Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Lank-lank gelede kyk mense ’n keer om hulle na “die son en maan, die aarde, sterre, wolke”. Hulle “sien die veld, die bosse, berge, vlaktes” en “hoor hoe fluister gras en stroom en wind” (Lied 464). Kyk net! “Daar’s vissies in die water; kyk hoe swem hul rond. Daar’s voëltjies in die lug en daar’s diere op die grond. Daar’s blomme op die velde en biesies in die vlei …” Glimlaggend konkludeer hulle, daar waar hulle veilig, gesond en gelukkig in harmonie feesvier: “Wie sou dit als gemaak het? Die Here dit is Hy!”

 

Naïef. Goedgelowig. Wanneer alles mooi, goed en lekker was (soos dit glo soms was), was dit rede om die “liewe Here” te loof, maar wanneer dinge verkeerd geloop het, ongemaklik, hartseer, pynlik, het hulle nooit gewonder waar die “liewe Here” nou skielik is nie. Laasgenoemde vraag is eers deur die vroeëmoderne filosoof Leibniz uitgedink. Sedertdien het die moderne mens toenemend bewus geraak van die ellende in die wêreld. Ons vind dit al hoe moeiliker om in ’n “liewe Here” te glo. Sommiges klou vas aan hul geloof, maar weet nie raad met die moeilike lydingsvraag wat hul kinderlike geloof so teister nie.

 

Kortom: Die “probleem van die kwaad” is ’n komplikasie wat nie deur gelowiges voorsien is totdat dit onder hul neus gedruk is nie. Geloof is soos ’n skynbaar aanneemlike hipotese (“Die liewe Here verklaar die mooi wêreld”) wat hom vasloop in vernietigende bewyse tot die teendeel (“Al ooit aan die kwaad gedink?”). Die “ontdekking” van boosheid vang die geloof onkant.

 

Dit herinner aan Plato se grot-gelykenis: In ’n donker grot sit mense, rug na die grot-opening, teen ’n muur en staar. Sonlig van buite projekteer dinge wat buite die grot verbybeweeg teen die muur. Die staarders dink hulle sien die regte wêreld. Eendag draai een om, gaan na buite en ontdek die regte wêreld. Hy hardloop terug om vir sy mense te vertel dat hul wêreldbeeld nogal verwronge is, maar niemand glo hom nie. Só maak blinkoog-gelowiges wanneer kritici hulle herinner dat alles nie rooskleurig is nie: “Hear no evil, see no evil, speak no evil.”

 

Die dapper “realis”, daarenteen, sien die werklikheid soos dit is en troos homself nie met sprokies nie (behalwe die een oor die grot).

 

’n Mooi storie, maar geen ware verhaal nie. Daar was nooit ’n “goeie, oue tyd” toe die lewe maklik en pynloos, en mense “salig onbewus” van gebrokenheid was, nie. Geloof in ’n “liewe Here” was nooit vanselfsprekend of natuurlik nie. Die meeste ou godsdienste het die werklikheid geskets as resultaat van kinderagtige gode se alewige getwis of, soos Plato, as slegte kopie van ’n volmaakte ideëryk.

 

Die eerste skeppingsverhaal in Genesis, oor hoe die wêreld uit God se hand kom en “baie goed” is, nes die Eksodus-vertelling oor Israel se uittog uit Egipte, is neergeskryf in en deur platgeslane Jode in ballingskap. Jesus se boodskap van sy Abba, Vader, onder wie se nabye heerskappy Gods kinders soos blommetjies en voëltjies geklee en gevoed word, is deur armes en randfigure aangeneem terwyl voorspoediges dit afgelag (maar tog veiligheidshalwe uitgedoof) het.

 

Jare gelede publiseer die Nederlandse kollektief Loesje ’n plakaat: “Wees stil en weet, er is geen God.” Só praat ’n samelewing wat alles het, maar nie kan ophou verbruik nie. Dis geen derdewêreld-plakaat nie.

 

Geloof in die “liewe Here” het ontkiem en oorleef in die hart van lydende mense. Die “probleem van die kwaad” was die begin van hul nadenke oor God, nie ’n terloopse nagedagte nie.

 

Wat het hulle dan besiel om van ’n “liewe Here” te praat?

 

Dis ‘n lang storie. Dit staan geskrywe.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

6 antwoorde op Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad

  1. HeavyHenry het gesĂȘ op Januarie 26, 2011

    Dit is alles tevergeefs…

    🙂

  2. Vetjan het gesĂȘ op Januarie 26, 2011

    amen

  3. oh my hare, ek is nie seker presies wat die ount is wat jy wil maak nie, maar as jy die duiwel as “verklaring” van die kwaad aandui, roep dit natuurlik die vraag op hoekom die duiwel, as hy bestaan, toegelaat word om te bestaan. Daaroor sou mens seker kon gesels, maar dit le op die vlak van die verdediging van geloof teenoor kritiek daarop vanuit die probleem van die kwaad. Wat ek eintlik wil betoog, is dat die probleem nie iets sekonders aan geloof is nie, maar eintlik die beginpunt van, die aanleiding tot, geloof.

  4. Ek verstaan oh my hare: Jy glo in die duiwel. Of liewer: DIE DUIWEL.

  5. Ag, ek trek sommer jou been. Die vraag bly altyd wat ‘n mens onder “die duiwel” verstaan. Jy sal seker met my saamstem dat hy (?) nie horings, hoewe en ‘n vurk het nie. Is hy ‘n persoon, soos God? Soos ons? Ek weet darem nie. Die dinge is altyd komplekser as wat ons dink. Die belangrike punt is, dink ek, dat die kwaad nie net iets is wat ons doen nie (dit ook), maar dat dit ‘n outonome mag is wat dinge aan, met en deur ons doen. En nog belangriker, soos jy se: dat dit in Christus oorwin is.

  6. Terloops, ek het vroeer al ‘n stukkie oor “ons ou vriend die Duiwel” geskryf wat jy by http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/praat-van-die-duiwel-15-Apr-2010 kan lees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.