My jongste bydrae in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:
(Dit sluit tematies by ‘n onlangse Kerkbode-rubriek aan)
Die skrywer Jan Rabie het ’n keer gesê hy het nie ’n vaderland nie, maar ’n moedertaal. Daarmee het hy patriotisme van die hand gewys. Volgens nog ’n skrywer, Oscar Wilde, is patriotisme “the virtue of the vicious”. Sameul Johnson beaam dit: “Patriotism is the last refuge of a scoundrel.”
Ek is geneig om saam te stem. In Suid-Afrika was die eerste vorm van patriotisme Britse imperialisme. Trou aan die koningin as simbool van die Britse ryk het die ywer aangevuur van diegene wat SA onder die Britse vlag wou kry en hou.
Die historiese figuur wat hierdie soort patriotisme in sy mees fanatiese vorm verpersoonlik het, was Alfred Milner, wat die Britse anneksasie van die Boere-republieke – met al die lyding en lewensverlies wat daardeur veroorsaak is – aggressief bevorder en in Brittanje verkoop het. Sy motiverings was suiwer patrioties: Die moontlikheid dat die Transvaalse republiek, danksy die ontdekking van goud in sy grondgebied, uiteindelik die Britte se Kaapkolonie as toonaangewende staat in die streek sou vervang, was vir hom heiligskennis.
Ná die verwoestende oorlog het Afrikaners se verset teen ’n “Suid-Afrikanisme” wat op lojaliteit aan die Britse kroon berus die vorm van Afrikanernasionalisme aangeneem – ’n alternatiewe patriotisme. Terselfdertyd het die swart weerstand teen die naoorlogse Unie-grondwet se weerhouding van stemreg van swartes mettertyd van ’n aandrang op gelyke Britse-onderdaanskap oorgeslaan na Afrika-nasionalisme: “Afrika vir die Afrikane!”. Nogmaals’n alternatiewe patriotisme.
In die latere periode toe Afrikaner-nasionalisme polities oorheersend geword het, was die stryd toenemend tussen dié nasionalisme en swart nasionalisme. Laasgenoemde gee sedert 1994 die toon aan, met die African National Congress stewig in die saal. Die oproep tot patriotisme, nasietrots en dergelike burgerlike “pligte” is lewenskragtiger as ooit. Dit hou onder meer in dat die land (en by implikasie die regering) se reputasie hoog gehou moet word – ook deur die media, wat daarom nie alte vrye teuels moet hê nie.
Daar is iets oudmodies aan hierdie soort nasiestaat-patriotisme waarvoor die meeste Suid-Afrikaners hoek, lyn en sinker val. In sy South Africa: The First Man, the Last Nation lig die politieke kommentator R.W. Johnson hierdie eienaardigheid uit: Die land waar die eerste lid van die spesie homo sapiens bes moontlik gebore is, is ook die land waar nasietrots sy laaste skuilplek vind. In die res van die wêreld, betoog Johnson, bestaan so iets nie meer nie.
Hy is waarskynlik reg hieroor, maar by hom hang dit vermoedelik saam met ’n spesifieke siening van hoe ’n post-nasionalistiese samelewing sou moet lyk: ’n samelewing wat op “rasionele” oorwegings soos die ekonomie berus. Regerings se taak is nie meer om nasies te bou nie, maar om ’n sakevriendelike omgewing te skep. Sou die SA regering hom daarop toespits, sou dit beter gaan, lyk Johnson te suggereer. Hoewel hy dus nasionalisme en patriotisme verwerp, glo hy – tipies liberaal – steeds in die moontlikheid van ’n goeie regering. Hieroor is ek skepties. Ek pleit vir iets radikaler: anargistiese.
Laat ek eers verduidelik hoekom ek teen nasionalisme is. Dis eintlik eenvoudig. Nasionalisme plaas die belange van die eie volk voorop: my eerste taak as patriot is om my land se belange te dien. Dit lei onvermydelik tot verhewigde konflik. Die selfverstaan van ’n nasie is immers intrinsiek uitsluitend: wie nie vir ons is nie, is teen ons, en word met agterdog bejeën. Verder lyk geweld ’n noodsaaklike voorwaarde vir volhoubare patriotisme te wees. Die Nazi’s het in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog verkondig dat oorlog goed is omdat dit die volk sterk en lewenskragtig hou, maar ook waar dit nie uitdruklik so gestel word nie, is die sentiment dikwels aanwesig. Eenheid in die volk word versterk deur ’n gedeelde vyand. As vrede te lank heers, raak mense verveeld met vlag swaai en patriotiese liedere sing.
Die opvolgende nasionalismes in SA illustreer dit mooi, al het hul pleitbesorgers hulself en andere probeer oortuig dat ’n vriendelike nasionalisme moontlik is. Britse imperialiste het geglo dis in ander volke se belang om by die Britse Ryk ingelyf te word. Volke wat weerstand gebied het, is as barbaars beskou. Die middel van geweld teen sulke groepe is deur die doel van insluiting in die Ryk geheilig. Die oogmerk was dat elke knie sal buig en elke tong bely dat die Britse nasie die grootste van alle nasies is. Koloniale oorloë is ook dikwels gebruik om patriotiese sentimente in Brittanje self’n hupstoot te gee.
