My jongste rubriek in die Kerkbode:
Op die vraag hoe ’n mens kan weet dat jy uitverkies is (en hier wil ek nie oor uitverkiesing skryf nie!), het die Gereformeerde skolastici (ook genoem die Ortodoksie) van ná die Reformasie geantwoord met die syllogismus practicus et mysticus: As jy in jouself ’n al hoe heiliger lewenswyse (practicus) en ’n ware geloof (mysticus) bemerk, kan jy daaruit logies aflei (syllogismus) dat jy uitverkies is, want genadige uitverkiesing is sowel ’n noodsaaklike as ’n voldoende voorwaarde vir geloof en heiliging.
Dis een van die minder gelukkige voorstellings uit ons erfenis – nie net omdat dit die gelowige se aandag op sy eie innerlike lewe, eerder as op Christus, rig nie, maar ook omdat dit ’n antwoord aanbied wat dieselfde vraag net op ’n ander manier weer oproep – en daarmee is die vertwyfeling terug: As ek glo, kan ek weet ek is uitverkies (so lui die argument), maar hoe weet ek of ek glo? Glo ek regtig?
In sy Hanna’s Child: A Theologian’s Memoir skryf die beroemde Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas dat God nie vir hom, soos vir sommige ander Christene, “there” is nie. Hy sukkel ook maar met bid, erken hy, want hy is (helaas) “a card-carrying citizen of ‘our age’”, die beliggaming van “world”.
“I certainly count myself a Christian,” skryf hy, maar huiwer dan: “more accurately, I have friends who count me as a Christian.” In dieselfde toonaard: “I believe what I write, or rather, by writing I learn to believe.” En dan weer: “I live most of my life as if God does not exist.”
Miskien is laasgenoemde opmerking dié sleutel tot wat Hauerwas bedoel. Vir “belief”, sê hy, het hy nie veel tyd nie, want: “‘Belief’ implies propositions about which you get to make up your mind before you know the work they are meant to do … I am far more interested in what a declaration of belief entails for how I live my life.”
Dit gaan in geloof dus nie primêr oor die stelligheid van ’n mens se opinies of die intensiteit van jou geestelike ervarings nie (ook religieus gestremdes kan glo!), maar oor “a life (that) is unintelligible if the God we Christians worship does not exist”. Om te glo is om op ’n sekere manier te lééf.
Dit beteken nie werke word bo geloof geplaas nie. Daar is eerder ’n verstengeldheid van leef en glo, met die een wat deurgaans die ander oproep en aktiveer. En dis nie iets om op te roem nie – eerstens omdat “I am such a beginner when it comes to knowing how to be a Christian”, en tweedens omdat dit nie oor my en my “projek” gaan nie, maar oor “the friends who have made me who I am” en “the God who has forced me to be who I am”.
As “die beste teoloog in Amerika” (volgens die tydskrif Time, tot Hauerwas se verleentheid) só praat, kan dit tot troos wees vir mense wie se syllogismus, nes Hauerwas s’n, nie noodwendig ’n positiewe konklusie oplewer as dit by die premisses van practicus en mysticus begin nie. Geloof is nie van ons nie, maar van God.
Die Nederlandse teoloog Bram van de Beek het, in sy onlangse preek by die begrafnis van sy Stellenbosse vakgenoot Flip Theron, vertel hoe Theron intens besig gehou is deur die ontdekking dat van die Bybeltekste wat gewoonlik as “die geloof ín Christus” vertaal is, meer akkuraat as “die geloof ván Christus” weergegee kan word. Wat ons nie kan doen nie, het Hy vír ons gedoen, en doen Hy ook ín ons.
Miskien is geloof nie om seker te wees dát nie, maar om te leef asóf. Of eerder: om te probéér leef asof. Of om daartoe genóóp te voel om te probeer leef asof.
Of so iets …
* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare