Leer solank die woorde
Junie 28, 2011 in Sonder kategorie
My jongste rubriek in die Kerkbode:
“Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” begin die Heidelbergse Kategismus. Dink daaraan: dis ’n kategese-handleiding vir kinders. ’n Hedendaagse Sondagskool-boek sal nie maklik só praat nie. My enigste troos? Begin liewer met iets positiefs!
Vir wat wil ons dan getroos word? (Al gehoor hoe die man wat ’n paar weke gelede die wegraping verwag het se vriende hom ná die teleurstelling getroos het? “Toemaar, dis nie die einde van die wêreld nie.”) Ons dink nie graag aan onsself as troos-behoewend nie. Ons wil drome bewaarheid, ambisies realiseer, sukses behaal, ’n merk maak. Ja, ons struikel soms, “maar as jy val, dan moet jy gou weer opstand, uithou, aanhou, altyd voortgaan …” Wenners wil ons wees!
In ’n konsert vertel Leonard Cohen hoe hy in New York teen ’n man voor hom aanskuur en toe later die plakkaat op sy rug raaklees: “O please don’t pass me by, o please don’t pass me by, for I am blind, but you can see, yes, I’ve been blinded totaly, o please don’t pass me by.” Later sien Cohen op ’n straathoek “curious mutilations of the human vorm”: ’n skool vir gestremde kinders – kreupeles, mense op rystoele, mense met krukke. En dit sneeu. Dit voel vir hom asof die hele stad sing: “Please don’t pass me by …”
Hy sing nie net vir die blindes en kreupeles nie, maar ook “for the Jews and the Gypsies and the smoke that they made”. Gestremdes, gemutileerdes, slagoffers van gruweldade. Terwyl hy verder stap, dink hy: “it was them who were singing it … it was they who were singing it … it was the other who was singing it … it was someone else. But as I moved along I knew it was me …” Asof hy iets by daardie blinde man aangesteek het – soos in Jan Rabie se kortverhaal “Die man met die swaar been”.
Dat die “minder bevoorregtes” só ’n lied sing, is verstaanbaar vir Cohen se gehoor. Selfs wanneer hy bely “it was me”, weet hy dat hulle dit op ’n afstand hou, “sitting there deep in your velvet seats”. Hy lees hul gedagtes: “Uh, he’s up there saying something that he thinks about, but I’ll never have to sing that song.” Leer dit nogtans, sê Cohen: “I promise you friends, that you’re going to be singing this song … one day you’ll be on your knees and I want you to know the words when the time comes …”
“Wat is jou enigste troos?” Dis mos húlle vraag, die ander se vraag, iemand anders s’n. Dalk ’n vraag vir Protestante van die 16de eeu toe die Kategismus geskryf is; die lewe was toe swaarder. Dalk die armes, die siekes, die onderdruktes, die miljarde “Jews and Gypsies” van ons dag. Dis ’n vraag vir húlle, dié vraag oor ’n “enigste troos”. Dalk ’n vraag vir jou, dominee. Dalk sing die hele wêreld saam, maar nie ek nie. Ek sal húlle troos, en vir jóú, maar ék hoef nie getroos te word nie!
Cohen se lied is nie net vir gestremdes en slagoffers nie, maar ook: “I sing this for a saviour with no one to save …” Ons het mos nie ’n verlosser, ’n trooster, nodig nie. Óns hoef nie te sing “O please, don’t pass me by …” of “waarom het U my verlaat?” nie.
Toemaar, sê die Kategismus, julle hoef nie te verstaan nie, maar leer solank die woorde: Wat is jou enigste troos? “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.”
* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare