevat details wat geen fan ooit sou kon raai nie. En wat great is, is dat dit ‘n verhaal is wat nog nie tot ‘n einde gekom het nie, en na die lees van hierdie boek kry mens nogal die gevoel dat daar op ‘n stadium nog chapters bygevoeg gaan word. Ek hoop ten minste so.

As jong Afrikaanssprekendes en Fokofpolisiekar fans is ons nogal gelukkig: ons het deur (en met) Fokofpolisiekar die begin van ‘n revolusie beleef . En hierdie revolusie omvat nie net die Suid-Afrikaanse musiek scene nie, maar ‘n revolusie van ‘n ganse Zeitgeist.

Biografie van ‘n bende deur Annie Klopper is eerlikwaar ‘n must read vir enige Fokofpolisiekar fan en ook elke jong Afrikaanssprekende in Suid-Afrika.

__________________

LET WEL: gevaaalik.com is nie bedoel vir kinders onder 18 jaar nie. As jy sensitief is, of net nie van ons website hou nie, moet dit asseblief nie besoek nie. Dit is ook nie vir kinders bo 18 jaar nie, if you catch the drift. As jy ook te dig is om iets wat ons skryf te verstaan, is dit nie ons probleem nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.