Van blou en groen stormramme

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Soos enige regdenkende mens sou verwag, het die Bulle toe vernietigend oor die Stormers gestorm. Maar al was dit voorspelbaar, was dit tog mooi om te sien. Beter rugby was daar nog nooit nie, en Fourie du Preez in die besonder het sy beste wedstryd tot nog toe gehad – wat nogal iets is. Na regte moes hy speler van die wedstryd gewees het, maar dit was hy al soveel keer dat ek verstaan hoekom die eer toe aan François Hougart gegee is. Dis duidelik dat hy (Hougart) sterk op pad is om die voormalige Blou Bul Bryan Habana, wat die enigste regte drie aan die Stormers-kant gedruk het (January se poging, al het die “blinne referee” dit toegeken, was net so min ’n drie soos Schalk Suur Druiwe Burger se mislukte traai), se skoene vol te staan.

Die besonderse atmosfeer in Soweto was ook, sover ‘n mens oor die TV kon agterkom, iets om te beleef. As ek die Leeus se bestuur was (ek is ontsettend dankbaar ek is nie), sou ek Ellispark toegemaak en voortaan die Sowetoveld as tuisveld benut. Maar nou ja, niks sal daardie arme span seker op sy voete kan bring nie.

Daar ís iets wat meer vreugde verskaf as die Stormers se lyding en vernedering: die feit dat die Australiërs en Nieu-Seelanders droëbek van die spreekwoordelike kantlyn die manjifieke rugbyskouspel moes aanskou. Dis nou oor en oor bevestig dat dit nie toeval is dat nie een van hulle met die Wêreldbekertoernooi die finaal gehaal het nie. Hulle is gewoon nie goed genoeg nie. Met die korps spelers wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, kan Peter de Villiers (in wie ek, soos van die begin af, groot vertroue stel) maklik twee Springbokspanne kies wat die komende Wêreldbeker kan wen. En gaan dit nie lekker wees om die All Blacks in hul eie land weer eens van daardie beker te weerhou nie!

Mag die beste span (niemand twyfel nou meer watter span dit is nie) net aanhou wen en wen!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

5 antwoorde op Van blou en groen stormramme

  1. paulkloppers het gesê op Mei 31, 2010

    Dis altyd ‘n besondere iets as 2 SA spanne so speel. Dit was goeie rugby – jy het gelyk. En ek dink dit gebeur op die regte tyd. Vat hierdie momentum in die 3-nasies in en bestuur dan die WB-groep se speeltyd oordeelkundig, dan kan ek nie sien hoekom ons nie die WB kan verdedig nie.

    Ek is egter meer bekommerd oor die manne Down Under as die Ka Mates. Hulle kan amok maak volgende jaar.

  2. gerritbrand het gesê op Mei 31, 2010

    Die lekker ding is juis dat ons eintlik twee Springbokspanne kan he sodat selfs sleutelspelers genoeg rustyd ook kan kry, wat dan weer beteken minder beserings en meer energieke spel.

  3. gerritbrand het gesê op Mei 31, 2010

    Waar val jy uit, kammakazi? Daai ref was, behalwe totaal verdwaal, nog aan die Stormers se kant ook, en nie eers dit het gehelp nie. Die lynregters moes hom op oortredings (deur die Stormers) wys wat voor sy oe gebeur het, en hy het ten minste twee aanslane (deur die Stormers), weer eens voor sy oe, geignoreer. En dan het hy nog ‘n drie wat nie ‘n drie was nie ook toegeken.

  4. paulkloppers het gesê op Mei 31, 2010

    Kammakazi, ek dink daar was baie beslissings wat vreemd was (beide kante toe). Daar was byvoorbeeld ‘n aangee van die Stormers wat glad nie eers flat gelyk het nie, maar geblaas is as vorentoe. Ek moet ook noem dat die Stormers se lyn op verdediging onkant was en dat hulle baie kere oor die bal geval het en dus die Bulls verhoed het om vinnige bal te kry.

    January (P Louw aldus SARU) se drie is ook onder verdenking (die doellyn is ook net so breed soos dit is).

    Dis vir my moeilik om kommentaar te lewer oor die ref se (on)partydigheid. Die Bulls het meer klinies gespeel. Om te wen moes die Stormers domineer in die kontaksituasie en die bal vinniger versprei, en ook besit behou. Dis wat die Blues en die Reds gedoen het.

  5. gerritbrand het gesê op Junie 1, 2010

    WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Selfs ek wat ‘n Stormers ondersteuner is en daarby bykans heeltemal blind, kon sien daai was g’n traai nie! Maar nou ja, “ons” het gewen in Orlando!”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.