Die saligsprekinge: opdrag of konstatering?

Maart 23, 2011 in Sonder kategorie

 

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Almal ken die saligsprekinge (Mt 5:1-12): “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is …”

 

Ek het al in eredienste hierdie teksgedeelte as wetsvoorlesing in samehang met die skuldbelydenis en genadeverkondiging gebruik. Ook in preke word dit meestal verbind met een van Calvyn se “drie gebruike van die wet”: die saligsprekinge as

 

– etiese voorskrif of ideaal,

– aanklaer wat ons na Christus laat vlug of

– riglyn vir ’n dankbare lewe.

 

Verstaan ons dit reg as ons dit só verstaan?

 

Dit tref my onlangs weer dat Jesus nie in die imperatief (bevelend) oor die geseëndes praat nie. Dan sou dit lui: “Julle moet honger en dors na wat reg is!” Nee, Hy praat indikatief (sê hoe dit ís): “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is.”

 

Jare gelede, in die Sondagskoolklas, het Oom Anton verduidelik dat as ’n mens wil weet wat “salig” (“geseënd” in die 1983- vertaling) beteken, jy moet dink aan hoe dit is om langs die swembad te lê – ’n voorstelling wat nog altyd tot my spreek! Gestel nou iemand sou aan die sonbaaiers vra: “Wie is lus vir ’n yskoue koeldrank?”, en wanneer almal roep: “Ek!”, antwoord met: “Het ek goeie nuus vir julle!”

 

Weerklink iets hiervan nie in die saligsprekinge nie? Behalwe: dié wat aangespreek word, lê nie langs ’n swembad nie. Inteendeel. In Lukas se weergawe praat Jesus met “julle wat arm is … honger het … huil”, vir wie die mense “haat … verstoot en uitskel”, wie se naam “vermy” word “soos iets wat sleg is”.

 

Hulle het nie iets gedoen om seën te verdien nie. Hul armoede, smart en hongerpyne is nie ’n prestasie nie, maar ’n bittere lot. Matteus se weergawe, waarin die armes die “armes van gees” of “armes aan lewenskrag” genoem word (in die 1983-vertaling: “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is”), en die hongeriges “dié wat honger en dors na wat reg is”, sê dieselfde, want wie anders smag na geregtigheid as dié wat onreg ly? Waar kom Jesus dan daaraan dat hulle “geseën” is? Hy sê selfs: “Wees bly en verheug” (Mt 5:12), “spring rond van vreugde” (Lk 6:23)!

 

Beteken dit armoede is romanties, mooi of edel, soos Jesus ook al (veral deur welvarendes) verstaan is? Nee! Jesus verbind die blydskap aan “daardie dag” – die dag van die Here, die dag wanneer Gods heerskappy aanbreek en alles herskep, nuut gemaak, reggestel, word. Dié dag bring ’n einde aan armoede, hartseer en hongerte (Op 21:4), en “het naby gekom” (Mk 1:15). Jesus die digter draai in die saligsprekinge alles op sy kop omdat Hy vas glo die hele wêreld gaan op sy kop gedraai word en dat dit reeds in en deur Hom aan die gebeur is: “Het ek goeie nuus vir julle!”

 

Dit het ’n keersy: “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg.” (Lk 6:24) Die wêreld soos dit nou is, pas julle goed, maar “daar kom ’n tyd, en dit is nou,” (Jn 4:23) dat alles anders gaan lyk.

 

Desnieteenstaande is David Bosch se boekie oor die Lukas-evangelie getitel Goeie nuus vir armes … en rykes. As rykes kan leer om saam met armes te huil, honger en dors, sal ook hulle die onderstebowêreld wat deur Jesus ingelui word, kan verwelkom.

 

Dis soos die Belhar-belydenis sê: “Ons glo dat God … op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.” Miskien tel selfs rykes onder die lidmate van hierdie kerk.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.