Die Afrikanerweergawe van nasietrots is weer as Christelike nasionalisme verkoop. Nasionalisme, so is vroom betoog, kan lelik word as die eie volk verafgod word en homself ten koste van andere handhaaf (’n implisiete kritiek op Britse imperialisme). Christelike nasionalisme, daarenteen, gun aan elke volk sy regmatige plek, maar stel God eerste sodat verafgoding van die eie volk uitgesluit, en billike optrede teenoor ander volke vereis, word. Christene hoef dus nie skaam te vol oor hul nasietrots nie. Trouens, hulle is eintlik daartoe verplig! Afrikaners se nasionalistiese strewe is dus geregverdig, selfs al kos dit onmenslike wetgewing en brutaliteit. Immers, volkskap word ook aan ander bevolkingsgroepe gegun. Dis net as hulle “ons” reg op volkskap bedreig dat ons met die nodige kragdadigheid reageer, Daarvoor het ons Goddelike sanksie.
En in die nuwe SA? Behalwe dat haatspraak teen “verdagte” rasminderhede aan die orde van die dag is, juis uit die logika dat hierdie mense vermoedelik nie lojaal aan die nuwe nasie is nie, vier vreemdelingehaat ook hoogty. Immigrante uit ander Afrikalande hoort immers nie onder “ons” nie. Hulle moet teruggaan na waar hulle vandaan kom. Hulle steel “ons” werk, vry “ons” vrou af, bring dwelms en misdaad na ons land. Ons voel sterk en eensgesind wanneer ons hulle laat les opsê.
Nee wat, as die verskynsel van nasietrots uitsterf, sal ek nie ’n enkele traan stort nie. Hoe minder patriotisme, hoe beter.
Dit beteken nie dat ons tevrede kan terugsit sodra die regering sy kinderagtige nasionalisme agtergelaat en hom op die doeltreffende bestuur van ’n liberale demokrasie begin toespits nie. Daarin verskil ek met Johnson en kie, maar ook met Marxiste en ander linkses wat dink nasionalisme is in orde solank dit met sosialisme, eerder as kapitalisme, gepaard gaan. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek verkies ’n liberale demokrasie bo ondemokratiese regeringsvorme, en ek hel eerder na sosialisme as na kapitalisme oor. “Beter” is egter nog nie “goed” nie. Die ou cliché lui mos: Demokrasie is die slegste regeringsvorm … behalwe vir al die ander. Dis ’n cliché wat ons ernstig moet opneem. Om nog ’n cliché aan te haal: demokrasie vereis “eternal vigilance”.
Maar anargisme: gaan dit nie te ver nie? Veral in SA met sy sterk Christelike bevolking?
Hoewel Paulus se brief aan die Romeine (hoofstuk 13) dikwels aangehaal word om die noodsaak van ’n regering en “onderdanigheid aan die owerheid” te motiveer, word dikwels mis gekyk dat, in dieselfde brief, hy ook skryf (Rom. 8:38): “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie.” So asof hulle sou wil probeer! Die Griekse woord wat hier met “magte” vertaal word, is αρχαι (argai), waarvan die woord “anargisme” afgelei is. In Efesiërs 2:2 is weer die αρχοντα (argonta), die “vors” onder wie die gelowiges “tevore gewandel het”, maar waarvan hulle nou bevry is, aan die orde.
Wanneer Paulus dan in Romeine 13:4 skryf “die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil”, is die idee nie dat die owerheid ’n mak hond is wat gedwee sy meester gehoorsaam nie. Dit gaan juis om ’n relativering van die “magte” – soos wanneer in Jesaja 48 oor die Persiese heerser Kores gesê word dat hy JHWH se “dienskneg” is, “ook al ken hy [JHWH] nie”. JHWH gebruik Kores sonder laasgenoemde se medewete! Die magte is aan God ondergeskik; hulle het geen eie gesag nie.
Paulus skryf wel: “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie.” In die Nuwe Testament word hierdie stelling egter altyd gerelativeer. 1 Petrus 3:13 vra retories: “Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is?” Daarop volg egter: “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is …” Laasgenoemde bly altyd ’n moontlikheid. Die vroeë Christene het geen illusies oor die gevare en potensiële boosheid van politieke mag gehad nie. Hulle het dit in vervolging aan hul lyf gevoel. (Paulus is self tereggestel.)
Noam Chomsky definieer ’n anargis as “someone who distrusts government”. Let wel, nie “the government” nie, maar “government”, enige regering. Dit resoneer nogal met Bybelse sentimente. Anargiste in hierdie sin kan hulle sonder selfweerspreking vir (die behoud van) demokrasie beywer – omdat die alternatiewe erger is. Hulle sal egter geen blinkoog-vertroue in die demokratiese regeringsvorm hê nie, maar altyd waaksaam bly, aangesien hulle géén regering vertrou nie. Alle regerings is geneig tot magsmisbruik. Dit is goeie burgers se plig om daarvoor op hul hoede te bly. Nasionalisme en patriotisme is sleg, ja, maar om dit te besef is nie genoeg nie.
* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare