Toe die “Wit Wolf” Barend Strydom in 1988 op Strijdomplein in Pretoria wild en wakker swart mense doodgeskied het, was A.P. Treurnicht, toe leier van die regse Konserwatiewe Party, se reaksie dat, hoewel ’n mens natuurlik nie Strydom se daad kan goedkeur nie, dit tog “verstaanbaar” is dat ’n jong Boerseun so gefrustreer kan voel deur die NP-regering se hervormings dat hy iets onbesonne aanvang …
Hopelik sal my lesers, of ten minste darem die meerderheid van hulle, met my saamstem dat Treurnicht se reaksie uiters onvanpas was. Soms moet ’n mens nie “maar” sê nie. Die Strydom-massamoord was so ’n oomblik. As leier van die grootste opposisieparty van daardie tyd, en dus iemand met ’n mate van invloed in regse kringe, moes Treurnicht hom ondubbelsinnig teen Strydom se misdaad en teen enige soortgelyke optredes uitgespreek het. Daarmee sou hy selfs kon wys dat, soos hy dikwels aangevoer het (onder meer in sy boek Credo van ’n Afrikaner), die Verwoerdiaanse apartheidsideaal nie op rassevooroordeel en -haat berus nie, maar op kultuurgroepe se reg op selfbeskikking. (Hy kon dit egter nie bewys nie omdat dit nie so was nie. “Hulle smaak so lekker, want hulle eet so lekker,” het Farmer Brown destyds in die hoenderadvertensie gesê. Hier sou geld: hulle klink so rassisties, want hulle is so rassisties.)
As Bono se omstrede “vryheidsliedere”-uitspraak van nou die dag my aan Treurnicht se destydse reaksie herinner, is dit nie omdat ek die twee op dieselfde vlak plaas nie. In die een geval gaan dit oor ’n lied vol haatspraak (“Skiet die Boer …”), in die ander oor daadwerklike massamoord (Strydom) – eersgenoemde is erg, maar laasgenoemde baie, baie erger. Ek wil Bono dus nie oor dieselfde kam as Treurnicht skeer nie. Trouens, ek het ook niks persoonliks teen Treurnicht nie. Hy was maar ’n mens soos die res van ons, en het dus foute gemaak. Mag hy in vrede rus. Soos Kurt Vonnegut sou sê: “He never asked to be born in the first place.”
So wat probeer ek dan sê? Wel, dat ’n sekere soort logika in sowel Treurnicht se uitspraak van toe en Bono s’n van die ander dag herkenbaar is.
As Treurnicht oor sy uitspraak gekritiseer is, en as hy hom aan die kritiek sou gesteur het, sou hy kon protesteer: “Ek het mos gesê wat Strydom gedoen het, is verkeerd. Wat ek oor jong Boerseuns se frustrasie gesê het, het nie daarna verwys nie. Dit was ’n algemene opmerking oor die politiek. Om dit as ’n verskoning vir Strydom te interpreteer is ’n verdraaiing.” Hoe oortuigend sou u dit vind?
Hoor nou hoe die Bono-gesprek glo verloop het (volgens die joernalis Diane Coetzer soos in Die Burger aangehaal): “Bono is om sy mening gevra oor ’n ‘omstrede liedjie’. Hy het geantwoord ‘Bedoel jy Malema?’ Die joernalis het dit bevestig, waarop Bono net gesê het: ‘Interessant’. Hy het toe nostalgies geraak oor die Ierse vryheidsliedjies wat hulle destyds gesing het.” (Soos wyd gearapporteer, was die liedere waaroor Bono nostalgies geraak het juis liedere waarin die Ierse Republikeinse Leer se oorlog verheerlik is.) Hieraan voeg Coetzer dan in haar eie woorde toe: “In geen stadium het hy (Bono) gesê ‘Ek ondersteun Malema se reg om hierdie liedjie te sing’ nie’.”
Dit mag so wees, Diane, maar ook Treurnicht het destyds “op geen stadium” Strydom se rassemoorde goedgepraat nie. Trouens, hy het dit uitdruklik veroordeel. Tog is dit nie vergesog nie om, gesien die spesifieke konteks waarin Treurnicht oor “jong Boerseuns se frustrasie” begin praat het, af te lei dat hy tog bedoel het om daardeur sy kritiek op Strydom te versag. ‘n Geval van: ja, maar …
Selfs Coetzer se “saak vir die verdediging” maak duidelik dat Bono se nostalgie oor gewelddadige Ierse vryheidsliedere direk gevolg het op, en dus uitgespreek is in die konteks van, ’n vraag oor Malema se rassistiese moordlied. Meer nog: waar Treurnicht nog gesê het Strydom se optrede was “natuurlik” verkeerd, is al wat Bono ten tye van die omstrede onderhoud direk oor “Skiet die Boer” gesê het: “Interessant.”
Het Bono nie teen hierdie tyd duidelik genoeg laat blyk dat hy nié die sing van Malema se gunsteling-“vryheidslied” goedkeur nie? Hy het en dis goed so. Soos Treurnicht destyds het hy ’n oordeelsfout begaan. Hy het nie die implikasies of gevolge van sy woorde deurdink nie. Hy probeer terugkrabbel sonder om te erken hy was verkeerd. Dis menslik. Sy uitlating in ’n radio-onderhoud dat dit “mal” is om te suggereer dat hy die skietlied goedgepraat het, is weliswaar ’n geval van “the lady doth protest too much”, maar kom ons laat dit daar. Ek het in elk geval simpatie met Bono se politieke sentimente, terwyl Treurnicht destyds vir my die verpersoonliking was van alles wat ek politiek verwerplik vind, so ek sal dit nie teen die rocker hou nie.
Wat my meer interesseer, is die manier waarop Bono se aanhangers reageer. Een jong man sê op die radio toe hy gehoor het van Bono se vermeende uitlating, hy “dadelik geweet het dat Bono dit nie kon gesê het nie”. Hy het dus besluit wat hy wil glo nog voordat hy die feite ondersoek het. Noudat deur mense soos Diane ge-special plead word dat Bono niks problematies bedoel het nie, beskou die jong man met die intuïsie dit as bewys dat sy vermoede korrek was! Dis maar een voorbeeld van die manier waarop Bonoïste oor die aangeleentheid praat. Gaan kyk maar op Facebook.
In die proses word kritici van Bono, soos Steve Hofmeyr, liederlik sleg gesê oor sy “leuens”, asof daar geen gronde voor was nie. Ek het al vir Steve oor ander dinge gekritiseer, maar hierdie keer moet ek darem tot sy verdediging kom: hy het goeie rede gehad om teen Bono se uitlating protes aan te teken. Dis juis hierdie protes deur hom en andere wat Bono daartoe genoop het om “toe te lig” wat hy nou eintlik sou bedoel het en duidelik te maak dat haatspraak verwerplik is ook wanneer dit ‘n wysie en ritme het.
Dit wil lyk asof Bono vir tienduisendes ’n soort messias is van wie dit geheel en al ondenkbaar is dat hy ooit iets verkeerds kan sê of doen, sodat enige kritiek op hom heiligskennis is.
Ter illustrasie: Vanoggend gee die radiostasie Cape Talk ses U2-kaartjies weg. Soos met enige ander groot optrede word “comps” immers aan die media gegee; dis deel van die bemarkingsaksie. Die Cape Talk-omroeper reken toe dat, in plaas van om gewoon die kaartjies aan die eerste inbellers te gee of hulle dit deur ’n vasvra te laat wen, hy dit sal gee aan wie ook al die grootste geldskenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie doen. Hierop reageer ’n woedende luisteraar deur te sê dis skokkend dat “slegs rykes” ’n kans het om die kaartjies te kry. Dis immers gratis gegee. “Bono sou dit nooit goedgekeur het nie.” (Die etiek van “What would Bono do?”) Vreemd nè, dat Bono tot dusver geen beswaar aangeteken het teen die 60 000 aanhangers wat hul beursies so hard moes skut om sy konsert te kan bywoon nie. ’n Mens sou amper dink hy’s per ongeluk skatryk, teen sy sin! Miskien wil hy eintlik pro bono optree, maar verstaan hy die betekenis van dié uitdrukking net effe verkeerd?
Aan dié wat die konsert gaan kyk: geniet dit. Sommer baie. Maar moet tog asseblief nie die arme man aanbid nie. Dis ’n verleentheid vir alle betrokkenes.
Het ek U2-kaartjies? Nee, ek spaar vir Neil Diamond …
* Stuur ’n e-pos met die word “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare